Elkeen se pad lyk anders en my ‘normaal’ is aanvaarbaar

Karin Venter skryf: 

Foto: Pixabay

Ek sukkel al ’n rukkie om woorde te vind vir my huidige dilemma, of ten minste ’n deeltjie daarvan. Dit is iets waaroor ek baie sterk voel, maar versigtig wil bewoord omdat dit ’n sensitiewe onderwerp kan wees.

Die beste hoe ek dit kan opsom, is “nuuskierigheid teenoor belangstelling teenoor persepsie”.

Om dit te verduidelik, het ek nodig om doodeerlik te wees. Eerstens met myself en tweedens met elkeen wat hier lees en móét lees. Dus, kom ek val met die deur in die huis.

Ek is ’n Afrikaanse dame, 39 jaar oud en ongetroud. Nie geskei nie, want dit blyk deesdae meer aanvaarbaar te wees. Nee, nog nooit getroud nie. Alhoewel dit ’n beproewing én ’n seën kan wees, is dit die konteks waarin “ongetroud” gesien word, wat swaar op my hart druk.

Wanneer ek mense teëkom wat ek lanklaas gesien het, is daar altyd die gewone praatjies soos “Hoe gaan dit?”, “Wat maak jy deesdae?”, “Bly jy nog in X?”. “Werk jy nog by Y?” Julle weet, die gewone dinge. Maar dan begin die vrae interessant raak, gewoonlik gekoppel aan die ouderdom van die ondervraer. Tannies uit my tuisdorp of -gemeente waar my ouers nog is, mense saam met wie ek in die verlede gekamp het en weer raakloop, oudkollegas of vergete kennisse saam met wie ek studeer het. Die vrae wissel gewoonlik.

“Nou wanneer trou jy?” (uhm, ek weet nog nie, maar as jy voor my uitvind, laat weet my dat ek kan opdaag.)

“Het jy nou nog nie ’n ordentlike man raakgeloop om mee te trou nie of is jy net moeilik?” (Nee, ek is sommer net moeilik. Nee wag, ek is die definisie van moeilik.)

“Gee bietjie daai hand hier dat ek kan sien?” Wat!? Nog geen ring nie?” (Nee, ek sal eers trou as die kinders daarop begin aandring.)

“Is jy darem nou al getroud? Nie? Maar stel jy dan belang in mans?” (Hier haal ek gewoonlik diep asem en probeer om nie my gedagtes op my voorkop te verklap nie.)

Soms weet ek nie wie is meer verbaas nie. Die ondervraer wat nie kan verstaan hoe ’n mens tot op 39-jarige ouderdom kan oorleef sonder om te trou nie of ék wat dikwels te verslae is om ordentlik te antwoord sonder om die uitdrukking op my gesig in woorde om te sit nie. Ek byt dus meestal net op my tande en het al selfs net omgedraai en geloop.

My pa en ’n oom in die tuisgemeente se raad is: “Man, Karie, as iemand nou weer vir jou vra, dan sê jy jou man is seker nog getroud”.

Want hoe antwoord mens nou so iets?

Ek verstaan party mense wonder werklik hoe ek nog nooit tot trou gekom het nie en oorweeg dalk sterk intervensie. Ander weer dink regtig ek is ’n gawe mens en “verdien” ’n maatjie. Party wil net hul eie nuuskierigheid bevredig en dink nie eens daaraan hoe onsensitief die manier van vra is nie.

Ja, die maníér van vra. Want in ons Afrikaanse kultuur is dit moeilik om iemand mis te kyk wat nie in jóú prentjie van die lewe inpas nie. Jóú persepsie van hoe die lewe geleef moet word nie… Iemand wat op die leerlingraad dien, daarna gaan studeer en ’n man op kampus ontmoet. Iemand wat ná drie jaar se verlowing trou en nog so twee jaar voor die eersteling arriveer. En mense wat nie lank ná die eersteling vra wanneer nommer twee dan gaan arriveer. En as jy nou drie of meer kinders het, vra die mense weer wanneer jy beplan om te stop.

Wat van paartjies wat nie kinders kán hê nie? Het iemand al gedink voor hulle vra, “Nou wanneer begin julle met ‘n gesin?”.

Die laaste vraag waaroor ek my al bloedig vererg het, was: “Nou hoekom is jy nog nie getroud nie?”. Reg in die middel van ’n gesprek wat nie oor mans of trou gegaan het nie. Ek sou dit dalk beter kon hanteer as ek nie met my broer se dogtertjie van agt in die hand gestaan het nie. Ek het maar glimlag en toe net omgedraai en geloop. Die persoon was heel verbaas en het my agterna geroep. Ek het aanhou stap met Sussie nog aan die hand en oor my skouer gevra: “Hoe wil jy hê moet ek dit antwoord?”.

Wat ek eintlik wou sê, is die volgende:

“Jy sien, Oom, ek is by ’n sosiale geleentheid, totaal ontspanne, totaal onvoorbereid vir die hou van die kant af, en dan vra jy my voor ’n klein dogtertjie wie se ore niks mis nie. Sy weet nie dat jy eintlik goed bedoel het, of ’n grappie probeer maak het nie of dit selfs as ’n (vreemde) kompliment bedoel het nie. Maar dis toevallig dieselfde klein dogtertjie wat ’n week tevore baie ernstig vir my gevra het: ‘Karie, hoekom het jy nog nie ’n man nie?’ ”

Ek het haar en haar sussies mooi verduidelik hoe dit werk en dat die Here vir jou ’n man stuur. Dat ons in geloof wag vir Hom, vir Sy tyd. Haar vraag was opreg en ek kon sien sy wonder regtig hieroor. Sy wil ook graag ’n nefie of niggie hê, maar haar bedoeling was opreg.

Wat my vies gemaak het oor die man wat so reguit was, was dat Sussie ook gehoor het. Ons fabriseer die persepsies van hoe kinders dink die lewe moet lyk en forseer dit onwetend op hulle af. Die persepsie? Dat dit abnormaal is om so lank ongetroud te wees. Of dat dit totaal onaanvaarbaar is om dalk nooit te trou nie. Dat jou lewe moet lyk soos ander se “perfekte” paadjies.

Wat gebeur dan as ’n kind se lewe anders verloop? Of as kinders uit ’n kinderhuis hul lewe probeer vergelyk met die definisie van “normaal”? Was hulle dan ’n mislukking as hulle op 30 nog nie getroud is nie? Het Sussie se tannie dan misluk?

“Nee, Oom, ek het nie misluk nie, want die antwoord op jou vraag sal die agtjarige Sussie na dese kan antwoord: ‘Wanneer die Here wil. Op Sy tyd’.”

Smag ek na die gewone dinge wat elke ander mens skynbaar het? Ja. Wil ek net trou omdat trou trou is? Nee. Moet ek nou ophou lewe omdat ek nie ’n maat het nie? Beslis nie!

Ek wil die Here eer deur my keuses en lewe en hoe ek die pad stap. As Hy my nog nie geseën het met ’n man na Sy hart nie, wie is ek om daarna te gryp? Wat as dit dalk glad nie sy plan vir my is nie? Wie is jy om my ongeërg te vra waarom ek nog nie getroud is nie? Weet jy dan nie hoe fyn God ons elkeen se lewe beplan en uitgewerk het nie?

Verstaan ek dit? Nie altyd nie. Is dit soms moeilik om te aanvaar? Ja. Maar moet ek nou my asem ophou en op die rak gaan sit omdat my lewe skynbaar abnormaal is? Natuurlik nie.

Net soos die paartjie wat dalk nie self kinders kan hê nie. Mens weet nie wat in hul harte aangaan nie en watter stryd hulle dalk het om in geloof te bly vasklou aan God se plan vir hul lewe nie.

Dus, vra gerus jou vrae. Vra my of ek al iemand spesiaal ontmoet het. Vra ’n getroude paartjie of hulle ’n gesin beplan. Of vra ’n weduwee ná ’n maand hoe dit met haar gaan. Maar vra omdat jy omgee. Vra met liefde en wees bereid om te luister en nie omdat jy net nuuskierig is nie.

Miskien moes ek tot hier kom om die wêreld te vertel dat God se pad vir ons elkeen anders lyk. Miskien moes ek dit uitskree dat ons moet ophou om “normaal” af te dwing op ons seuns en dogters. Miskien sal daar dan minder mislukte huwelike en gebroke mense en veral kinders rondloop. Miskien moet ek as voorbeeld leef sodat jongmense (en klein dogtertjies) kan sien jy het nie ’n ongelukkige verhouding nodig om ’n sukses as mens te wees nie. Sommige dae is meer bitter as soet, maar die teendeel lê daarin dat ek dalk net iemand “normaal” kan help voel. Dít is meer soet as bitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

charmaine ·

Ek stem ons is te geneig om dinge te doen wat die samelewing van ons verwag. Verloof raak, troue kinders kry.
Jy het glad nie nodig om te trou of kinders te he nie dit bly n persoonlike besluit en jy het nie nodig om aan enige iemand te verduidelik nie of “skuldig” te voel nie. En wat nog meer irreterend is as die kinders nou getroud is en van familie se kant af is daar nou druk vir kleinkinders, dit is ook iets wat die Here sal gee op die regte tyd. My mond het oopgehang by n geleentheid toe die ouma vir haar klein dogter en man se, as ek julle weer sien moet daar 3 wees!! REGTIG! En sy sien hulle gewoonlike elke naweek onnodige druk!

Anne ·

Ek is self 32 en ongetroud en kry gereeld dieselfde vraag. As ek maar net weet wat God se plan vir my lewe was kon ek dalk die vrae beantwoord en my lewe baie minder onseker wees….
Maar jou stukkie laat my dink, is ander mense se persepsies van geluk en die regte huwelik nie ook die rede hoekom ek nog ongetroud is nie? Gee mens nie te veel om oor wat ander mense dink as oor jou eie geluk nie. Moet ek dan juis trou met n geskikte persoon (aanvaarbaar vir ander), wat my ongelukkig maak? Of besluit mens wat vir jouself belangrik is en bou jou geluk daarom?
Die lewe is moeilik en vol keuses en ek dink ek mis God se stem baie, maar ek bly glo dat Hy my ken, my geken het voor my geboorte nog en dat as dit beskore is, ek die ideale lewensmaat gaan trou. Een deur Hom uitgesoek vir my, ongeag die mense om my se persepsie van n “normale huwelik”.
Karin, jy het my nuwe perspektief gegee, dankie! En sterkte vir jou, geniet die lewe intussen voluit!! Jy is n pragtige voorbeeld vir jou susterkind.

charmaine ·

Ek stem saam met jou Anne en die van ons wat al jare getroud is, is ons “normal”? Nee ons is nie. Te veel dinge en ongelukkigheid wat soms daarmee saam gaan. Elkeen, en veral in die eeu wat ons leef is dit beter om te wag of net jou lewe te geniet met of sonder n troupand en huweliksertifikaat.

Destarte ·

Ek dink dit is ‘n briljante skrywe, en jy het baie duidelik diep uitgehaal wat jy so openlik gedeel het.
Ek kan nogal insien en saamstem met wat jy skryf en hoe jy dink.
Ek is op 30 eers getroud, en na 7 jaar is ek en my vrou steeds gelukkig, sonder kinders.

Ek het al menig male vir my vrou gesê, die mensDOM dink dit is vanselfsprekend, verloof, trou, kinders. Anders kry jy gereeld vraagteken gesigte. As ons moes voldoen aan die norm van die samelewing se denkwyse, moes ons na 2 jaar reeds ‘n kind gehad het. Dit, sou egter enorme druk op ons huwelik geplaas het, wat dalk, al dit dit ten stengste teen my geloof, tot egskeiding kon dryf weens ons beide se werksverwagtinge.

En dit, sou net wéér na ‘n klomp wêreldse vrae en opinies gelei het.

Meer mense moet begin om hulle self by hul eie lewens te bepaal, en ophou om in ‘n raamwerk te probeer leef waarvolgens ons grootgemaak is, geindoktrineerd is.

Jou siening van sukses en my siening van sukses gaan en mag verskil.

Behou die soet.

Traveltheworld ·

As ek nie van beter geweet het nie is dit dalk my man wat hierdie geskryf het, want ons storie is presies soos julle sin.

Op 30 getroud, 6 jaar later wil ons nogsteeds nie kinders he nie,ons albei het loopbane wat ons gereeld laat reis en ons hond laat ons alreeds skuldig voel plus dalk is ek net gatvol vir nog verantwoordelikheid (oudste van 3), ek weet my ma wil graag n kleinkind he en ek word heeltyd as selfsugtig gesien en dit pla mens soms so en haar vriendinne het ook heeltyd n eier te le……. dink party mense het in vandag se besige lewe nogsteeds te veel tyd lyk dit my om oor ander se lewens te worry.

Ons Afrikaners is soms so short sighted en besef nie hoe groot wereld daar buite is nie en dat mens enigeiets kan wees wat jou gelukkig maak…..almal se idee van geluk is nie altyd trou, klomp kinders he nie, sommige mense wil die wereld sien en elke paar jaar op n ander plek bly dit gee hulle purpose en genot, wens mense kan net mense se keuses begin respekteer……

Saartjie ·

Baie dankie, Karin! ‘n Lekkerlagstorie uit my eie lewe was die dag toe ‘n kennis uit ons grootworddorp my suster raakloop en uitvra oor verskeie lede van die familie. Teen die tyd dat my suster die derde persoon noem wat, nou al diep in die 30, ‘nog nie’ getroud is nie, vra die kennis: ‘Maar loop dit dan in die famile?’ ‘n Hartseerstorie, daarenteen, was ‘n vriendin wat my jare gelede vertel van haar niggie se man wat sy vrou tydens ‘n argument so ‘n geweldige harde hou teen die kant van haar kop gee dat daar bloed by haar oor uitgekom het. In stilte luister ek, dankbaar dat my lewe, in teenstelling, so positief en ryk en vol liefde is. En, voeg die vriendin by, (die niggie) het ook na jou verneem, en haar jammerte uitgespreek omdat jy nog nie iemand raakgeloop het nie!

jinny jualinda ·

Om te trou is soos om nog iets op jou lysie af te merk, so glo die meeste siele. Ek ken heelwat gevalle waar meisies paniekerig geraak het as hulle op 26 nog nie n vaste kys gehad het nie. Sien jy moet nog n jaar of wat bytel vir die verlowing en troue, en so is jy ‘stokoud’ as jy voor die kansel te lande kom. Wie wil nou grys en vol plooie wees op jou mooiste dag. Maar haastige hond verbrand sy mond, so is daar baie wat my ouderdom is wat al geskei is. Huwelike is harde werk en jy moet bereid wees om alles te deel, tot jou tandeborsel. Dus as jy voel jy is nie gereed om jou tandeborsel met iemand te deel nie, wag dan tot die regte persoon opdaag. Baie jong mense is nog selfsugtig as hulle die dag trou, en dan knor dit. Maar as jy van die begin af jou siels maatjie ontmoet, go for it, jy sal in jou hart weet as dit die regte keuse is. En as jy op 50 steeds vir jou maatjie wag, wees geduldig, elke pot kry sy deksel. As jy voel jy is n pot wat nie gedeksel wil word nie, is dit reg.

Eclectus ·

Kom ek takel hierdie byenes met ‘n besemstok. Die Here gaan nie vir jou ‘n man gee nie. Wat Hy reeds vir jou gegee het is ‘n vrye wil. Paulus het gesê elkeen moet sy eie heil uitwerk, so jy kan glo wat jy wil, maar ek is nogal keelvol vir fatalisme. God het Kanaän aan die Israeliete belowe, maar hulle moes daarvoor werk. Eers moes hulle 40 jaar swerf deur ander mense se gebiede weens hulle ongeloof, mense wat hulle aangeval het en hulle moes hulleself leer verdedig wat van hulle gedugte krygers gemaak het. Toe die groot dag aanbreek moes die priesters met die ark letterlik in die vloedwater van die Jordaan inloop vóórdat die water gestop het. Hulle moes die inwoners aanval en hulle grond vat. Toe hulle na vyf jaar kla vir nog grond sê Josua hulle moet ontbos. Die Here het niks vir hulle sommer net gegee nie. Wil jy ‘n man hê? Posisioneer jouself om een te ontmoet en kiés dan wyslik. Die twee verbeeldinglooste huwelike wat ek ken is mense wat gesê het “dis God se wil”. DIXI !!!

Wessel ·

Paulus het gese: “As jy getroud is, moenie losmaking soek nie. As jy nie getroud is nie, moenie ‘n vrou soek nie”

Beverley ·

Baie dankie Karin vir die raak-vat rubriek! Dit kon net sowel my eie storie gewees het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.