Foto’s: Ons Franse kasteel het begin by ’n droom

Jakob van ouds het wel ook ’n leer in sy droom gehad, maar ek twyfel sterk dat dit van aluminium gemaak was en met ’n klomp verfspatsels op elke sport, skryf Sunita. (Foto: Verskaf.)

Deur Sunita McDonald

’n Franse gesegde lui: Tout commence par un rêve – alles begin met ’n droom. Ek kan getuig dat ’n droom die wegspringplek vir baie avonture is!

Soveel mense het onlangs vir my boodskappe gestuur om te sê dat ons restourasiereis hul lewensdroom is. Ek vermoed egter dat nie baie mense se drome hammers, ’n saag of twee, ’n klein arsenaal verfkwaste en ’n leer insluit nie. Jakob van ouds het wel ook ’n leer in sy droom gehad, maar ek twyfel sterk dat dit van aluminium gemaak was en met ’n klomp verfspatsels op elke sport!

Aanvanklik besef ’n mens nie hoeveel keer jy daardie leer gaan klim, hoeveel emmers water jy gaan aandra, hoeveel keer jy sand gaan meng of hoeveel stukke muurpapier jy gaan afskraap met moeë arms nie. Vir party mense is so iets ’n nagmerrie, maar vir ons is dit die stelselmatige verwesenliking van ’n droom.

Vir ons kinders is dit ook hemel op aarde en hulle gryp elke geleentheid aan om deel te neem aan die metamorfose wat die kasteel daagliks ondergaan. Hierdie week het hulle onder die wakende oog van die volwassenes, elkeen ’n kans gekry om ’n stukkie pleister van die mure te verwyder met ’n elektriese beitel. Dis natuurlik vet pret vir my seuns om sulke kragtige gereedskap te hanteer!

Agter die verslete muurpapier en pleister moes die ou klipmure plek-plek ingevul word en die herstelproses was waarlik ’n spanpoging. Al daardie vindingrykheid met verskillende legkaarte wat die kinders van kleins af gebou het, het nou handig te pas gekom – hulle het die tuin met arendsoë gefynkam, op soek na die perfekte klippe.  Ons het ’n vriend se talente benut vir die invulproses en hy het die klippe inmekaar gepas soos ’n gesoute Tetris-speler.

(Foto: Verskaf.)

Aan die linkerkant van hierdie spesifieke muur in die sitkamer het ons nog ’n versteekte kas onder die lae muurpapier ontdek. Die deure het beslis beter dae geken en daarom het ons dit verwyder en slegs die ou houtrakke in die muur gelaat om as ’n rustieke boekrak te dien. Die geheime kas wat ons egter vroeër in die eetkamer ontdek het, gaan ons opknap om weer as ’n kas te kan benut… of miskien as ’n fantastiese wegkruipplek!

Die werk binne die huis is tydelik onderbreek om plek te maak vir ander prioriteite, nadat ons splinternuwe grassnoeier oornag uit een van die buitegeboue gesteel is. Ons het aan die werk gespring om sekuriteit te verbeter met ’n tydelike hek aan die einde van die rylaan om verdere ongewenste besoekers uit te hou.

Ons het egter ook ’n ander onverwagte, maar welkome besoeker gehad. Tydens die werk aan die hekke is ek een middag geroep om te sê daar is ’n man wat die eienaars wil sien. Ek het hom op die lang rylaan tegemoet gestap en hy het homself voorgestel. Sy familie woon blykbaar al vyf eeue in die omgewing en sy oupa was vriende met die Sarrieu-susters wat in die laat 1800’s en vroeë 1900’s in die kasteel gewoon het.

Ons het lekker gesels oor die geskiedenis van die huis en die dorpie en hy het gesê dat dit wonderlik is om te sien dat iemand weer lewe in die ou plek kom blaas. Hy het ook bevestig dat die kasteel vir ongeveer 30 jaar verlate en onbewoond was.

(Foto: Verskaf.)

Later die middag het hy teruggekom met ou foto’s van die dorp en ook ’n ou poskaart van Château de Capelle wat hy aan ons geskenk het. Voorwaar ’n kosbare stukkie geskiedenis – ons is geraak deur die inwoners se entoesiasme vir ons projek.

Die teleurstellende nuus wat hy gedeel het, is dat die gebou wat die ou argiewe gehuisves het, afgebrand het in 1944. Ek het gehoop om ná die grendeltyd meer inligting oor die kasteel van die dorpsargiewe te verkry, maar dit blyk nou ’n doodloopstraat te wees. Ek hoop dat van die ouer inwoners uiteindelik vorendag sal kom met nog brokkies inligting aangaande die kasteel.

Inligting kom egter uit verskeie bronne en die man wat kom kwoteer het vir sonpanele, is toevallig ook ’n kenner van historiese argitektuur. Blykbaar dui die breedte van die dakbalke en die feit dat dit gepleister was daarop, dat dit eens die woning van ’n belangrike persoon uit die adelstand was. Ons het ook lank gewonder oor die betekenis van “capelle” of “capele” – deur die eeue is die kasteel se naam op beide maniere geskryf. Volgens die man beteken dit “kapel” in Occitan, wat die historiese taal in die suide van Frankryk was.

(Foto: Verskaf.)

Ons het ook verlede week ’n besoek van die gesondheidsinspekteur gehad en hy het bevestig  dat die installasie van die pypwerk en septiese tenk aan die vereiste regulasies voldoen. Dit was ’n groot mylpaal vir ons (een van die grootste uitgawes op ons begroting) en sluit werk aan die badkamers uit.  Ons het dadelik die badkamer in die woonstel begin teël en die ander badkamers in die hoofhuis kan ook nou vordering begin maak.

Die vordering is nie altyd sigbaar aan die einde van ’n dag nie. Van die werk wat ons nou insit, sal eers oor ’n paar weke ’n verandering bring. Dis miskien hoekom ons mini-potager (klein Franse kombuistuin) wat ons ’n paar weke gelede geplant het, my sal laat moed skep wanneer daar ’n klein soetrissie begin groei of die tamatieplantjies begin blom. Dit herinner my dat harde werk wel vrug dra, selfs al sien ’n mens nie dadelik die resultaat nie.

In die aande wanneer die ou bome in die tuin lang skadu’s begin trek, skink ons soms ’n glasie Franse wyn en tob oor die dag se swoeg en sweet. Ten spyte van klein irritasies (soos die snoeier wat voete gekry het) is hierdie ’n avontuur en uitdaging waarvan ons elke oomblik geniet.

As jou drome ook ’n leer of twee insluit, jaag dit na! Lere reik hemelwaarts en elke tree is ’n stappie nader aan jou eie hemel op aarde.

En as jy jou hande op ’n bottel wyn kon kry agter die grendelgordyn, klink ’n glasie saam met ons op die verwesenliking van drome. Moet nooit ophou droom nie!

À votre santé!

  • Die rubriek het oorspronklik in die tydskrif Rooi Rose en op hul webwerf verskyn en word nou op Maroela Media voortgesit. – RED

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

chateaudecapelle ·

Ja verseker! Sal elke twee weke op Maroela vordering Kan sien :)

chateaudecapelle ·

Nog kom :) Elke twee weke, so hou ‘n ogie op Maroela Media!

Robert ·

Inspirasie, in al haar vorme is noodsaaklik. Dankie dat jy jou storie deel!!!

chateaudecapelle ·

Baie dankie aan al die lesers wat ons aanmoedig!

Vonnie ·

Oooeee wat n droom. Sal enige tyd in so n ou plek bly. Dit lyk uitsonderlik!

chateaudecapelle ·

Dit is ‘n wonderlike plek en ons is verlief op dit! Kom kuier, ek is uitgehonger vir Suid Afrikaanse geselskap :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.