Kalwerliefde en al die nadraaie

Argieffoto (Foto: Nietjuh/Pixabay)

Kalwerliefde: ‘n Uitdrukking of beskrywing van ‘n opwindende, innerlike hartsgevoelendheid tydens ‘n kind se grootwordjare. Die beginpunt, of sê maar ontwaking, kan nie regtig vasgepen word nie, maar meestal eindig die kalwerliefde in die ware hartsliefde wat twee mense lewenslange trou aan mekaar laat sweer. Vir “botter of vir wors”, het die oumense gesê, om die Engelse for better or for worse ‘n bietjie sêbaarder te maak.

Ek onthou nog so goed: Dit was ondenkbaar om my sussie te soen want sy en alle ander meisiekinders het kieme gehad. Hulle moes ten alle koste vermy word! Later het dit gelukkig verander, hoewel dit nie gemaak het dat ek my sussie graag gesoen het nie. Wat ek ook nog goed onthou, is dat my sussie nie eintlik mooier geword het nie, maar dat ander maters se sussies nogal mooi begin raak het. Nog so ‘n paar jaar later het ek ook agtergekom dat hulle nie regtig kieme had nie.

Dit het alles doerie jare op Laerskool Kaapmuiden se speelterrein begin. Dit was ‘n wonderlike plaasskool, maar met min speelplek, en daarom het seuns en dogters sáám gespeel – en dit was lekker! So met die spelery het ons agtergekom dat dit lekkerder is om saam met jou maters se sussies te speel, as met jou eie. Ja, en hulle was ook mooier as jou sussie! Dit was egter ‘n heimlike bewondering en niemand was veronderstel om daarvan te weet nie.

Die spelery was ‘n lekkerte! As dit jou beurt was om spanlede te kies, het jy eerste die spesiale meisie gekies om seker te maak niemand anders kies haar nie. Dit was ‘n onskuldige spelery en oogkontak was genoeg om harte te laat bons. Later was daar tóg behoefte om van nader kennis te maak, al was dit net om naby mekaar te wees. Daar moes plan gemaak word en Wegkruipertjie speel het dit moontlik gemaak! Daar is vooraf gereël om op ‘n geheime plek saam weg te kruip. En daar het ons naby mekaar gesit en fluisterend oor koeitjies en kalfies gesels en per ongeluk aan mekaar geraak sodat ‘n vonkie kon spat. Ons het nie regtig geweet waarom nie, maar ons het geweet dit was lekker.

Dié van ons wat broers of susters in die hoërskool gehad het, het verneem van ‘n (verbode) kysery. Ek was in standerd vyf toe die huis-toe-gaan-klok gelui het en ek blitsvinnig ‘n briefie in ‘n blinkoogmeisie se hand gedruk het. In my mooiste handskrif was dit ‘n kort, saaklike briefie: “Ek hou baie van jou! Hou jy ok van my?”

Wanneer sy dit gedoen het, wis ek nie, maar die volgende oggend was ‘n toegeplakte koevert in my leesboek. Agter op die koevert het sy in sierletters, so al op die gomlagie langs S.W.A.N.K. geskryf. Dit het my hart laat bons want grootmense het spoggerige ouens as swankie beskryf. Ek het eers later op hoërskool agtergekom dit beteken Sealed With A Nice Kiss.

Ek het op my benoudste gelyk toe ek vir Meneer gevra het of ek die kamer mag verlaat en daar in die “kamerverlaat” het ek die koevert versigtig oopgemaak. Ek kon reukwater ruik en op ‘n hart, netjies uitgeknip het dit in sierletters gestaan: “Ja, ek hou ok baie van jou!” Terug in die klas het ek vinnig na haar gekyk en sy het bloedrooi gebloos. Dit was kálfieliefde op sy mooiste en kosbaarste!

Tydens kort pouse het ek vir haar gesê sy moes, as die lang pouseklok lui, vinnig vyeboom toe hardloop. Toe sy daar aankom was ek reeds daar en toe sy voor my te staan kom, was ek reg met die groot vraag: “Sal jy met my kys?” Die ander het al by die klasse uitgeborrel en die antwoord vas vinnig: “Ja ek sal, maar dis ‘n geheim!” Sy vlie toe om na haar maats toe, en ek na myne en niemand wis van die groot gebeurtenis nie. Haai, en niks het verander nie! Ons was gekys en omdat dit ‘n geheim was, kón ons niks doen om dit te wys nie! Kort daarna is ons na verskillende hoërskole en tot vandag toe is daai kys nog nie gebreek nie. Ek wonder of sy nog onthou.

Argieffoto (Foto: kaboompics/Pixabay)

Ja, dit was op Hoërskool Nelspruit waar die kalwerliefde begin blom het. Eintlik moet ek sê, begin bokspring het. Dit was, en is vandag nog ‘n toppresterende skool. Akademie, sport, kultuur en al die belangrike goed. Máár, kalwerliefde was die één enkele bedreiging vir alle hogerige prestasies. Ai tog, die onderdrukking van kalwerliefde was soos ‘n genadelose skrikbewind. Daar was ‘n beleid van allerverskriklikste apartheid en afsonderlike opvoeding. En veral jong onderwysers was lede van die veiligheids(voorkomings)polisie en geheimediens. Hulle het soos skimme rondbeweeg om elke moontlike geheime ontmoetingsplek uit te snuffel en om kalwerliefde wat dalk mog opvlam dood te smoor.

Die vryers, so is ons genoem, se vindingrykheid het geen perke geken nie en ons grootste prestasie en genoegdoening was om hulle te uitoorlê, al was dit net vir vlietende oomblikke van liefdesvreug en -plesier. Alles is oopoë gedoen want alle oë is ingespan om die bekruipers betyds raak te sien.

Kalwerliefde het hier op hoërskool met bokspronge jeugliefde geword. Twee het mekaar raakgesien en die klokkies het begin lui. Die seun het haar per brief ge”prop” en sy het dan skriftelik die ja-woord gegee. Soms het jy jou misgis en dan was die antwoord kort en kragtig, nee. Ja, daar was die blitskyse maar ander waar die jagter lank en geduldig moes wag voordat hy haar met sy liefdespyltjie die hart kon tref.

Enkele kyse het vir jare gehou, maar die meeste het slegs vir maande geduur. Ek kan nie eintlik onthou dat seuns kyse gebreek het nie, hoewel hulle waarskynlik aanleiding daartoe gegee het! Die meisies was geneig om baie gou snuf van ontrouheid in die neus te kry. Dan het die verdoemende skriftelike “Bloupas” gevolg, en jy was jou meisie kwyt. Maar wat, die jag was oop en die bokkies volop. Iewers kon ‘n man weer aanlê en met ‘n bietjie liefdesgeluk was die bokkie joune.

Of die kys lank of kort geduur het, het geen verskil aan die verruklike ervaring van jeugliefde gemaak nie. Vir die tyd wat dit geduur het, was dit eg en in ‘n skool waar apartheid wet was, was elke kortstondige bymekaarwees iets wat harte laat bons het. Gelukkig was daar aktiwiteite wat vlugtige ontmoetings moontlik gemaak het en dit was amper ‘n obsessie om dáár betrokke te raak. Koorsang, Volkspele, Voortrekkers, C.S.V. en elke Saterdagaand se “ontspanning” waartydens ons, onder die wakende oë van onderwysers, op ‘n maniér sosiaal kon verkeer. Van die waaghalsige “vryers”, so is ons ongeregverdiglik gebrandmerk, want daar was nooit tyd vir “vry” nie, het geheime plekkies gehad waar die liefdesvuur vir vlietende oomblikke hoog kon brand. Dis daar waar ons leer soen het en dit kon nogal die tone van lekkerte laat krul. Ai, tog … ook maar goed daar was nie genoeg tyd nie …

Snaaks soos dit mag klink, was korrespondensie in die liefde-onderdrukkende omstandighede ‘n belangrike deel van ons jeugdige liefdeskapperjolle. Tere liefdesbriewe is geskryf en vertrouelinge het as posbodes opgetree. Daar was ook geheime plekke waar briefies afgehaal kon word. Dié plekkies is gereeld afgewissel want iemand kon dalk die plekkies uitruik en die tere liefdesbriefies onderskep.

Dit was tydens saans se twee studie-ure wat die korrespondensie geblom het. Ons het ons prioriteite reggekry en tydens die eerste uur is die briefies geskryf en tydens pouse het die briewewisseling plaasgevind. Die toesighoudende personeel het nasienwerk gedoen, die meeste prefekte was ook gekys en briefies kon so in die verbyloop behendig deur vensters na mekaar toe geskiet word. O ja, nóg iets! Tussen die seuns- en meisieskoshuise was daar ‘n groot grasperk. Ons het op groen suurklappers briefies geskryf en dit dan op ‘n afgesproke tyd, as dit veilig was, na mekaar toe oor die grasperk gerol. Ja, onderdruk die kalwerliefde en dan blom hy op sy beste! Die planne moes net nooit ophou nie!

Gedurende vakansie was daar nie korrespondensie nie want die gevaar was té groot dat ‘n kwaai ma die brief kon onderskep. Jeugdige “vryery” is nie geduld nie en “vrybriewe” was soortgelyk aan ‘n hedendaagse hygroman beskou! Iemand het eendag gesê dit was omdat ouers bang was dat ons sou doen wat hulle gedoen het toe hulle jonk was …

Argieffoto (Foto: freestocks-photos/Pixabay)

Ooee, en dan was daar die blitsromanses tydens vakansies, kampe, toere en die soort van geleenthede. Of dit toe wáre liefde was weet ek nie, want dit kon vir die wyle met ‘n sweempie van ontrou gepaardgegaan het. Mens kan amper sê, uit die oog uit die hart, of dalk ver van jou goed is naby jou skade. Dit was seker maar ‘n “onskuldige” opwelling van ‘n gevoelentheid wat gekom en gegaan het. Soos die wind dit aangewaai het, so het die wind dit weer oorgewaai. Ek sou nog iets oor die Komatipoorttrein en koshuisnaweke wou sê, maar ek laat dit maar liewer daar. Nêrens kon ure só vinnig omvlieg nie!

So het ons in ons vormingsjare ‘n pad met die liefde geloop, of dalk was dit die liefde wat met ons ‘n pad geloop het. Dit het ons laat droom oor die liefde en die liefde het ons laat droom – soms laat swymel … Dit het ons gereedgemaak vir later se finale keuse. Oor die vyftig jaar terug het my blondekopnooi, op die Bad-se-Loop kampterrein, een maanligaand onder ‘n Wildepeerboom, vol spierwit bloeisels, die ja-woord gegee …!

En nou die vraag: Roes ou of eerste liefde ooit? Ek glo nie. Ja, dit vervaag, maar dit bly ‘n juweeltjie tussen jou kosbaarste jeugherinnerings. Ek glo nie dis sonde of rede tot kommer nie. Kom ek verduidelik:

Dertig jaar ná matriek staan ek op Veldskool Sommerreg en kyk hoe die nuwe besoekers uit die bus uit kom. Standerd 8-dogters en hulle juffrouens. Toe ek een van die juffrouens sien, het so ‘n vreemde gevoelentheid op my toegesak – ‘n amperse lammerigheid in die knieë. Ja, dit was Santa, een van my hoërskoolliefdes. Ons was twee keer gekys. Ek het gewonder of sy my ná dertig jare nog sou onthou.

Sy was so skuins voor my toe sy opkyk, en my raakgesien het. Sy het so ‘n gilletjie gegee, haar tas laat val en die volgende oomblik was ons in mekaar se arms. Ek laggend, sy huilend, onbeskaamd, onbedreigd en vreesloos. “Ek het gedog ek gaan jou nóóit weer sien nie!”, was haar eerste woorde. Dogters en personeel het geamuseerd, en stom verbaas toegekyk en later is ons gepeper met vrae.

Die aand om die kampvuur moes ons al die ondeunde nuuskierigheid bevredig. “Oom, was juffrou regtig oom se eerste meisie? Wat het oom-hulle alles gedoen? Juffrou, het juffrou-hulle gesoen?” en nog baie ander vrae. Dit was gróót pret! Ek het vir haar gevra om te vertel waarom sy my gelos het – ék wou graag weet! Met so ‘n driftigheidjie in die stem het dit uitgekom: “Jy het mos net oë vir Rina Davin gehad!” Haai, ek en Rina was al die jare goeie maats, maar ek kon dit nie waag om verlief te raak nie want sy was die hoof se dogter! Ag ja, so was dit …

Jeugliefde was nodig – ‘n nodige leerskool vir eendag. Jeugliefde in herinneringe toegedraai, of dalk herinneringe in jeugliefde toegedraai. Dit was doerie jare se lekker leerskool vir die liefde wat na die Wildepeerboom gelei het. Een van die dae vier ons goue bruilof!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Estelle (Badenhorst) Strydom ·

Johan Oosthuizen, ek sit so ewe rustig jou skrywe in Maroela Media en lees, heel nostalgies oor die kalwerliefde-storie. En uit die bloute duik die woorde op: Kaapmuiden Laerskool! My hart en siel het bokspringe gemaak, bollamakiesie geslaan, want raai, ek was self ook in die jare vyftigs vir ‘n jaar of meer in Kaapmuiden Laerskool. Ek het dadelik gaan kyk wie hierdie geskryf het, en jou naam herken. Jou moeder, tannie Corrie het mos reg oorkant die grootpad gebly waar ons soms oorgeslaap het as daar nie vervoer huistoe was nie. My dierbare vader was Johan Badenhorst van Eureka (Avoca), nie oom Johan Badenhorst van Kaapmuiden nie. Ek en my niggie Reinet Roux en ander plaasjapies het soms by jou moeder tuis gegaan. Jy sal my seker nie onthou nie, want selfs jou kleinsus, Johanna (as ek reg onthou) was so jaar ouer as ek. Ek moes ook soms in Barberton Laerskool skoolgan en in die koshuis bly, maar my lekkerste en beste jare was maar Kaapmuiden Laerskool. Die toppunt van Kaapmuiden was die kos wat ons pouse verniet gekry het, daar het my liefde vir “Deegvis en Skyfies” ontstaan. So van kalwerliefde gepraat, mag ek seker ook nou na bykans sestig jaar erken my kallerliefde was destyds die mooie Johan Malherbe, ook ‘n plaasseun van Kaapmuiden, maar ongelukkig nooit gekys geraak nie. Dankie, Johan Oosthuizen vir die wonderlike onthou. Ter nagedagte, jou moeder en my ouers was gedurende die negentien-tagtigs bure in ‘n outehuis naby Barberton Laerskool koshuis.

Johan Oosthuizen ·

Estelle! Kan jy nou meer!? Ek kan jou nie onthou nie, maar jou ouers baie goed en vir Dirk (jou broer?) Ek sou baie graag met jou in verbinding wou tree. Jy sal lekker lees aan my ander twee Kaapmuidenstories. Dankie vir jou kosbare reaksie.

Peet Schabort ·

Ja, so word herinneringe weer opgediep met hierdie aangename skrywe. Op Hoogenhout Hoër, Bethal het die hoof Pa Kruger die vryery om die hoek onder geen omstandighede toegelaat. Hy het dit genoem ‘afpaardery’. Wonderlike jare waar opvoeding by die huis asook die laer- en hoërskool ‘n deurslaggewende rol gespeel het met die nodige dissipline toegepas.

LH ·

Lieflike herinneringe Johan! As ou Eduard Naude van Oost – Eind Laerskool daar in die 60’s maar net geweet het hoe verlief ek was . . . . Ek het nou wragtig daar by die white picket fences gedraai! En die man was salig onbewus. Lekker sorgvrye dae gewees!

Christa ·

Pragtig geskryf. Ná 34 gelukkig getroude jare het ek ook al gewonder hoe ek sou reageer indien ek my eertydse “Eerste Liefde” weer sou sien. Byna oortuig dat ten minste een van ons teleurgesteld sou voel. Die mooi herinneringe is dalk beter as die realiteit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.