Lindie Strydom: Bewoon, bewerk, bewaar met ‘plogging’

Lindie Strydom (Foto: GrootFM/#PloggingPretoria)

Septembermaand het nog altyd vir my ʼn gevoel van omgee vir my omgewing gehad, asof ek iets in die grond wil plant of die aarde vir my kinders se kinders help bewaar. Ek sien foto’s van bome wat ons drie jaar gelede geplant het en hoe hulle nou al bo my kop uitstyg. Dit was ook in September so saam met Boomplantdag en Erfenisdag.

Hierdie jaar het plogging my drafpad gekruis en maak dit my opgewonde om te dink ek kan met ʼn gesonde liggaam sorg vir ʼn gesonder Moeder Aarde. Plogging is ʼn kombinasie van rommel optel (plocka upp) en hardloop (jogging). Miskien sou “rom-hol” dalk as ʼn vars Afrikaanse nuutskepping kon dien vir hierdie wêreldwye tendens wat oorspronklik van Swede af kom, maar nou ʼn lewe van sy eie gekry het in verskillende lande en ook hier in Suid-Afrika.

As ʼn oefensessie bied dit ʼn goeie dosis buk, squat en strek saam met die loop of hardloop en natuurlik die wete dat jy ʼn verskil maak aan die omgewing. Die ernstige atlete kan dalk besluit op iets soos ʼn “ten-minute-tidy”. Ek het hierdie term in een van die plogging-video’s raakgehoor en dit het vir my baie sin gemaak nadat ek en my seuntjie, binne 200 meter van so koponderstebo loop-hardloop, twee sakke vol rommel opgetel het. Ek wil nie dan vir nog ʼn uur met die twee rom-hol sakkies weerskante van my lyf probeer hol nie!

Miskien wil ek ook net verseker dat dae soos “World Clean Up Day” (15 September) nie net ʼn dag op die kalender, oulike idee of poging tot bewusmaking bly nie. Ek is van daai tipe wat dan op “Wêreld Skoonmaakdag” die wêreld wil help skoon maak.

Lindie Strydom (Foto: GrootFM/#PloggingPretoria)

Hier is my sewe redes hoekom ek hierdie September (en ook daarna) sal “plog” en jou wil nooi om ook jou tekkies bietjie af te stof vir ʼn spanpoging van squat en strek, loop en hardloop waar ons kyk hoeveel strate en sakke se rommel ons bymekaar kan kry:

  1. Dit bied vir elke mens wat al vir my gesê het “ek weet nie waar om betrokke te raak nie” ʼn geleentheid om iets in hulle eie gemeenskap te kan doen.
  2. Jy het geen kwalifikasie of opleiding, lomp toerusting of projekplanne nodig om te begin nie. Eenvoudig tekkies en ʼn plastieksakkie in die hand (of papiersakkie as jou groenhart al tot daar gegroei het!)
  3. Jy kan dit saam met jou gesin, kinders, kollegas en vriende aanpak…
  4. … terwyl ons kinders begin oplet na die hoeveelheid rommel wat in die strate in plaas van die dromme lê. (Miskien stap hulle volgende keer nie net verby die papier op die grond nie.)
  5. In lyn met die “Broken Window Theory” waar die regmaak van stukkende vensters ook ʼn impak op die misdaad in ʼn gemeenskap gehad het, glo ek dat ʼn netjiese omgewing netjiese gedrag vra en vereis. Jy kan amper nie dink om ʼn papier daar neer te gooi nie – dit lyk skoon uit plek uit in die skoon, netjiese omgewing terwyl niemand nóg ʼn stukkie rommel in die reeds baie vuil straat sal agterkom nie.
  6. Ek voel of ek iets doen, hoe gering of min ook al om die aarde te help bewaar…
  7. … terwyl ek met groot dankbaarheid ʼn gesonde liggaam inspan vir ʼn gesonder Moeder Aarde!

 

Die radiostasie GrootFM in Pretoria het in September ‘n #PloggingPretoria-veldtog gehou. Kyk hier:

Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier wil speel nie.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

wielie ·

Ag wil die vroutjie nie maar daar in ons vrot omgewing kom skoonmaak nie? Ons bly op n ashoop in die EENS PRAGTIGE SKOON WESTE van Pretoria

Walie ·

Maak ‘n groepie bymekaar en doen dit self. Oulike gedagte. Skep ‘n whatsapp groepie van mense in jou omgewing, kom ooreen op ‘n dag en datum en begin .. maak vir so ‘n uur lank skoon, maak weer ‘n datum .. klets sommer en gesels oor en weer . en vinnig is al die papiere en vuilgoed in sakke weggebere .. DOEN DIT SELF!

Peta ·

Wielie,ek neem aan jy kan nie self skoonmaak in jou omgewing nie.Gebruik jy dan nou die uitstekende idee soos Lindie,kry self mense bymekaar wat naby jou bly om daarmee te begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.