Om saam met Jesus te eet

Deur David Muller

Last Supper – religion symbol

Wanneer Jesus iets met kos te doen het gebeur daar groot dinge.

Hoekom? Wat was so besonders aan Jesus se eetgewoonte(s)?

Wanneer Jesus vir Saggeus uit die boom roep, verklaar Hy sy intensie – Hy gaan by Saggeus eet. Tydens daardie ete kom Saggeus tot inkeer en vind daar ʼn reuse-ommekeer in sy lewe plaas.

Jesus se eerste opdrag aan Jaïrus, nadat Hy sy dogtertjie wakker gemaak het, is dat hulle vir haar iets te ete moet gee.

Jesus roep Matteus om Hom te volg. Daar is ʼn dringendheid in sy stem wanneer Hy vir Matteus vra om Hom na sy huis te neem. Sodat hulle teologie kan praat? Nee – sodat hul kan eet.

Wanneer Jesus ná sy opstanding aan sy dissipels verskyn, skrik hulle hul oor ʼn mik – “dis ʼn spook”, dink hulle. Jesus verduidelik dat dit Hy is wat voor hulle staan, maar eers wanneer Hy voor hulle ʼn gebakte stuk vis eet, verander hul skok en vrees in blydskap enherken hulle Hom. Dit is Jesus!

David Muller. Foto: Verskaf.

Die Emmausgangers stap onwetend saam met die Messias. Eers wanneer Jesus die brood saam met hulle breek, kom hulle tot die insig dat dit Hy is wat die heeltyd saam met hulle op pad was.

Tydens Jesus se laaste maaltyd saam met sy volgelinge breek Hy brood en verduidelik aan hulle dat dit die teken van sy liggaam sal wees.

Dit lyk vir my of groot dinge gebeur wanneer Jesus iets met kos te doen het. Mense erken Hom aan hoe Hy brood breek, of vis van die graad af trek en eet. Jesus gee opdrag dat “dooie” mense moet eet wanneer Hy hul wakker maak. Verder kombineer Jesus bekeringsgeleenthede met die gebruik van sáám eet. Baie duidelik is kos vir Jesus meer as net kos. Dit is ʼn ruimte waarbinne goddelike dinge gebeur – groot dinge. Dinge soos bekering, heling en openbarings. Deur Jesus se besondere klem op sáám eet, openbaar Hy homself aan mense, as God self.

Dit is dít, of Hy het oopmond gekou. My vermoede is egter dat dit oor baie meer gaan – dat dit oor iets goddeliks gaan. Presies wat dit is, weet ek nie. Al wat ek weet is dat selfs Satan daarvoor bang was.

Waarom anders sal hy ʼn bespotting van Jesus wou maak deur Hom uit te lok om ʼn klip in die woestyn in brood te verander?

Watter rol speel etes in jou huisgesin?

  • David Muller is ’n teoloog, sanger, skrywer en fotograaf. Baie het hom leer ken as die “singende dominee”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amanda ·

Ook in die Ou Testament, toe God sy volk met Manna voed in die woestyn, was kos God se manier om Sy volk te laat besef Hy is hulle Vader. Die Manna wat net goed gebly het vir een dag, sodat hulle elke dag hulle afhanklikheid van Hom sou besef en bely.
Die Manna, simbolies ook van die ware brood van die lewe wat Jesus se liggaam is. Die brood wat nie net die liggaam voed nie, maar ook die siel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.