Ons Franse kasteel: (fakkel)lig in die donkerte

Deur Sunita McDonald

Coucou! ’n Informele Franse manier van groet tussen vriende, maar ’n snaakse sêding vir my. Dit roep herinneringe van ’n tannie met krullers in haar hare, sigaret in die hand en ’n “Koeeeeieee!” na vore. (Gee ek moontlik my ouderdom weg met hierdie verwysing?). Dit is egter ’n vriendelike groet – dit kom uit die hart en laat my glimlag wanneer ek dit deur een van ons oop vensters hoor.

Ons het ’n moeilike tydjie agter die rug by Château de Capelle. Die dae wanneer dinge nie glad verloop nie, wonder ’n mens soms hoeveel frustrasies ’n droom kan werd wees. Die kasteel se vensters het onlangs nie net die klanke van ’n vriendelike groet verleen nie, maar ook probleme.

Ná vele vergaderings en raad van kenners het ons besef dat die restourasie van die vensters bokant ons vuurmaakplek is. Teen ongeveer €600 (sowat R10 227) per venster en die magdom wat herstel moet word, sal die proses ’n aardige bedrag beloop. Die oorspronklike vensterrame is nie geskik vir dubbelglas vensters nie, wat beteken dat dit steeds uit dun, enkellaag-glas sal bestaan ná die herstelproses. Die aanbeveling van elke verhittingsingenieur was om dubbelglas te installeer (wat goedkoper is) en die vensterrame te isoleer, sodat ’n verwarmingstelsel meer effektief kan werk.

Die besluit is met swaar harte geneem, want ons is versot op die pragtige ou vensters en wou dit so graag behou. Einde ten laaste moes ons egter die sentiment opsy skuif en die logika insien. Ons het aan die werk gespring en ’n halwe dag spandeer om al die vensters in die kasteel te meet vir nuwe dubbelglasvensters.

Ons tob oor idees om die ou vensters te gebruik. As ek ’n vernuftige persoon kan vind, wil ek graag vertoonkaste met die vensters as deure laat maak. Ons het ook ’n idee om ’n tuinhuisie aan die onderkant van die tuin te bou wat ’n uitsig oor die rivier en berge bied. ’n Paar vensters kan moontlik daar geïnstalleer word om die uitsig te geniet. ’n Ander idee van ons Facebook-groep is om die vensters in een van die kasteel se gange te hang met foto’s wat die restourasie storie vertel. Ons sal wel ’n manier vind om die stukkie geskiedenis te bewaar.

Daardie besluit was nog nie eens koud nie of die skrynwerker het ons laat roep. Ons het hom gevra om die houtvloere in twee vertrekke te versterk, nadat ons bewus geword het dat ’n paar van die planke wankelrig voel wanneer jy gewig daarop plaas. Die rede waarom die houtvloer plek-plek meegee? Grosse vrillette – ’n houtvretergogga wat dieselfde tipe skade as termiete aanrig. Die pragtige ou houtvloer in die twee vertrekke het ses jaar gelede waterskade opgedoen voordat die vorige eienaar die dak vervang het. Die verpestelike klein goggas het hierdie vloer as ’n maklike teiken vir hul plakkerskamp gesien. Aanvanklik was ons onbewus van hul teenwoordigheid, maar die warmer weer het hulle laat ontwaak en die klein boorders het gaatjies oral in die vloerplanke gemaak.

Die beste oplossing volgens die kenners? Om die eeue oue houtvloer te vervang. Ek kon my ore nie glo nie, ons het reeds ure se harde werk aan hierdie vloere bestee om dit te skuur en te waks. In hierdie stadium wou ek soos tant Stienie kerm met ’n “Weet okie hoekom ek so moet suffer nie!”, maar het myself gou betig. Twee terugslae in ’n week se tyd, maar elke donker wolk het ook ’n silwer randjie. Dis slegs twee uit die veertig vertrekke. Die ander vloere is eikehout en die hout is te hard vir die goggas om nes te maak. Ja, dis ál die vensters wat vervang moet word, maar met nuwe vensters gaan die kasteel in die winter snoesig wees en die rekening van die verwarmingstelsel ook laer.

As ’n mens na die groter prentjie kyk, besef jy gou jou probleme taan in vergelyking met die uitdagings wat ander in die gesig staar. Frankryk het hierdie jaar warm temperature in Februarie beleef en die wingerde het begin bot. Die afgelope paar weke het die temperature egter weer onder vriespunt gedaal.

Die druiweboere het oornag honderde fakkels in die wingerde aangesteek om die brose wingerdstokke teen die ryp te beskerm. Dit was iets om te aanskou soos die foto’s van Tania Carême van Domaine Vincent Carême hier wys. Tania (’n mede-Suid-Afrikaner) en haar man Vincent het ’n organiese wynplaas in Vouvray. Ten spyte van die druiweboere se moeite het verskeie areas in Frankryk rypskade opgedoen en baie word deur ’n mislukte oes in die gesig gestaar.

’n Paar weke gelede het ons naby die château in warm sonskyn gaan rotsklim en abseil. ’n Week later het die temperature weer heeltemal verander en ons was terug ná sleery en uitstappies in die sneeu. Ons is nog lugtig om groente te begin uitplant in die nuut geploegde potager. Ons het wel intussen in die tuin begin blomplante uitplant en hoop hulle oorleef. Die verandering in weerpatrone bring vir seker sy eie probleme en verwarring mee.

Frankryk is op die oomblik weer in ’n grendeltyd, maar ek het vrystelling ontvang om Toulouse toe te gaan vir my verblyfpermit. Administratiewe prosesse in Frankryk is normaalweg ’n nagmerrie en die Franse burgers mor en kla self wanneer hulle na die prefecture moet gaan. Ek was egter beïndruk – die mense was vriendelik en behulpsaam en die gebou is in ’n pragtige deel van Toulouse agter die indrukwekkende Saint Étienne-katedraal. Ek het die dag meer as ’n aangename uitstappie ervaar, eerder as ’n stresvolle besoek aan ’n staatsdepartement.

Ons hoop dat die volgende paar weke geen verdere moeilike besluite of onaangename verrassings ontsluit nie. Ons moet wel ’n antieke kas oopmaak waarvan die deure toegesluit is. Die koerantpapier waarmee die laaie uitgevoer was, dateer uit 1967, so wie weet hoe lank die kas al gesluit staan? ’n Franse vriendin het vir ons ’n bos antieke sleutels gegee en ek beplan om later hierdie week die spul sleutels te probeer. Hou duim vas!

Aan die einde van hierdie moeilike tydjie besef ek egter: dis ’n voorreg om ons droom te kan uitleef. Die lewe het my al geleer dat frustrasies en terugslae ons nie net sterker maak nie, dit maak die beloning aan die einde soveel soeter. Dus, ons lewe in die oomblik, tussen die stof en die spinnerakke in die hoop en verwagting op daardie eendag wanneer die château weer gaan skitter.

Intussen leer die ou château my dinge van myself wat ek dalk nie voorheen besef het nie: Ek kan aanhou wanneer ek wil tou opgooi, my hardkoppigheid is eintlik determinasie en ek kan oplossings vir probleme vind. Hierdie lewenslesse is van onskatbare waarde… vir ons en vir ons kinders op hierdie avontuur wat ons elke dag leef.

Dus, voorwaarts mars!

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elmarie ·

Heerlik om te lees, dankie! Raak so gatvol vir Covid, korrupsie, moord en doodslag dat ‘n doodgewone stukkie leesstof mens se dag heerlik opkikker!

chateaudecapelle ·

O ek hoor jou oor Covid! Ek is net so moeg daarvoor :) Baie dankie x

Ysgodin ·

Ek sien altyd gretig uit na julle vertellings, baie sterkte met die herstelwerk!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.