Ons Franse kasteel ‘met ʼn hart diep in Afrika gewortel’

Deur Sunita McDonald

Die McDonald-gesin

Bonjour !

Tempus fugit is Latynse woorde wat blykbaar deur die Romeinse digter, Virgil, geuiter is en waarmee ek van harte saamstem – die tyd vlieg inderdaad! Dis maande sedert ek ons restourasie by Château de Capelle verwoord en hier met julle gedeel het. Ek gaan die afgelope ses maande se werk, lewe en lesse by die château in ʼn neutedop probeer opsom.

Hierdie jaar was ʼn welkome verandering na die uitdagings wat Covid-19 verlede jaar gebied het. In Maart het ons kans gehad om vir ʼn slag gereedskap opsy te sit en die vryheid van ʼn wêreld sonder strawwe maatreëls en beperkings te geniet.

Ek en die kinders was vir ʼn paar weke in Engeland en in ons afwesigheid het die maak van die nuwe vensterhorte by die kasteel afgeskop. Byna al die vensters verskil in grootte. Elkeen moes afsonderlik gemeet word, toe is die hout gesny, met spesiale boute aanmekaargesit en die oorspronklike skarniere aangebring. Daarna is al die horte geverf en daar is steeds ʼn paar wat in die hoek van die sitkamer staan en wag vir ʼn finale laag verf. Ons hoop om al die horte op te hang voordat die winter in volle glorie aanbreek.

My man en die werkers het die werk aan die boonste vertrek van die toring afgehandel terwyl ons in Engeland was. Hulle het die oorblywende terracottateëls en eikehout gebruik om aan te sluit by die eetkamervloer wat ons verlede jaar voltooi het.

Net soos die vorige keer wat ons die terracottateëls benut het, is ek uiters in my skik met die eindproduk. Daar is iets besonders aan hierdie eeue-oue handgemaakte teëls wat kleur en warmte aan ʼn vertrek verleen en dit is boonop ʼn tikkie van die kasteel se geskiedenis wat behoue kon bly.

In April het ons almal (Belle die hond ingesluit) die kasteel agtergelaat om ʼn Suid-Afrikaanse vriend se mylpaalverjaarsdag in Swede by te woon. Ons het die eerste dag tot in Duitsland gery en toe ʼn oornagveerboot na Swede geneem. Ons het meer as 5 000 km gery in die twee weke wat ons weg was. Die blaaskans het ons egter goed gedoen en ons het weer met entoesiasme skouer aan die wiel gesit met ons terugkoms.

In die daaropvolgende weke het ons aan die skoorstene begin werk (ʼn groot, morsige taak!) en ʼn paar kleiner projekte aangepak.

Een van hierdie projekte was om ʼn leesbankie in die biblioteek se venster te bou. Ons het die ou houtpaneel in die middel deurgesny, vorentoe geskuif en ʼn houtraam vir die sitplek gebou. Met ʼn nuwe stuk hout het ons ʼn sitoppervlak geskep vir die bokant. Op die laaste nippertjie het ons besluit om skarniere aan te bring, sodat die onderkant van die bankie ook as stoorplek kan dien. Dié sonnige vensterbank is nou ʼn gunstelingleesplek vir my kinders.

In Junie het ses motorfietse in die kasteel se lang rylaan opgebrul. Chris, ʼn Suid-Afrikaner, en vyf Nederlanders het by die château kom oornag.

Ek kon in daardie stadium nie veel in die sin van akkommodasie bied nie en hulle het met slaapsakke in die kasteel gekamp. Kort daarna het vier Stellenbossers ook in hul slaapsakke hier oornag en daar was konsternasie toe die geiser die volgende oggend gebars het. Warm water het deur ʼn plafon gestroom en een van die kamers in ʼn sauna omtower. Gelukkig was die deurdrenkte kamer nog op die lysie van vertrekke om te restoureer en die loodgieter het die geiserprobleem vinnig opgelos.

Vroeër die jaar het ʼn Amerikaanse vrou my op sosiale media gekontak en gevra of sy kon kom help met die kasteel in ruil vir gratis verblyf. Nadat ons vir ʼn paar weke gesels het, het ek ingestem en inderhaas ʼn slaapkamer begin inrig vir Kristen se aankoms in Junie. Met my man weg op ʼn sakereis het ek op my eie verwoed skoongemaak, mure geskuur, geverf en meubels ingedra. Dit was ʼn besige week en ek het tot laat in die aande gewerk.

Ek het vir die eerste keer in my lewe muurpapier geïnstalleer teen ʼn groot ingeboude kas in dié kamer. Met die plafon wat byna drie en ʼn half meter hoog is, was dit ʼn uitdaging om die taak op eie houtjie te voltooi. Dit was moeilik om die papier om al die deure en skarniere te sny, maar met baie geduld en hare op my tande het ek die taak voltooi.

Kort nadat die Amerikaner gearriveer het, het ek en sy aan die klein kombuis en sitkamer op die eerste vloer begin werk om ʼn leefarea vir vrywilligers te skep. Daar is geverf, geteël, geskuur en ek het die werkoppervlak se hout met drie lae waksolie behandel. Dit het ʼn paar weke geneem om alles klaar te maak, maar die kombuis is nou bruikbaar, ten volle toegerus en daar is reeds lekker gebak en gebrou.

Sedertdien het ons kuiergaste en vrywilligers van regoor die wêreld gehad – Suid-Afrika, Australië, Kanada, Texas, North Carolina, Switserland, Pole en ook uit ander dele in Frankryk. Ons het elke ervaring geniet, mense touwys gemaak in sekere take en ook nuwe vaardighede by hulle geleer.

Dit was ʼn uiterse besige somer gewees en ons gaste het hand bygesit met verf, skoonmaak, tuinmaak, en vele meer. Ek het heelwat geleer oor verskillende plante, hoe om ʼn komposhoop vinniger te laat ontbind en het my vrees laat vaar om pleisterwerk aan te pak. Dit is dalk nie my sterkpunt nie, maar ʼn huis wat 486 jaar oud is, is gelukkig baie vergewensgesind en die mure hoef nie satynglad te wees nie.

Saam met ons hardwerkende vrywilligers het ons berge geklim, lang staptogte onderneem, in nabygeleë watervalle en die meer gaan afkoel en ook ʼn klomp feestelikhede bygewoon. Ons dorp was in Julie 750 jaar oud en die mense het Middeleeuse kostuums aangetrek om die geleentheid te gedenk. Dit was ʼn gesellige byeenkoms en die Franse weet hoe om behoorlik fees te vier.

Die gaste was die ekstra pare hande en motivering wat ek nodig gehad het om nuwe restourasieprojekte aan te pak. Dit was soos om familie in die vreemde te hê en hulle hulp en entoesiasme was olie op die vuur. Die passie vir ons projek brand weer hoog danksy mense wat ons drome en planne verstaan en ons aanmoedig om dit te bereik.

Dit was ʼn somer wat ons beslis sal onthou – ʼn seisoen van harde werk saam met vreemdelinge wat vriende geword het. Ons het uiteindelik die plattelandse lewe in Frankryk sonder Covid-19 ervaar; die kasteel het stuk vir stuk meer bewoonbaar geword, terwyl hittegolwe en waterbeperkings Europa geteister het. Vir ʼn groot deel van die somer het ons in emmers gestort en die water opgevang om die tuin en groentetuin nat te maak. Danksy my jare in die Bosveld, waar ons soms bittere droogtes beleef het, was dit niks nuuts vir my nie, maar vir baie Europeërs was dit ʼn ongekende situasie.

Die laaste paar dae het ons weer baie reën gehad. Die temperature het begin val en ons huisves tans ons laaste vrywilligers vir die jaar van Duitsland af. Daar is ʼn effense byt in die lug met herfskleure hier en daar. Die hout vir die kaggels is gekap en opgestapel vir die winter.

Tussen die werk deur maak ons planne om uiteindelik weer “huis” toe te gaan vir ʼn paar weke. Ons sien uit om na drie en ʼn half jaar tussen ons mense te wees, oor ʼn koppie koffie te kan gesels en ons geliefdes in Suid-Afrika te omhels.

Deur hierdie jaar het ʼn eens vergete, verwaarloosde huis baie aandag en liefde van verskeie mense ontvang. Soos dikwels vantevore leer elke ervaring by die château my ook iets oor die lewe. Dis ʼn lewe van harde werk, van uitdagings, van kopkrap, van planne maak en van terugslae verwerk. Dis aanhou wanneer jy wil handdoek ingooi en dit toets jou deursettingsvermoë, soms tot die uiterste.

Uit ervaring kan ek jou egter verseker dat harde werk uiteindelik ʼn positiewe verskil teweeg bring.

Deel jou kennis met ander en neem daardie helpende hand wanneer iemand na jou uitreik. Rol vir ʼn ander ʼn klip uit die pad. Wéés ʼn helpende hand, ʼn veilige hawe, ʼn skouer om op te huil, ʼn oor wat luister en die lippe wat vir iemand ʼn gebed fluister.

Die lewe in ʼn ou Franse kasteel is ʼn avontuur. Dis ʼn avontuur wat ons graag deel met almal in die wêreld wat ook al ʼn bietjie verlief geraak het op Château de Capelle – ʼn Franse kasteel met ʼn hart wat diep in Afrika gewortel is. En dis waarom die woorde van hierdie kasteel se storie ook in Afrikaans, my hartstaal, sal voortleef.

Met liefde uit Frankryk, tot volgende keer en à bientôt !

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

FM ·

Goeiemôre Sunita.
Sjoe dis die heerlikste lekker.
Diep in my hart gewonder wanneer daar weer nuus uit Château de Capelle oor die tegnologie golwe kom.
Daardie ou kasteel kry stuk vir stuk nuwe lewe soos ‘n tydsame geboorte. Dit wat julle reeds bereik het is absoluut romantiese fleur.
Jou vertel van vrywillige hulp maak my so bietjie (mooi) jaloers.
Ons het ook self van die grond af gebou en ek kry steeds elke dag ‘n nuwe rede om vir my man meer respek te hê. Veral sy kennis en ervaring tot elektrisiteit en sonkrag. Ja, ek is ‘n witbroodjie wat nie sukkel met die Suid-Afrikaanse beurtkrag nie.
Baie dankie vir jou welkome brief en geniet elke taak met daardie boere durf.
Bosveld groete
NS ek sou darem ‘n koppie boeretroos saam met jou geniet het.

chateaudecapelle ·

Hello en baie dankie vir die boodskap. Klink vir my jy en jou man moet kom kuier! Hy met sy kennis van sonkrag en jy om my geselskap te hou oor ‘n koppie boeretroos ???? Groete x

FM ·

Goeiemôre Sunita
Dit is verseker die heerlikste leesgenot na soveel maande.
Besonder uitgesien na hierdie brief.
Dit wat julle reeds vermag het is met soveel swier en romantiese waarde gedoen.
Ek kan verstaan dat julle vrywillige hulp van oral oor kry. My hande sou ook juk om daardie ou kasteel nuwe geboorte so stuk vir stuk te help gee.
Bosveld groete

chateaudecapelle ·

Dis wel werk maar dis ook ‘n besonderse deel van Frankryk om te verken so ja, ek dink mense kom kuier en help graag. Ons waardeer dit ongelooflik baie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.