Oor die boelies van ons kinderdae

Ivor Swartz (Foto: Verskaf)

Jare terug lees ek ʼn gedig van Shane Koyczan genaamd “To This Day”, wat gaan oor die boelies van ons kinderdae. Die gedig het my lewe verander. Ek hou nou nog aan hom vas, veral wanneer my kinderdae se boelies onder my bed uitkruip om hallo te kom sê.

Die ding met boelies is hulle gaan nooit weg nie.

Hulle taktieke verander net.

“I’ve been shot down so many times, I get altitude sickness just from standing up for myself”, sê die man. Hy is self baie geboelie as kind. Hy ken die hol kol op jou maag wanneer jy dink aan môre. Nes jy vandag oorleef het, moet jy opnuut moed opbou vir môre. Dis wat amper erger is as die vorm van boelie. Waar jy keer op keer die moed moet bymekaarskraap om wéér jouself reg te ruk, op te staan, stof af te skud, en die lewe aan te pak – sonder bystand, sonder rigting.

Dit laat my dink aan die amper ontelbare kere wat ek al afgeskiet is – en elke keer die naar, siek en vernederende gevoel moes sluk wat daarmee gepaard gaan. Want opstaan vir myself kon ek nie. In sub B (nou graad 2) is ek geboelie oor ek een dag my ma se donkergroen kant-sokkies aangehad het.

Hoe moes ek geweet het dit was vroumenssokkies? In standerd 3 het my een klasmaat, Grant, my hand gegryp en my vingers agteroor gebuig na ek dit uitgesteek het om van sy tjips te vat. Een keer moes ek kilometers ver terugstap huis toe in my stukkende onderbroek nadat vriende my klere weggesteek het toe ons by die dam gaan swem het.

Ek weet van kinders vandag wat op erger maniere geboelie word – selfs al is daar vandag soveel meer inligting oor, en bewusmaking teen, boeliegedrag. Dit bly ʼn stryd. En jy’s nooit seker of dit die laaste keer is wat jy gaan val en maar weer probeer opstaan nie.

Ek sal nooit vergeet die dag toe ek nie meer wou opstaan nie; toe die veerkragtigheid van menswees, van bo probeer bly, net te swaar gevoel het.

Ek was amper 14 jaar oud.

Dit was diep in die nag.

My ouer broer het dronk en vrot van die Mandrax huis toe gekom.

Hy’t die tatoeëermerke op ons jonger boetie se enkels en bobeen gewaar.

Die hel het losgebreek en die hemel was stil in ons huis daardie nag.

Hy’t ʼn Shoprite-plastieksakkie gevat en aan die brand gesteek.

Hy’t die brandende plastiek laat loop op ons boetie se been en enkel.

Partykeer weet jy, om te vlug is beter as om te veg. Die boelie by die skool kan ʼn kind nog vanaf wegkom, al is dit net tydelik. Maar die boelie by die huis is ʼn ander storie. Dis die papa wat elke aand een te veel dubbel-brandewyn vat en maak of die toorn van God vir hom gegee is om sy gesin mee te dreig. Dis die narcissis van ʼn vrou wat manipuleer sonder skaamte. Dis die soort boelies van wie jy nie kan wegkom nie. Dis die monster van ʼn broer wat jou verafsku sonder om ooit te sê wat jy verkeerd gedoen het.

Maar die mens is eintlik gemaak vir terugveg. Dis hoe ons nog altyd oorleef het. Ons is gebou om vas te kan staan en die onmoontlike te oorkom. Dis juis waar ons veerkragtigheid vandaan kom. Dis waar die ware krag van menswees lê. Dis wat maak dat mense ons, en ons stories, so inspirerend vind. Dis wanneer ons dink ons het geen kans om weer terug te bons nie, om op te staan nie, om die trauma van boelie te omskep in iets lewensveranderend. Dis waar ons die vermoë vind om uit die diepste donker uit te klim, en aan te hou hoop, en te droom oor die toekoms, en ons plek daarin!

Dis nie die ja-broers – wat die status quo veilig bewaar – wat gebruik word as voorbeelde van lig in die donker chaotiese wêreld nie. Dis juis die van ons wat weet wat dit is om platgeslaan te word, wat iets aan die ongeregtigheid, die wetteloosheid, die korruptheid van ons samelewing wil doen – selfs al kos dit ons iets.

Ons is nie gemaak om op moedverloor se vlakte te sit en ons lot bloot net te aanvaar nie. Om nie toe te laat dat internet-boelies, onderdrukkende sisteme, of verlammende omstandighede ons met ʼn goedkoop hou onderkry nie. Daarom kan ons as volwassenes nie toelaat dat boelies in gesagsposisies, in die regering, in besighede, daarmee wegkom nie. Omdat ons vir die volgende generasie moet wys: al gaan die boelie nie weg nie, daar is meer van ons wat nou teen die boelies opstaan – in ons tyd, in ons land, nou.

Die boelies van my kinderjare het my nie ondergekry nie.

Dit het my ook nie kwaad of bitter gelos nie. Dit het my toegerus met die regte wapens om anders terug te baklei as voorheen.

Ek baklei nou terug met sterker wapens: liefde, empatie, aktiewe burgerskap, dankbaarheid, diensbaarheid, en nog meer. Dié tipe wapens roes nie, of het nie vervaldatums nie. Hulle skote eggo tot in die ewigheid.

Meer oor die skrywer: Ivor Swartz

Ivor Swartz is ’n leraar by die NG Kerk Oosterlig in Pretoria. Hy reis die land vol met praatjies by skole. Hy is ook ’n geesdriftige Liverpool FC-ondersteuner, en kan altyd raakgeloop word by ’n plek wat koue bier verkoop.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cindy ·

Ivor se getuienis is altyd inspirerend om te hoor, dit maak nie saak hoeveelkeer ek dit sien/hoor nie. Hy het soveel passie en leef dit met oorgawe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.