Op 64 begin Pa weer oefen

gimnasium-gewigte-tekkies-oefen

Slegs ter illustrasie – dis nie ons bene daai nie. Foto: Victor Freitas/Pexels.com

Stiptelik om 18:45 staan Pa voor die deur – gereed vir sy heel eerste sessie by CrossFit RedShack in Pretoria.

Sy blou Everlast-hemp is netjies by sy rugbybroek (dink dit was nog ’n Kersgeskenk van so ’n paar jaar terug) ingesteek, terwyl sy nuwe paar Maxed-tekkies en werksokkies ’n unieke kombinasie vorm.

’n Rukkie later vibreer my selfoon; dis Ma wat vra of Pa sy waterbottel en trui onthou het.

“Ja,” sê hy terwyl hy met sy kerktrui agter sy rug te voorskyn kom.

“Nee,” sê hy toe hy oor die waterbottel gepols word.

“Ek hou nie van die kleur nie,” verskaf hy die logiese verduideliking.

Net om die agtergrondprentjie vinnig in te kleur: Ek en my vrou het ná ’n afwesigheid van amper vyf jaar besluit om weer die CrossFit-ding aan te pak.

Maar op 35-jarige ouderdom is die kompetisievuur beslis geblus en ek kan nou geensins die nut daarvan insien om op my hande te loop nie; daarom het ons besluit om by die Lite-klasse aan te sluit.

Dit is egter steeds baie goeie oefening en ons het my 64-jarige pa aangemoedig om saam te kom sweet; hy kla immers deesdae baie oor sy borskas wat besig is om suidwaarts te trek.

Moenie in die pienk gewig vaskyk nie. Foto: Luzanne Gresse.

“Wát?” is egter sy eerste woord toe die oefensessie klaar aan ons verduidelik is.

Ons het ’n uitstekende instrukteur en hy beskik oor die geduld van ’n fikse Job, maar akronieme soos EMOM (every minute on the minute) en AMRAP (as many reps as possible) moet seker Grieks wees vir ’n man wat nog met heimwee oor sy eersterugbyspandae in 1974 en ’75 by Hoërskool Monument praat.

Ná ’n kort demonstrasie deur die uwe – ons moet vier snatch-bewegings elke minuut vir tien minute doen – trek Pa met ’n vaart weg.

Net toe die horlosie die begin van die vyfde minuut aandui, kyk ek vinnig in Pa se rigting: Hy is wasbleek, natgesweet en sy mond is wawyd oop; dit lyk amper soos Arnold Vosloo s’n in een van The Mummy se tonele.

Die man het sy EMOM met ’n AMRAP verwar en waar ons ander vir ’n hele paar sekondes kon asem skep, het hy soos ’n wafferse Duracell-hasie te kere gegaan. Onverpoos.

Gelukkig is daar ’n kort blaaskans voor die volgende oefensessie en Pa kan sy batterye herlaai.

“O tog,” prewel ek toe ek sien wat volgende op die bord staan. “Die ou man gaan sekerlik nou die hemelpoorte in die verte begin sien.”

Want die tweede sessie is aansienlik langer en bevat baie meer kardio as die eerste beproewing. Maar daar is ’n vasberade uitdrukking in Pa se oë en hy begin die een of ander deuntjie fluit.

Al fluitende voltooi hy die een ronde ná die ander.

“Hoe kry jy dit reg?” vra ek terwyl ek self na my asem hyg.

“My seun, ek het een voordeel bó jou: Diensplig,” sê hy terwyl hy (teen dié tyd sommer al singende) na die roeier marsjeer.

  • ’n Maand later en Pa is nou ’n amptelike CrossFit-lid, maar hy kla egter steeds oor die grootte van sy maag.

Ma sê egter dit is sy eie skuld; hy eet twee borde kos: een vóór oefening en een ná die tyd.

Tog is dit ’n hengse voorreg om saam met jou pa te oefen; ’n mens sien nou sommer meer na elke oefensessie uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.