Opedag

Johnell Prinsloo (Foto: Verskaf)

Dis April. Ek weet nie hoe dit in ander provinsies, dorpe of stede gaan nie, maar in Pretoria en omliggende areas is dit opedag-seisoen. Skole wat hulself met alles wat hulle het en alles wat hul kan bied, vasvang in ʼn middag vol bedrywigheid.

Terwyl die aarde die laaste somerson uit sy strale probeer wurg en herfs wil-wil plekmaak vir winter, verjaag die opgewonde stemme van jong voornemende hoërskoolleerders enige koue wat in ʼn skoolsaal of klaskamer posvat.

Dit lyk soos ʼn miernes. Baie voete, baie hande en baie stemme. Grootoog gr. 6- en 7-kinders wat met opgewondenheid kennis maak met ʼn nuwe pad wat hulle inwag.

En so is ons saam met ons jongste hierdie jaar weer by net so ʼn opedag, verwelkomingspakkie in die hand en ore gespits vir die stemme van die matrikulante wat ons deur die stoepstrate van die doolhof lei.

Dit roep soveel herinneringe op… van ons eie skooljare, die oudste wat in dieselfde skool was en agt jaar gelede self die opedag bygewoon het, en die ure daarna wat ons op die einste terrein spandeer het.

Hoërskool is só belangrik. Alhoewel jy meer tyd op laerskool spandeer en dit ongetwyfeld die grondslag van soveel dinge lê, voel dit vir my of hoërskool die plek is waar jy mens word; die plek waar jy werklik koers begin inslaan en waar jy vir die eerste maal werklik onafhanklik van jou ouers besluite begin neem wat jou menswees en toekoms beïnvloed.

Dit is natuurlik ook die plek waar jy binne ʼn baie beskermde omgewing nog kind kan wees in ʼn wêreld vol moontlikhede en geleenthede; waar jy soveel as moontlik kan probeer en waar mislukkings en foute lesse oor die lewe is wat karakter bou sonder die gewig wat die verantwoordelikheid van die volwasse lewe op die skouers laai – sorgvry maar met verantwoordelikheid.

Wat ek vir my jongste wil hê, is eintlik net sy plekkie – daardie gevoel dat hy êrens behoort, dat hy aanvaar word vir wie hy is, homself kan uitleef en ontwikkel en tot sy beste vermoë kan presteer. ʼn Plek waar hy uitbundig kan deel wees, waar hy kan leer dat hy belangrik is en saak maak, maar waar daar ook geleer word hoe om in ʼn gemeenskap saam te werk, hande te vat en die eie ek nie voorop te stel nie.

Ons skoolgemeenskappe werk al vir meer as 100 jaar hard aan die opvoeding van ons kinders. Ouers en onderwysers maak opofferings en ondersteun mekaar in vennootskap en neem die taak op om elke nuwe generasie vir húlle tyd en húlle uitdagings voor te berei.

Ek dink ons as die Afrikaanse skoolgemeenskap kan trots wees. Ons het nog nooit teruggesit en toegelaat dat ʼn regering of enige bedreiging ons kinders van opvoeding ontneem nie. Ons het nog elke keer, selfs ten tye van die grootste uitdagings, hand in eie boesem gesteek en selfs onder bome of in huise daarop aangedring dat ons kinders sal leer. Ons doen dit saam met innoverende en veerkragtige onderwysers wat roepingsgedrewe en passievol oor onderrig is, hul leerders se welstand en ontwikkeling op die hart dra en ʼn uitnemende rol in die onderwys en in leerders se lewens speel.

En hier staan ons vandag, by opedae by hierdie monumente van hoop. Ons kyk en ons luister en kies vir ons kind sy of haar plek. Ons neem deel aan besluite. Ons rol die moue op en ons is betrokke. Saam belê ons in ons kinders, maar ons belê ook in ons skole en in die toekoms van Afrikaanse onderrig.

Wat ʼn warm hartsgevoel; wat ʼn wonderlike vooruitsig; wat ʼn mooi toekomsdroom!

Mag daar vir elke Afrikaanse skool nog honderde jare se opedae wees; mag elke voornemende gr. 8 sy/ haar spesiale plek vind, gelukkig wees en met oorgawe deel in die wonder van hoërskool. En mag ons skoolgemeenskap net van krag tot krag gaan!

Meer oor die skrywer: Johnell Prinsloo

Johnell Prinsloo is 'n onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.