Twee rugsakke, twee weke en ʼn krieketkolf

Deur Ian Botha

Ian en sy seun André in Indië (Foto: Verskaf)

Indië was nog altyd een van die lande wat ek graag wou besoek. Nog beter, ons kon ook deel wees van een van die wêreld se grootste skouspelle. Ek en my seun André (13) is albei mal oor krieket en met die skoolvakansie op hande het ons met groot afwagting die tog aangepak.

Ons was aanvanklik nie heeltemal oortuig of dit die regte ding is om te doen nie. Verseker sou ons as ervare rugsakreisigers (backpackers) sekere uitdagings moes oorkom.

Ja, maklik was dit beslis nie! Met ons aankoms was dit reeds duidelik dat ons gou moes aanpas by die polsslag van die Indiërs met hul eie gewoontes en maniere.

Indië, met sy mal verkeer en aanmekaar toeters, wil jou histeries maak as jy dit nie gewoond is nie. Orals is daar hordes mense, heilige koeie wat in die strate loop waar kinders almal besig is om krieket te speel.

Nou ja. Dit was waarom ons hier wou wees, die krieket!

Ons eerste wedstryd was in Nieu-Delhi teen Sri Lanka. Wat ʼn belewenis. Alhoewel ons omtrent net 10 Suid Afrikaanse ondersteuners langs die veld was, kon ons gou agterkom krieket is groot in Indië. Dit is soos ʼn leefwyse.

Tydens ‘n wedstryd in die 2023 Krieketwêreldbeker (Foto: Verskaf)

Die Indiër-ondersteuners volg die hele wedstryd bal vir bal en verlaat nie sommer die aksie om ander afleiding te soek nie. Daar is nie tyd of geriewe om gou ʼn vleisie te braai of bier langs die veld te gaan geniet nie.

Dit is selfs onmoontlik om handtekeninge van die spelers te kry met die heinings en watergragte wat ondersteuners van die veld af moet hou. Ons kon ook net ʼn selfoon en kontant in die stadium inneem, geen muntstukke, kameras, GoPro, of enigiets anders word toegelaat nie. Nie eers ʼn stok vir ons vlag nie! Niks wat na die spelers se kant gegooi kan word nie.

Ons spelers is voorwaar almal helde onder die Indiër-skares. Natuurlik veral die bekendes wat ook deel is van die IPL-spanne. So word ʼn Quinton de Kock en David Miller byvoorbeeld elke keer toegejuig wanneer hulle net vlugtig na die skare draai. Soms word hulle ook begroet en voor gewaai met luide toejuiging. Ja, dit maak ʼn mens trots! Die Proteas se eindtelling wat meer as 400 lopies was, het vir ʼn groot oorwinning gesorg met vele nuwe rekords.

Begroet deur ondersteuners (Foto: Verskaf)

Ek was nog nooit “beroemd” nie, maar toe gebeur dit…

Ons word oorval deur die plaaslike mense, selfs op ʼn gewone dag sonder ons Protea-ondersteunersklere. Elke tweede persoon wil saam met jou ʼn selfie neem. By die krieket is dit nog erger. Dit voel later of ons self ook vir die Proteas speel. Duidelik staan ons as Suid-Afrikaanse ondersteuners uit.

Op soveel ritte in die plaaslike vervoer, die toek-toek, sal die drywer ʼn video-oproep na sy familie of vriende maak terwyl ons ry om vir hulle te wys wie sit agter in sy toek-toek. Nou weet ek hoe die Proteas moet voel!

Ons het so beroemd gevoel soos die Protea-spelers en moes kort-kort verduidelik ons is net gewone mense, net toeriste, net krieketliefhebbers wat ons span ondersteun, net soos julle! Die kere wat ons in die stadion op ʼn alleenkolletjie gaan sit het, is ons oorval deur almal wat ons welkom heet en laat tuis voel op ʼn wonderlik en vriendelike manier.

Daar was ook die kere in Lucknow waar ons teen Australië gespeel het. Ondersteuners het oral saamgedrom om kaartjies in die hande te kry, wat chaos veroorsaak het. Gelukkig kon sekuriteit help om ons nuwe aanhangers van ons af weg te hou.

Nog ‘n wedstryd (Foto: Verskaf)

Moet natuurlik nie die pragtige Taj Mahal, interessante kos, die Delhi-belly en heilige rivier van Ganges vergeet nie. Hier in Varanassi waar die Hindoes na die heilige rivier stroom.

Iets wat ons natuurlik ook altyd sal bybly is die brandarm mense wat so graag die min wat hulle het met ons wou deel.

Maklik was alles nie! Miskien het die kultuurskok ons weereens laat besef hoe ʼn wonderlike land ons het. Suid-Afrika met al sy ooptes, minder mense, minder rommel en skoner water – ja, sowaar ʼn paradys.

Ons het sommer weer lief geraak vir ons taxi’s…

Kom ons hou duim vas, miskien maak ons Proteas dit hierdie keer en kan hulle die Wêreldbeker saam met die Springbokke omhoog hou! Voorwaar ʼn eer om ʼn Suid Afrikaner te wees.

  • Ian Botha is ‘n Vrystater ter harte, ervare reisiger en fotograaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

Wat ‘n wonderlike ondervinding vir Pa en seun!
Lekker gelees aan die interessante stuk, só goed beskryf deur Ian Botha.
Dié twee avontuurlustiges verdien om soos Protea-helde behandel te word deur die krieketmal Indiërs.

Miena ·

Dankie vir die stukkie lekker-lees. Ek sou graag meer wil lees van jul oornag-geriewe en kos wat julle genuttig het. Dalk nog n stukkie skryf miskien? Asseblief?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.