Uit die dagboek van ʼn maatskaplike werker: Van kroegwerker tot hoofdogter

Deur Marna Swanepoel

Marna Swanepoel (Foto: Verskaf)

My ouma het altyd gesê: “Elke klein druppeltjie tel”. Jare daarna wonder ek nog steeds elke aand as ek in die bed klim: Tel my druppeltjie? Maak ek ʼn verskil in iemand se lewe?

Jare gaan verby, en snags bly spook hierdie vraag by my. Op ʼn dag kruis my pad met ʼn, op die oog af doodgewone tienerdogter, maar dadelik kom ek agter sy is anders. Sy is ʼn tienerdogter wat deur haar omstandighede gedwing word om te vlug van haar moeder wat verlief is op mnr. Bottel en sy ken nie eens haar vader se naam nie. Sy vlug na waar sy dink daar vrede en geluk is…

Hoe hartseer is dit nie dat sy die skoolbanke vir kroegstoeltjies verruil het sodat sy in die oggendure vir haar hulpelose moeder en sibbe ʼn geldjie kan neem nie. Dis nou te sê as sy nie uitgesluit word en noodgedwonge ʼn slaapplekkie vir die nag moet soek nie, maak nie saak waar of by wie nie. So gaan dae en weke verby wat sy skool mis net omdat sy doodeenvoudig te moeg is om skool toe te gaan. Niemand lig ʼn wenkbrou nie. Sy kry net raas omdat “gisteraand se geldjie ʼn bietjie min was” en mnr. Bottel al hoe duurder word…

Die dogter se storie laat ʼn knop in my keel en ʼn letsel in my maatskaplikewerkershart. Ek dink by myself: Wat as hierdie my verhaal was? Ek is weer opnuut dankbaar vir my omstandighede en my kinderjare, en ek besef: Hierdie kind het meer nodig as ʼn kospakkie en ʼn geldjie in die hand. My instink is om te help, “verbande op hierdie kind se wonde te sit”, skop in. Hoe gaan ek haar help? Ek wonder…

Op ʼn dag kom die ou siel in hierdie kind met ʼn antwoord: “Tannie Welsyn, ek wil teruggaan skool toe. Ek wil koshuis toe.” Ek besef weereens hoe desperaat hierdie kind moet wees om weg te kom van haar omstandighede, haar bloedeie mense wat haar so seermaak, dat sy skool en koshuis as haar enigste uitweg sien.

Ek skuif my fokus weg van ʼn sisteem wat haar gefaal het na ʼn gemeenskap wat ʼn kind, hiérdie kind, kan red. Helpende Hand en die gemeenskap steek saam hande uit om haar te vang.

Vandag, ʼn paar maande later, is hierdie besonderse tiener hoofdogter van haar koshuis en amper klaar met haar skoolloopbaan. Na jare vind ek én sy geluk en vrede.

Partykeer, net soms, kry ons ons antwoorde op die vreemdste plekke. Ons is daar waar ons moet wees.

Ek het lank gewonder, maar nou weet ek: Ek maak ʼn verskil!

  • Marna Swanepoel is ʼn maatskaplike werker by Helpende Hand. Solidariteit Helpende Hand se afdeling vir maatskaplikewerkdienste stuur vandeesmaand, ter viering van Internasionale Maatskaplikewerkersdag, ʼn veldtog van stapel om bewusmaking oor dié eerbare en noodsaaklike beroep te kweek. Internasionale Maatskaplikewerkersdag vind op 21 Maart plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ABDP ·

Hierdie storie maak dat mens elke dag jou kop weer optel en weet hoe geseend mens is. Ek sien ‘n blink toekoms vir haar. !

Groen Ghoen ·

Dit roer die hartsnare. Dit is goed om sendingwerk te doen en hulp aan te bied in die uithoeke van die aarde, maar wat van die groot nood onder ons eie mense, hier naby aan ons?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.