Uit die dagboek van ʼn maatskaplike werker: Voel jy dit ook?

Deur Bianca Steyn

Bianca Steyn (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse groep Spoegwolf se liedjie “Voel jy dit ook?” voel of dit vir ons as maatskaplike werkers geskryf is. Die woorde pas ons beroep soos ʼn handskoen. Musiek, nes foto’s, spreek boekdele en met die lirieke van die liedjie gaan ek probeer om die gevoel van ʼn maatskaplike werker se plig en roeping oor te dra.

Voel jy dit ook? Sien jy dit ook? Waar jy gaan – al die alles?

In al die rook is dit ons wat saam deur die skemer brand. Soos Spoegwolf se lirieke lui: “Ons word soos brode gebreek om ander te dien”. Ons planne het verander. Alles wat ons doen, is vir die veiligheid van onskatbare onskuld. Vir jou. Vir julle. Julle is ons almal se kinders. Ons het die donker leer ken en die glinstering van die maan gegroet. Ons knip ons oë en weet: Ons sal hierdeur kom. Saam. Soms is daar ʼn heining in ons koppe. Voel jy dit ook? Alles lyk wasig. Ons ore sien en ons oë hoor. Vir jou, kleine ding daar buite in die tuin van gesteelde blomme. Ons kom. Ons is altyd op pad, want ons voel dit saam.

Ons roep uit. Ons skreeu. Vir beter. Vir liefde. Vir lag. Vir hoop. Ons het nie tot hier gekom om op te gee nie. Ons is anders aanmekaargesit. ʼn Ander soort mens. ʼn Ek- en jou-mens. Voel jy dit ook? Al die alles? Dit is in ons gegraveer. Ons sal dit altyd voel. Maatskaplike werk.

Wat kan ek sê? Daar is niks soos hierdie beroep nie. Min sal die diepte van hierdie twee woorde verstaan: “maatskaplike werk”. Ons goue draad is ons Vader wat ons seën met die moed om te voel en die moed om werklik te sien. Geroepe voetsoldate. Ons staan op aandag. Ons is gereed. Ons is maatskaplike werkers. Ja, maatskaplike werkers.

Voel jy dit ook? Al die alles? Welkom. Welkom by die maatskaplikewerkfamilie.

  • Bianca Steyn is ʼn maatskaplike werker by Helpende Hand. Solidariteit Helpende Hand se afdeling vir maatskaplikewerkdienste stuur vandeesmaand, ter viering van Internasionale Maatskaplikewerkersdag, ʼn veldtog van stapel om bewusmaking oor dié eerbare en noodsaaklike beroep te kweek. Internasionale Maatskaplikewerkersdag vind op 21 Maart plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.