Uit die dagboek van ʼn maatskaplike werker: Woorde wat seermaak

Deur Charmanay de Klerk

Charmanay de Klerk (Foto: Verskaf)

Ek gesels eendag met ʼn 15-jarige dogter oor diep gebeurtenisse in haar lewe. Ons sit in die kamer, nie baie groot nie, waar sy, haar stiefma, stiefpa en 6-jarige boetie woon. Hulle woon saam met 30 ander mense op een erf. Elke dag van die hand na die mond.

Sy sit op die bed en ek op die vloer, en sy vra: “Tannie, hoekom doen jy maatskaplike werk?”

Ek gee die algemene antwoord: Ek wil graag kinders beskerm en mense help sodat hulle weer op hulle voete kan kom. Sy staar na my en antwoord sarkasties terug: “Oh, ek dink eerlikwaar maatskaplike werkers doen wat hulle doen, want hulle is nuuskierig en hulle hou daarvan om na mense se dramatiese stories te luister”.

Haar woorde maak seer en laat my as maatskaplike werker weer dink: Hoekom is ek ʼn maatskaplike werker?

Die volgende Bybelverse kom in my gedagtes op:

  • “Julle is die sout van die aarde.” – Matteus 5:13
  • “Julle is die lig vir die wêreld.” – Matteus 5:14

Ek dink terug aan ʼn preek van my pastoor en vra myself af wat sout en lig in gemeen het. Die Here het dit so goed gekies, want beide kan hul omgewing verander. Sout gee immers smaak aan kos en lig verbreek donkerte.

Ek gaan soek weer die definisie van maatskaplike werk en lees die volgende:

“Maatskaplike werk is ʼn dinamiese beroep wat sosiale verandering, probleemoplossing in menseverhoudings en die bemagtiging en bevryding van mense bevorder om holistiese welstand te bevorder. Maatskaplike werkers gryp in by die punte waar mense met hul omgewings interaksie het.”

Ek besef net weer: So baie van my kliënte het hul sout se smaak verloor en hulle lig onder ʼn emmer geplaas. Ek, as maatskaplike werker, wil hulle ondersteun met Goddelike lig en sout sodat hulle die liefde, vrede en vreugde van die Here kan ervaar. Ek wil kliënte bemagtig met vaardighede, kennis en vermoëns sodat hulle weer vreesloos hul omgewing kan verlig en smaak daarin terugplaas.

  • Charmanay de Klerk is ʼn maatskaplike werker by Helpende Hand. Solidariteit Helpende Hand se afdeling vir maatskaplikewerkdienste stuur vandeesmaand, ter viering van Internasionale Maatskaplikewerkersdag, ʼn veldtog van stapel om bewusmaking oor dié eerbare en noodsaaklike beroep te kweek. Internasionale Maatskaplikewerkersdag vind op 21 Maart plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

koos ·

Charmanay, sterkte met jou goeie werk. My vrou is ‘n nurse, en dankbaarheid vir lang ure, vuil boude skoonmaak en swak salaris ens. word eenvoudig net deur die publiek geignoreer. Dankbaarheid is bittermin. Daarom, namens al die mense en gesinne wat jy al gehelp het, sê ek vir jou persoonlik DANKIE. En byt vas, jy maak ‘n verskil.

Amelia ·

Nee dankie weet van te veel mense wat se kinders weg gevat is met stories wat aan welsyn vertel word en luister nie na die ouers nie Van gevalle waar n ouer basies net sleg gese word nee jammer ek het geen respek vir julle nie die wat ek van weet en gesien het

Republikein in die Wes Kaap ·

Soos die jare aanstap word hulle seker ook maar harder.

Patch ·

Jy kan nie alle maatskaplikewerkers oor dieselfde kam skeer nie. Daar is van hulle wat absolute engele is en hierdie ondankbare werk na die beste van hul vermoë doen om ‘n verskil te kan maak. Met die swak/geen ondersteuning van die staat doen baie van hulle die beste wat hulle kan maar is uitgelewer aan ons staatstelsel.
Dis regtig hartseer dat daar mense soos jy is wat so voel.

skurweberg ·

Ek het groot respek vir die diensberoepe, waarby Terapeute en Beradingsberoepe. ingesluit is, Maatskaplike werk is ook by hierby beroepsgroepe ingesluit. Hulle vorm ‘n integrale deel van die diensberoepe, Die rede vir die negatiewe korrespondensie glo ek kan wees omdat die Terapeutiese rol wat Maatskaplike werkers moontlik speel nie genoeg beklemtoon word nie. Verhoudingbou met Respondente is kardinaal soos vir enige ander diensberoep. Data insameling met ‘n gestandadiseerde instrument met die oog op die Terapeutiese fase in hulpverlening is tog belangrik. (fase waar die kind leer ken word in sy/haar leefwereld}

Leeu ·

Maatskaplike werkers is mense met sagte harte, baie empatie wat graag wil help. Hierdie eienskappe maak ook dat hulle emosioneel baie betrokke raak. Die rede hoekom so baie mense negatief is oor hulle, is omrede baie mense magsmisbruik beleef het as dit kom by die verwydering van kinders uit gesinne. Dit is die verskriklikste ding om te doen, en het geweldige gevolge vir ‘n gemeenskap. Hierdie tipe mag behoort juis nie by maatskaplike werkers te lê, wat te emosioneel betrokke raak en dan nie meer objektief funksioneer nie. Dit is ook ‘n groot probleem dat Maatskaplike werkers hulleself as redders van kinders begin sien. Dit is ‘n gevaarlike plek om te wees . Die CMR is ‘n organisasie wat hierdie Identiteit begin aanneem het, en ‘n reputasie verwerf het vir aanbevelings aan howe om kinders maklik te verwyder . Laat maatskaplike werkers hulle passie uitleef deur diensbaar te wees in gemeenskappe, maar laat die verwydering van kinders aan objektiewe kliniese regslui oor.

ES ·

Daar is goeie maatksaplike werkers en slegtes. Ek het ook al stories gehoor van maatskaplike werkers wat die ouers se kant bo die kinders s’n kies.

In elke beroep – medies, regte, rekeningkunde, veeartseny, motorwerktuigkundiges, verpleegsorg ens. is daar goeie en slegte mense.

Jy doen goeie werk mens, hou koers.

Pannies ·

Sommige van die kommentare mis die kern vd skrywer se boodskap. Dit is in die laaste paragraaf.
Sy wil haar beywer om mense weer op te tel om vreugde te ervaar ondanks hul omstandighede en hul toerus om weer waardige lede vd gemeenskap te wees. Sy stel dit so goed. Lees asb weer die laaste paragraaf aandagtig oor. Dit behoort elkeen van ons se strewe te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.