Verbruikersake: In ’n wêreld wat kriptomal is, is bedrog steeds bedrog

(Foto: iStock)

Al wat leef en beef wil deesdae hê mense moet in kriptogeldeenhede belê, maar so gou as wat jy na bewering ryk kan word daaruit, so vinnig kan jy jou geld verloor. Terwyl kriptogeldeenhede nog nie spesifiek in Suid-Afrika beheer word nie, is daar steeds reëls van toepassing en een daarvan is dat bedrog steeds bedrog is. Ina Opperman verduidelik meer oor dié skelmstreke en wat jy kan doen om jouself te beskerm.

Die normale reëls van bedrog is van toepassing wanneer dit by kriptogeldeenhede kom en daarom is dit makliker vir verbruikers om hulself te beskerm teen skelmstreke. Die belangrikste reël is dat jy nie al die bohaai vir soetkoek moet opeet nie en onthou as dit te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik.

Meld net aan op die internet en jy word oorval met aanbiedings van digitale geldeenhede soos Bitcoin, Ethereum, Dogecoin en Monero, met beloftes dat beleggers baie ryk kan word of dat jy dit kan myn en nog ryker word. Dit laat ʼn mens soms dink aan die goudstormloop van die 1800’s.

Maar, waarsku Carey van Vlaanderen, hoof van ESET South Africa, soos meer mense probeer geld maak uit kriptogeld, is die skelms nie ver agter nie. Dit is so eenvoudig: as jy belangstel in kripto, is daar ʼn risiko dat jy bedrieg kan word.

Die kriptorisiko

Verskeie skelmstreekskemas oor die afgelope twee jaar wys duidelik wat die risiko is om jou geld te waag in die ongereguleerde wêreld van kripto. Dink maar aan Mirror Trading International, die grootste kriptoskema nóg, wat aan die einde van 2020 ineengestort en duisende beleggers hul geld laat verloor het.

Verlede jaar was daar ook Africrypt, wat na bewering R51 miljard van beleggers se geld verloor het toe skelms by die skema se stelsel ingebreek het.

Van Vlaanderen waarsku dat bedrieërs meesters is daarvan om aktuele sake te gebruik om hul slagoffers met ʼn slap riem te vang. Hoofopskrifte en sosiale media is deel van die oorsaak met ʼn terugvoerkanaal wat die histerie aanblaas.

Die probleem is ook dat daar min, indien enige, regulasies is wat kripto beheer as ʼn mens dit vergelyk met die tradisionele aandelemarkte. Mense se belangstelling word ook geprikkel deur die hoë waardes van kripto en dit voer weer hul drome om vinnig ryk te word.

Selfs al word jou virtuele geld veilig gehou in ʼn kriptobeurs, kan skelms steeds hul hande daarop lê. Terwyl die verantwoordelike maatskappye gewoonlik sal sorg dat hul kliënte vergoed word, is daar egter nie enige versekering vir die slagoffers van kriptobedrog dat hulle hul geld sal terugkry nie, sê Van Vlaanderen.

Algemene kriptoskemas

(Foto: iStock)

Die meeste kriptoskemas is Ponzi-skemas, sogenaamde “pump and dump”-skemas, valse goedkeuring- skemas deur bekendes, valse beurse, bedrieglike apps en “phishing”.

Ponzi-skemas is beleggingskemas waar slagoffers omgepraat word om te belê in ʼn maatskappy wat nie bestaan nie of word-gou-ryk-skemas wat daarop gerig is om net die mense wat dit beheer se sakke vol te maak.

Van Vlaanderen sê kripto is ideaal geskik hiervoor omdat bedrieërs altyd op soek is na nuwe, ongespesifiseerde tegnologie om beleggers sover te kry om aan te sluit en groter virtuele winste te maak. Dit is ook makliker om data te vervals as die geldeenheid virtueel is.

“Pump and dump”-skemas word gebruik deur skelms wat beleggers aanmoedig om aandele te koop in onbekende klein kriptomaatskappye gewapen met valse inligting. Die aandeleprys styg dan en die bedrieërs verkoop hul eie aandele, maak ʼn lekker wins en laat hul slagoffers agter met hul waardelose aandele.

Valse goedkeuring deur bekende mense word ook gebruik, waar die skelms bekende mense se sosialemediarekeninge kaap of valse rekeninge open. Hulle gebruik dit dan om volgelinge aan te moedig om in valse skemas te belê. In een van hierdie skemas het die skelms $2 miljoen gesteel deur Elon Musk se naam deel te maak van ʼn Bitcoin-adres sodat dit meer geloofwaardig sou lyk.

Valse en nagemaakte beurse word ook gebruik deur skelms wat e-posse stuur of sosiale media gebruik om toegang te belowe tot virtuele kontant wat in kriptobeurse gehou word. Die enigste vangplek is dat jy eers ʼn bedrag moet betaal, maar die beurs bestaan nie. Nagemaakte beurse lyk asof dit ʼn werklike beursdiens lewer, maar wanneer gebruikers dit aflaai, sluip skadelike sagteware ook in en maak nes in jou rekenaar.

Bedrieglike apps in app-winkels kan ook gebruik word om jou persoonlike en finansiële inligting te steel of om skadelike sagteware in jou toestel te plant. Ander praat ook mense om om te betaal vir dienste wat nie bestaan nie of probeer om aanmeldbesonderhede te steel vir jou kriptobeursie.

“Phishing” is een van die gewildste maniere wat bedrieërs gebruik. Hulle gebruik e-pos, teksboodskappe en boodskappe op sosiale media om hulle soos die ware Jakob te laat lyk met ʼn dringende boodskap: Betaal in kriptogeld.

Sorg só dat jy nie ʼn slagoffer word nie

Van Vlaanderen sê jy kan sorg dat jy nie ʼn slagoffer word nie. “Die beste wapen om bedrog teen te staan is om baie skepties te wees.”

Sy waarsku verbruikers om nie hul persoonlike besonderhede te gee aan enigiemand wat ongevraagd met hulle in verbinding tree per e-pos, teksboodskappe of sosiale media nie. Dit kan selfs lyk asof dit ʼn vriend is, maar dit kan eintlik kom van ʼn skelm wat onwettig toegang tot jou vriend se e-pos of sosiale media gekry het.

“Wanneer iets te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik. Daarom moet jy enige beleggingskema met ʼn knippie sout bejeën. Gebruik twee maniere om jouself te identifiseer vir enige kriptorekening wat jy het en moenie val vir enige beleggingsgeleentheid wat vereis dat jy eers betaal nie. Moet ook nie enige sagteware by nie-amptelike app-winkels aflaai om jou teen skadelike sagteware te beskerm nie. Gebruik liewer erkende sagteware met ʼn goeie reputasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.