Verbruikersake: Leer lesse by ombudsman oor kansellasies

geld-spaar-finansies-berekeninge

(Foto: Jarmoluk/Pixabay)

Die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en Dienste het vandeesweek die jaarverslag bekend gestel. Volgens die verslag het die kantoor daarin geslaag om R7 746 375,69 terug te plaas in verbruikers se sakke deur middel van terugbetalings. Klagtes het die afgelope finansiële jaar toegeneem met 52%, van 9 529 tot 14 438 klagtes. Verbruikers het die meeste gekla oor aanlyn transaksies (27%), elektriese toestelle (15%), meubels (13%), satelliet- en kommunikasiedienste (13%), klere (7%), reisdienste (6%), kruideniersware (6%), fiksheidsdienste (5%), blyplek (4%), tyddeel (2%) en troues (2%). Ina Opperman het gaan kyk watter lesse verbruikers uit die verskillende klagtes kan leer.

Die ombudsman se kantoor het opgemerk dat heelwat klagtes (12%) verband hou met Covid-19 en die staat van inperking, veral waar geleenthede vooraf bespreek en later gekanselleer moes word.

Die troufotograaf

ʼn Verbruiker het by die ombudsman gekla oor haar troufotograaf wat bespreek is om haar troufoto’s op 19 Desember verlede jaar te neem. Sy het die deposito van R7 650 betaal, maar toe slaan Covid-19 weer toe en die paartjie het besluit om hul troue tot 18 Desember vanjaar uit te stel.

Toe hulle die fotograaf in kennis stel, het hy gesê hulle het klaar bespreek. Hy het hulle ʼn paar alternatiewe datums aangebied. Die paartjie wou nie hul nuwe planne verander nie omdat hulle reeds die nuwe datum met die onthaalplek bevestig het en hulle wou in elk geval nog altyd spesifiek in Desember trou.

Hulle het gevra dat die fotograaf hul deposito terugbetaal sodat hulle ʼn ander fotograaf kan bespreek, maar hy het geweier omdat sy voorwaardes dit duidelik maak dat die besprekingsfooi nie terugbetaalbaar was nie. Hy het egter gesê hy sal die deposito terugbetaal as hy ʼn ander bespreking vir die dag kon kry.

Die ombudsman se kantoor het die klagte oorweeg op grond van artikel 17 van die Wet op Verbruikersbeskerming wat verbruikers se reg om voorafplekbespreking of bestellings vir goedere en dienste te kanselleer, bepaal.

Volgens artikel 17 kan ʼn verskaffer, wat die bespreking of bestelling aanvaar, vereis dat verbruikers ʼn redelike deposito betaal en ʼn redelike bedrag vir die kansellering van die bespreking of bestelling hef.

ʼn Bedrag word as onredelik beskou indien dit ʼn billike bedrag in die omstandighede oorskry, met inagneming van die aard van die goedere of dienste, die kennistydperk van die kansellering en die redelike moontlikheid vir die verskaffer om die plek aan iemand anders te verkoop. Die algemene praktyk in die betrokke bedryf moet ook in ag geneem word.

Verskaffers mag nie ʼn kanselleringsfooi hef indien die verbruiker dit nie kan gebruik nie weens die dood of hospitaalopname van die persoon vir wie die plek bespreek is. Artikel 17 is nie van toepassing op konsessie-ooreenkomste of goedere op spesiale bestelling nie.

Die paartjie het dus die reg om ʼn voorafbespreking te kanselleer, maar die fotograaf het ook die reg om ʼn deposito te vra en ʼn redelike fooi te hef as hulle kanselleer. Verbruikers moet egter genoegsaam kennis gee as hulle kanselleer sodat die verskaffer genoeg tyd het om iemand anders te kry.

Gedurende die inperking was dit moeilik vir fotograwe om iemand anders te kry om die dagafspraak oor te neem en die ombudsman het dit ook in ag geneem. Volgens die verbruiker was die inperkingbeperkings egter buite haar beheer al het sy die kontrak geteken.

Aangesien die verskaffer nie beskikbaar was vir die nuwe datum nie en nog geen koste aangegaan het vir die troue nie, het die verbruiker geglo sy is geregtig op ʼn volle terugbetaling.

Toe die ombudsman navraag doen by die fotograaf oor wat hy gedoen het om ʼn ander bespreking te kry, het hy egter gesê sy bespreking vir die nuwe datum is gekanselleer en hy sal dus beskikbaar wees om foto’s by die troue te neem. Die paartjie was tevrede hiermee.

Die ooievaarstee

Nog ʼn verbruiker het by die ombudsman gekla omdat iemand wat die dekor vir haar suster se ooievaarstee moes oprig, nie haar deposito wou terugbetaal nie nadat haar suster net voor die geleentheid Covid-19 gekry het.

Die verbruiker het ʼn deposito van 50% betaal en sodra sy gehoor het haar suster het Covid-19, het sy die diensverskaffer gebel om te kanselleer. Sy het ook die bewys verskaf dat haar suster wel Covid-19 gehad het.

Die diensverskaffer het haar egter aangeraai om die bespreking net te skuif sodat sy nie die 50% van die deposito wat sy reeds betaal het, verloor nie. Aangesien dit egter nie deel van die voorwaardes was nie, het die verbruiker op ʼn volle terugbetaling aangedring, maar die diensverskaffer het net die helfte van die deposito as terugbetaling aangebied en geen rede waarom hierdie voorwaarde nie op die ooreenkoms was nie.

Die ombudsman het weer artikel 17 van die Wet op Verbruikersbeskerming geraadpleeg wat bepaal dat ʼn diensverskaffer ʼn fooi mag hef vir kansellering as die persoon vir wie die geleentheid gehou word, in die hospitaal is of gesterf het. Die verskaffer is aangeraai om die verbruiker ten volle te vergoed aangesien die persoon vir wie die geleentheid gehou word, dit nie kon bywoon nie.

Die Wet op Rampbestuur vereis dat mense wat Covid-19 kry vir 14 dae in isolasie moet bly, wat die ombudsman as dieselfde as hospitaalopname beskou. Die verbruiker se suster sou ook die wet oortree indien sy wel die geleentheid sou bywoon. Die verskaffer het saamgestem en die verbruiker ten volle vergoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.