Verbruikersake: Oppas vir skuldberading oor die foon

telefoon-oproep-bel

Foto: Berkeley Communications/Unsplash.com

Terwyl skuldberading iemand wat regtig hulp nodig het met skuld baie kan help om weer op hul voete te kom, begin hierdie manier om jou skuld te hanteer, ’n slegte naam kry omdat mense sonder hul toestemming onder skuldberading geplaas word. Sommige verbruikers het as gevolg hiervan hul huise of motors verloor. Ina Opperman verduidelik wat skuldberading is en hoe dit werk sodat jy ’n ingeligte besluit kan neem.

Verskeie verbruikers kla deesdae oor skuldberadingsmaatskappye wat hulle bel en selfs, al weier hulle skuldberading, kom hulle later agter hulle is wel onder skuldberading geplaas. Dit wil lyk asof hierdie foonpeste mense wat agter raak met hul maandelikse rekeningbetalings, teiken en hulle lok met vrae soos “Sukkel jy om jou maandelikse betalings na te kom?” en “Kan ons jou help om van jou skuld ontslae te raak?”.

Verbruikers moet onthou dat hulle nie in skuldberading ingedwing kan word nie. Sodra jy hoor dit is ’n skuldberader wat jou bel, moet jy baie ferm sê jy stel nie belang in die diens nie. En lui dan af. Moenie enige van jou besonderhede, soos jou identiteitsnommer, verskaf nie.

Dit is waar dat jy nie net moet stilbly en niks doen wanneer jy sukkel om jou skuld maandeliks te vereffen nie. Skuldberading wat gedoen word deur geregistreerde skuldberaders, ingevolge die Nasionale Kredietwet, is een van die oplossings wat jy kan oorweeg. Jy moet egter weet waarvoor jy jou inlaat wanneer jy instem tot skuldberading.

Wanneer het jy skuldberading nodig?

Jy het waarskynlik skuldberading nodig wanneer jy:

  • nie meer al jou skuld en lewenskoste uit jou inkomste kan bekostig nie;
  • geld moet leen met persoonlike lenings om ander lenings af te betaal of jou kredietkaart of oortrokke fasiliteit gebruik om vir skuld en noodsaaklikhede soos kos te betaal;
  • sommige betalings oorslaan om ander te betaal; en
  • kwaai briewe begin kry met waarskuwings van regstappe indien jy nie jou skuld betaal nie.

Wat om te doen

Wanneer jy agterkom jou uitgawes oorskry jou inkomste, kan jy eers self met almal aan wie jy geld skuld onderhandel om jou paaiemente te verlaag, maar as dit nie werk nie, moet jy daaraan dink om ’n skuldberader se hulp in te roep.

Skuldberading sluit raad in oor hoe om te begroot vir jou maandelikse uitgawes en onderhandelings met kredietverskaffers om jou maandelikse skuld te verminder en jou skuld te herstruktureer.

Wie kwalifiseer?

Mense wat ’n vaste werk het, met ’n inkomste wat gebruik kan word om die verminderde paaiemente te betaal, kwalifiseer vir skuldberading.

Gevolge van skuldberading

Indien jy skuldberading kies, sal dit die volgende gevolge hê:

  • Jy mag nie vir krediet aansoek doen terwyl jy onder skuldberading is nie; en
  • Jou kredietgeskiedenis by die kredietburo sal aandui jy kry skuldberading, totdat die skuldberader ’n klaringsertifikaat uitreik wat aandui dat jou langtermynskuld, soos jou huislening, bygewerk is en jou korttermynskuld, soos jou motor, afbetaal is.

Wenke

  • Doen net aansoek vir skuldberading by ’n skuldberader wat geregistreer is by die kredietreguleerder. Vra vir bewys van registrasie en as jy steeds onseker is, vra by die Nasionale Kredietreguleerder of the skuldberader geregistreer is;
  • Maak seker jy verstaan die skuldberadingsproses, sowel as jou regte en verpligtinge voordat jy aansoek doen;
  • As jy binne gemeenskap van goedere getroud is, moet jy saam met jou eggenoot om skuldberading aansoek doen;
  • Alle aansoeke om skuldberading moet bevestig word deur ’n hofbevel of toestemmingsbevel;
  • Skuldberading word nie gratis gedoen nie, maar die tariewe word voorgeskryf deur die Nasionale Kredietreguleerder;
  • Jy het die reg om te weet waarom jou aansoek om skuldberading nie toegestaan word nie indien dit afgewys word;
  • Jy moet nooit direk geld aan die skuldberader betaal om jou rekeninge te vereffen nie. Betaal jou rekeninge direk of gebruik ’n agent wat by die reguleerder geregistreer is;
  • Bespreek alle struikelblokke altyd eers met die skuldberader en maak seker hy\sy hou jou op hoogte van die proses;
  • Wees verantwoordelik met jou finansies wanneer jy skuldberading kry;
  • Maak seker dat jy korrekte inligting verskaf wanneer jy aansoek doen, betaal gereeld volgens die herstruktureringsplan, maak seker betalings word wel gedoen as jy ’n agent gebruik en maak seker jy begryp die proses, tariewe en implikasies;
  • Die tydsduur van skuldberading hang af van jou finansiële omstandighede en die soort kredietooreenkomste wat jy het; en
  • Loop lig vir advertensies wat belowe dat jy tot 60% kan spaar op jou maandelikse paaiemente. Skuldberading is nie ’n spaarplan nie.

Onthou!

  • Skuldberading kanselleer nie jou skuld nie. Dit help jou om met jou beskikbare inkomste maandeliks minder te betaal.

Kla hier

As jy oor jou skuldberader wil kla of ’n geregistreerde agent wil vind om jou betalings te doen, bel die Nasionale Kredietreguleerder by 011 554 2600 of besoek die webwerf by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

In hierdie artikel word slegs verwys na fiskale skuldberading. Dit skep die indruk dat, as ons as terapeute skuldberading digitaal voor met hulle wat sukkel met selfvergifnis, ons ook verdag sou voorkom.
Die meeste gevalle van skuldberading het weinig met die fiskale te doen. Daar is so baie wat nie verby die punt van selfvergifnis kom nie, wat tot ‘n regtig slegte prognose lei. Omdat afstand dikwels ‘n probleem is, doen ons skuldberading telefonies en digitaal tot tyd en wyl ons fisiese samekoms kan reël. Met groot sukses. Elke dag wat verlore gaan kan die proses, verswak prognose, en daarom dan hierdie metode om die afstand-bronne tot ons beskikking, aan te wend.
Moet dus nie afstandgebasseerde skuldberading by verstek as verdag sien nie.
Mag elke leser ‘n geseënde dag ontvang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.