Wanderlust: Hoofstuk 5

Ouma Sannie Kotzè – die langslewende van die bekende Smit-familie van Swartmodder naby Stampriet en my ouma Helie Smit van Aurora se niggie

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

Een van ons bure was oom Paai van Zyl. Eintlik moes hy oom Hotdog van Zyl gewees het (volgens neef Nico) want sy pa was nie verniet oom Dirk Rooikat nie – sulke rooi mense.

Oom Paai was ʼn legende weens sy kennis van die geskiedenis. Naweke pak die grootmense piekniekmandjies en ons vaar die berge of vlaktes in, gewoonlik op af-Sondae. En oom Paai gaan saam en praat die verhale van toeka se dae. Van die verlore kruis van Diaz wat vermoedelik iewers naby Papendorp moet wees tot by die veldslae rondom Windhoek en die wonderlike skanse uit die Boereoorlog by Oskop langs die Doringrivier. Ek luister, want muisies het mos groot ore en partykeer is dit goed. So begin dwaal my hart op die ver paaie van die geskiedenis.

Later van jare is Bull Hattingh my geskiedenisonderwyser. Hy wat die klas kon instap en dwarsdeur jou gluur met sy ylblou oge en dan beveel jy moet jou boek oopslaan op bladsy soveel-en-soveel en luister. Wat dan die “Aanleiding tot die Eerste Wêreldoorlog” met soveel passie kon verhaal dat ek stukke daarvan vandag nog kan onthou. En moenie praat as hy by die Ingelse Oorlog gekom het nie – hy staan vas dat dit “hulle” oorlog was en nie “ons” s’n nie! Maar die liefde vir die geskiedenis het hy kom vasgooi waar oom Paai gelos het.

Die lewe tel toe spoed op, en toe ek my kom kry, woon ek op die grens van Zoeloeland in Natal. Ek het ʼn aanvallige Duitse vroutjie aan my sy en vyf woelwaters wat my gedaan en dankbaar laat. En ons werk dag en nag om die pot aan die kook te hou en die duisternis uit Afrika te verdryf. So kom en gaan die jare min of meer sonder veel tyd vir Wanderlust. Maar ek lees alles wat ek kan oor die Ingelse Oorlog – soveel so dat ek later by die Vrouemonument die “Christian de Wet Annale” gaan koop. En ek lees sommer terug en vorentoe en worstel met Hitler en Kruger, Verwoerd en Mandela, en dan weer Aristoteles en Calvyn.

In 1982 kry die Sending ʼn uitnodiging van ds. Ettienne Maritz om Suidwes te besoek – destyds op Stampriet. Daai oggend toe die Cessna 210 op die vliegveldjie staan, is ek so opgewonde dat ek skoon vergeet om te gaan draailoop. Ons kon pas die Drakensberge sien, toe besef ek die grote nood en Upington was nog ver. Ek het later my belt losgemaak en dwars in die klein spasie gedraai en gewonder of ek nie maar ʼn Coke-bottel moet volmaak soos daai ou in The Gods Must Be Crazy nie. Watter wonderlike verlossing was die Pierre van Ryneveld-lughawe van Upington nie!

Met die wegtrek vertel Mamma my van oorlede ouma Helie wat nog ʼn oorlewende niggie het wat op Stampriet woon met die naam van Sannie Kotze. Só land ons die namiddag op die stofbaantjie kort agter die kerk op Stampriet en ek moet by die een of ander boer gaan slaap. Die kêrel daag daar op: so ʼn lang maere met ʼn grys hangsnor en grou oë en hy vertel my sy naam is “Oubaas”. Met die sitslag in die kar vra ek hom uit oor mev Sannie Kotze en hy antwoord dat dit sy ouma is! Net daar sit die Mercedes om en ons gaan groet vir ouma Sannie.

Binne dae leer ken ek ook haar twee ou susters, ouma Helie en ouma Johanna en hulle baie kinders. Ouma Sannie het man alleen dertien gehad! En dit woed soos klein-neefs en -niggies kom bladvat en boonop hou ons lekker kerk. Die een middag laai Oubaas vir ons in die kar en die drie oumas gaan saam en ons vat die pad via Lidfontein tot by Swartmodder. Daar vertel ouma Sannie vir ons die verhaal van die groot moord van 10 Oktober 1904 toe die Witboois haar pa en alle mansmense doodgemaak het en die wonderlike verhaal van haar broertjie wat ontkom het omdat sy hare lank was en hy ʼn rokkie aangehad het. En ek lees op die grafstene en kyk na die verlatenheid om my en ek huil. Dis my eie bloedfamilie hierdie maar meer nog; ek huil van dankbaarheid vir ʼn vrou wat man-alleen met drie klein dogtertjies en een nog-kleiner seuntjie sou terugkeer na Duitswes om die ruïnes op te bou en die beendere te begrawe. Wat ʼn staanplek vir haar kinders kom ooptrap het en die suide van Suidwes kom beset het met afstammelinge.

So stap ek en Oubaas een laatmiddag die kombuis van ouma Sannie in. Sy sit aan die tafel en drink koffie met oupa Andreas – ʼn regte Ovambo. Later groet oupa Andreas en ek vra haar uit oor hoe sy vrou-alleen met ʼn swart man kan sit koffiedrink en ginnegaap. “En,” voeg ek by, “dis inboorlinge wat Ouma se pa en familie vermoor het.” Toe hoor ek van genade en vergiffenis en hoedat jy ander mense moet vergewe sodat jy self kan lewe. Ek hoor van meerdere “inboorlinge” wat sy laat leer het en genadewerk wat gedoen word in hierdie land.

Ek kyk met dieper kyke en my hart spring hoër. Want ek besef hier is ʼn oumens wat op verder paaie as ek gestap het en by wie ek kan leer – iemand wat die kleinsieligheid van kleinboersheid afgesweer het en wat kan droom en wat lewe kan maak om haar. God was vir haar goed en sy is goed vir alles om haar.

ʼn Paar jaar later is ek en die Duitser met ʼn prekery in die Wes-Transvaal. Ons bly by die Snymans op ʼn pragtige plaas doer noord van Lichtenburg en een van oumas van die gesin woon ook daar. Hoor haar ouma was ʼn nooi Greeff en toe begin die familie-uitlêery. Later kom daar ʼn ouma Kotie aan wat die familie beter ken en ons pak die kar en ry na die plaas Manana waar Hendrik Greeff skynbaar ook gewoon het. Met die twee oues klim ons die hoogtetjie – die Wes-Transvalers noem mos heuwels “berge” – tot daar waar oupa Hendrik Greeff destyds met sy wa gestaan het.

Verwonderd hoor ek die verhaal van ʼn jagter wat met sy gesin uit Betsjoeanaland gekom het en hoe die dors hulle oorval het. Hoe hy in radeloosheid daardie oggend tot dagbreek met God geworstel en beloftes aan die Allerhoogste gemaak het. En van die groot uitkoms. Maar die storie loop aan van Nonnie Greeff wat later jare met Koos de la Rey loop trou het. Maar van De la Rey kan ek julle sekerlik niks vertel nie.

Maar waarheen is ek nou eintlik op pad? Dis die vraag. Ek staan nou by die punt dat die Wanderlust toe nie so ʼn sleg spook is nie. Want na al die ver paaie kom ek by bloedfamilie uit. Mense vir wie die Wanderlust ook beetgepak het en kyk waar staan hulle nou? Hulle het lande mak gemaak en goed gedoen. Hulle lewe en ek wil lewe.

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Eish ·

Soos altyd, saamvoel leestof waar die mense gesigte en karakters kry. Dankie Koos.
Was jy n predikant gewees?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.