Wanderlust: Hoofstuk 9

Antwerpen-katedraal (Foto: Pixabay)

Hierdie is die volgende uitgawe van Koos Greeff se reeks, Wanderlust. Sy vorige reeks, Briewe uit Bagdad, was baie gewild op Maroela Media. -Red

Die volgende paar jaar was sleg vir my Wanderlust. Net twee keer kon ek iewers heen vlie en dit nogal na Europa. Nou moet julle my maar verskoon, maar ek sien bitter min skoonheid in daai plek – maak’ie saak of dit Ingeland of Frankryk of België of Holland is nie. Ek sien net rowery. Dis nou van seerowers tot grondrowers tot geldrowers. So ek sien net slawe in kettings en oom Piet Retief-goed wat kaalvoet oor die Drakensberge vlug voor die verderf. So ek laaik die lot niks nie. Nou moet ek doer loop geld bedel en dit stuit my geheel dwars in die krop want die klomp Switsers het nog verby gekom met die kolonialisme, maar nou sit broei hulle salig op daai “bloedgeld” van hulle banke. Boonop is die meeste kerkmense daar vol van wette en plaerye en dan nog so vroom laat hulle vrek. So – dis vir my geen Wanderlust om daar vir ʼn maand te loop bedel en dit boonop sonder die Mooiste nie. En die gepyntes moes ek twee keer verduur.

Staan die een aand in die stort doer naby Antwerpen in België en geniet die klein saligheid van warm water op my seer rug. Ek staan soos ene versteend en meteens is dit pikdonker in die stort. Wonder watse donderweer het hulle nou in die middel van die winter, maar later krap ek my kop en daar kom die lig aan. Versit so bietjie en staan weer dood en daar vrek die affêre weer. Nou staan wag ek maar laat dit moet lig word maar ek wag lank en die waters loop. Later is ek uit-gestort en begin voel maar so vir die sukkelpad kamertoe. Karplaks kom die ligte weer aan. Raap en skraap my portmento en storm vir die kamerdeur. Maar die lig bly aan. Dis eers later dat ek hoor van “beweging-sensitiewe-ligskakelaars” en ek moes lag vir my onnoselgeid.

Die eendag is ek af en besluit om die katedraal in Antwerpen te besoek. Die gasheer beduie my mooi hoe ek moet stap en waar ons mekaar watter tyd sal kry. Toe ek sien dis sulke tyd, vat ek my pad. Dis koud en nat en ek loop styf toegewikkel in my geleende jas. Sien verwonderd ʼn pragtige kelnerin wat in die vertoonvenster van die eetplek ewe rustig sit. Ek verstom my oor die min klere wat die kindjie aan het en wonder of sy dan nie koud kry nie, maar toe sien ek die eetplek is so lekker warm met rooi uitgeverf en dit lyk asof daar ʼn kaggel ook brand, so “kindjie” verkluim darem seker nie.

Stap so verder op my koers toe klim hier ʼn mooie meisiekind uit ʼn plat kar uit en sy glimlag baie mooi vir my. Het nogal ewe ʼn pelsjas ook aan. Ek groet vriendelik soos dit ʼn ordentlike mens betaam, maar stap aan. Dit lyk my later asof die mense daar in Antwerpen amper so vriendelik is soos ons lot hier op Klawer. Almal groet en ek moet net keer of hulle nooi my sommer in vir ʼn koppie koffie. Maar my tyd is kort en die gasheer wag seker reeds, so ek stoot maar aan anders het ek die aanbod aanvaar.

Later die aand vertel ek my gasheer van die wonderlike vriendelikheid wat my oorval het. Toe eers hoor ek van die straatvroue van Antwerpen.

So beklim ek die vliegtuig met ʼn rug in spasma en staan omtrent die hele pad – behalwe nou as die waardinne my dreig met die dood. Maar ʼn paar weke later toe vlie ek al weer. Hierdie keer tot in Lusaka. Dis 1986 en ou Kaunda regeer nog. By die lughawe het daar skynbaar kort tevore ʼn groot geveg plaasgevind, want die goeters is breek en die rommel lê op hope. Die lot is baie sekuriteitsbewus en vyf maal laat pak hulle my my ou soetkysie uit. Later kry die sendeling van daar my darem en ons vat die pad.

Ek sit ewe reg met die kameratjie want dis nie aldag dat mens in Lusaka kom rondloop nie, maar toe hoor ek dat mens g’n regeringsgebou mag afneem nie. Dis nou van die poliesstasie tot die poskantoor en dit lyk of die hele stad aan die regering behoort. So ek los later maar die afnemery. Ons beur voort oor die bomgate wat die hele paaie vol is – lyk al amper soos daar op Sannieshof in die Wes-Transvaal deesdae. Later kry ons ʼn groot skare wat gebondel staan sommer die pad vol. Reken ou Kaunda deel seker handtekeninge uit en die sendeling praat hier deur die venster om te hoor wat gaande is. “Nee,” reken die een ou, “hierdie winkel het ʼn besending sout ingekry en die mense is vreeslik soutlus.” So verwonder ek my aan Lusaka en Kaunda se sosialisme.

Ek gaan tuis by die sendeling so ʼn entjie buitekant die stad en ons hou kerk. Elke namiddag loop draf ek so bietjie, want ek moet ook maar die pens in toom hou. Ek hol sommer so verskillende koerse in en soos die lus my oorval, draai ek af of klouter ek ʼn koppie uit. Die een middag is ek weer aan’t drawwe op ʼn ongebaande pad toe ruk my hart my tot stilstand. Hier teen die pad is ʼn afdraaitjie die bosse in, en hier staan die standbeeld van ʼn boer met sy Brahman-koei en haar kalfie. Te pragtig, die beelde. En nie sommer van so nie – nee, dis ordentlik gedress en gemess. Ek soek verniet vir name of iets – net die omie en die koue kyke van die koei en kalf. My hart raak sommer aan’t bewe en die trane loop oor my wange. Hier het ʼn mens gedroom en gewoel – soveel so laat hy ekstra geld gehad het vir klipkoeie. En nou’s daar niks nie.

Wonder nou nog waar daai boer is en wat sy storie is. Maar ek onthou hom. Sy Wanderlust het hom op ʼn doodlooppad gevat – miskien? Waarheen vat myne vir my?

Lees die vorige hoofstukke uit Koos Greeff se Wanderlust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Eish ·

Dankie Koos. Ek vertrou jou pennevrug gaan ons ook op n kol oor jou tyd as sendeling ook neem.

Sloet ·

Ai Koos, ek hoop ander reisigers sien meer mooi waar hulle heen gaan….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.