Wanneer die grond meegee…

Gesamentlike gedenkdiens vir slagoffers van die Hoërskool Driehoek-tragedie (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Hoe groet jy ʼn kind vir ewig? Hoe beweeg jy aan met jou lewe as ʼn vriend vir ewig weg is? Ek lees die artikels van die groot tragedie wat afgespeel het op 1 Februarie by Hoërskool Driehoek en my hart bloei.

Vandat ek ma geword het, ervaar ek enige geweld teen of hartseer ten opsigte van kinders baie meer intens. Dis asof ʼn hand my hart vasdruk. Vir ʼn paar sekondes voel ek hoe ék sou voel as dit my kind was wat in daardie situasie was, en ek kan nie help om te huil saam met daardie onbekende ouer wat ek seker nooit sal ken nie, maar wat deur sulke onbeskryflike pyn moet gaan.

Alhoewel ek egter wil huil saam met die ouers wat hulle kinders verloor het, breek my hart as ek dink aan die vriende en skoolmaats van hierdie kinders wat agtergebly het of dit moes sien gebeur; die ongelooflike impak wat dit op hulle lewens gaan hê…

Ek dink nie iemand verstaan hoe so iets jou jong hart kan raak, voordat jy nie self deur soveel hartseer is op so ʼn jong ouderdom nie.

Ons was met vakansie aan die einde van my standerd nege jaar, toe my nefie (wat soos ʼn broer vir ons en ʼn kind in ons huis was) oorlede is aan serebrale malaria, met ʼn uitreik na Malawi. Dit het binne vyf dae gebeur, en alles was verby. Daar was nie kans om te groet nie. En ons was nie naby genoeg vir die begrafnis nie.

Dit het my ʼn baie lang tyd geneem om daaroor te kom en vrede te maak met die idee dat hy weg is en ek hom nooit weer gaan sien nie. Dit het waarskynlik, as ek nou terugkyk, so ʼn groot impak gehad op my lewe dat dit verander het oor hoe ek dink oor die lewe en hoe ek dinge hanteer.

Ons gesin het verskillende maniere gehad om die tragedie te verwerk en dis normaal, want niemand van ons is dieselfde nie. Wat ek geleer het, is dat ons baie sensitief moet wees vir mekaar en hoe iemand anders dieselfde situasie hanteer. Vir elkeen was dit ʼn persoonlike verlies. Party van ons vat langer om sulke hartseer te verwerk. Party wil praat. Ander wil stilbly. Party wil huil. Sommiges wil kwaad wees. En dis oukei.

Ek het ook geleer kommunikasie is die beste medisyne: Om te deel hoe ons oor die tragedie voel, die goeie en mooi herinneringe van die persoon te deel, te lag (met ʼn traan), en om eerlik te wees wanneer die hartseer en verlange te veel geword het, het alles gehelp om die hart heel te maak. Daar gaan altyd ʼn litteken op mens se hart wees ná so gebeurtenis. Maar ek besef daardie litteken maak my meer sensitief vir ander wat deur so iets moet gaan. Daardie litteken laat my saam met hierdie kinders van Driehoek huil, want ek was al daar.

Ek weet ons leef in ʼn ongelooflik gebroke wêreld. Ek weet dat daar onbeskryflik slegte dinge gebeur, selfs al probeer jy self baie hard om altyd die regte ding te doen. Dit is ongelukkig die sondige wêreld waarin ons leef. Dis nie regverdig nie en ons gaan dit nie hierdie kant van die graf kan verstaan nie.

Ek dink dit is egter hoe ons op hierdie dinge reageer wat ons heel aan die anderkant laat uitkom. My gebed is dat elkeen wat deur hierdie tragedie geraak is, daaruit sal kan groei. Dat hulle eendag sal kan terugkyk en besef hoe die Here kompos gebruik het om ʼn mooi en sterker boom daaruit te kon laat groei. Dat hulle hart se littekens ook vir hulle, in ʼn wêreld vol hartseer, die vermoë sal kan gee om empatie te kan uitdeel, omdat hulle ook al daar was waar die grond meegegee het…

 

* ʼn Betonblok van Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark se loopbrug het op 1 Februarie 2019 op ʼn groep leerders ná ʼn saalopening ineengestort. Vier leerlinge is dood en nog 29 ander is met verskeie beserings na hospitale in die provinsie gehaas. ʼn 14-jarige is verlam gelaat. Lees alle berigte oor die Hoërskool Driehoek op Maroela Media. -Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.