Blitsgids tot LinkedIn-bemarking

Deur Danielle Kleyn

(Argieffoto: Pixabay)

LinkedIn is in 2013 begin en dié platform is hoofsaaklik toegespits op die bou van professionele verhoudings en netwerke en die deel van spesialiskennis. LinkedIn het meer as 660 miljoen aktiewe gebruikers wêreldwyd, wat dit ’n uiters bruikbare deel van jou bemarkingsaksie maak.

  1. Skep ’n LinkedIn-besigheidsprofiel

Die aantekenproses van LinkedIn is baie maklik. Jy gee bloot jou besigheid se naam, laai ’n profielfoto en agtergrondfoto op, en vul die “oor ons”-gedeelte van jou profiel in. Daarna word jy gevra om ’n paar vrae oor jou besigheid te beantwoord, bv. in watter industrie jy besigheid doen en in watter jaar jou besigheid geopen is.

Maak seker dat jy al hierdie vrae beantwoord, aangesien volledige profiele sowat 30% meer kyke as onvolledige profiele kry. Jy kan ook drie relevante hutstekens by jou profiel voeg om te volg. Maak ook seker dat jou werknemers weet dat jou besigheid ’n profiel op LinkedIn het, en vra hulle om die bladsy as hul werksplek op LinkedIn te lys. (Dit sal die besigheidsprofiel meer geloofwaardigheid gee.) Kyk ook gereeld na jou LinkedIn-analisebladsy om te bepaal watter plasings die beste vaar.

  1. Plaas inhoud van hoë gehalte

LinkedIn laat jou toe om ’n verskeidenheid soorte inhoud op te laai, onder meer video’s, foto’s en geskrewe teks. Onthou dat jou LinkedIn-inhoud met die bestaansrede van jou maatskappy verband moet hou. Indien jou besigheid ’n blog het, sal dit uitstekend wees om gedeeltes van die blog te deel en dan die webskakel na die volle blog by te voeg. Só kry jy mense om jou webtuiste te besoek.

Die LinkedIn-algoritme rangskik plasings aan die hand van persoonlike konneksie en die potensiaal om interaksie te verkry. Dit is handig om te onthou dat die LinkedIn-algoritme voorkeur aan video’s gee. Besighede kan ook regstreeks op LinkedIn uitsaai en selfs webinare op LinkedIn aanbied. Dit is belangrik om gereeld genoeg plasings te maak. Een keer ’n dag is ideaal, maar een keer ’n maand is die minimum.

  1. Sluit aan by groepe soortgelyk aan joune

LinkedIn-groepe laat jou toe om gesprekke te voer oor dinge wat tans in jou industrie gebeur. Indien jy nie ’n groep kry wat in jou industrie is nie, kan jy altyd jou eie groep stig. Jy kan hierdie groep stel om te verskyn wanneer iemand daarna soek in die soekenjin, of jy kan dit versteek sodat slegs mense wat genooi word, deel van die groep kan word. Moedig jou werknemers aan om aktief in hierdie groepe deel te neem deur hul spesialiskennis te deel.

  1. Betaalbare LinkedIn-advertensies

Om betaaladvertensies te genereer, sal jy eers ’n LinkedIn Campaign Manager-rekening moet oopmaak. LinkedIn-advertensies werk baie soortgelyk aan Facebook-advertensies. Die eerste stap om ’n advertensie te skep, is om ’n fokus te kies. Die drie kategorieë waaruit jy kan kies, is:

  • Sigbaarheid (brand awareness);
  • Oorweging (considerations) wat bestaan uit webtuistebesoeke, interaksie (met ander woorde, sodat mense kommentaar lewer of een van die reaksieknoppies druk) en videokyke; en
  • Omskakelings (conversions) wat bestaan uit webtuiste-omskakelings, werkaansoeke, ensovoorts.

Die tweede stap vereis dat jy kriteria vir jou teikenmark moet kies. Kies byvoorbeeld karakteristieke van jou ideale mark. Een van die groot voordele van LinkedIn-advertensies is dat jy jou advertensies kan teiken volgens mense se inligting op hul profiele.

Derdens word jou advertensieformaat gekies. Die formate waaruit gekies kan word, is:

  • Geborgde inhoud (Sponsored Content) verskyn direk op LinkedIn soos wat die persoon deur LinkedIn blaai. Dit kan in die vorm van ’n video-, foto- of roterende advertensie wees;
  • Boodskapadvertensies (Message Ads) laat jou toe om direkte boodskappe waarin jou advertensie voorkom, aan potensiële kliënte te stuur;
  • Dinamiese advertensies (Dynamic Ads); en
  • Geskrewe advertensies (Text Ads).

Tydens die volgende stap stel jy jou begroting en skeduleer die advertensie. Jy kan kies om ’n betaal-per-kliek-betaling te doen of te betaal per indruk – wat verwys na elke persoon wat jou advertensie sien. Wanneer jy al die stappe voltooi het, is jou LinkedIn-advertensie amptelik op die lug. Die laaste stap wat jy nou neem, is om die prestasie van jou advertensie te meet en, indien nodig, veranderings te maak.

Met hierdie blitsgids tot jou beskikking, word die gebruik van LinkedIn veel eenvoudiger

Vinnige feite:

Navorsing toon dat die beste tyd om plasings op LinkedIn te maak in die volgende tydvakke is: 07:45, 10:45, 12:45 en 17:45. Maandae en Woensdae is die mees suksesvolle dae om plasings op LinkedIn te maak.

  • Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.