Die impak van inflasie op lewenskoste

Deur dr. Sandra Adendorff

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die oorlog wat Rusland in Oekraïne geïnisieer het, raak ons almal; veral op ekonomiese gebied.

Asof ons nie alreeds voos geslaan is deur die ekonomie nie, wil dit voorkom asof inflasie weghol. Inflasie, oftewel die kontinue toename in pryse, is ʼn bekommernis vir almal. Energiebronne is ʼn belangrike inset vir alle produsente en weens die geopolitieke spanning met die oorlog, sal die pryse van baie produkte verhoog.

Vervoerkoste beslaan byna 15% van die inflasiemandjie op sigself (sien tabel hieronder). Daarbenewens sal die petrolprys ook die meeste ander items in die inflasieberekening beïnvloed. Dit beteken dat die inflasiekoers, wat teen 5,7% in Januarie en Februarie alreeds naby die boonste punt van die teikenband van 3-6% was, nog verder sal verhoog – veral indien die oorlog ʼn uitgerekte gebeurtenis is.

Dit is egter belangrik om te besin of die verhoging in pryse langdurig gaan wees, aangesien dit is waarna die beleidsmakers kyk indien hulle die rentekoers sal aanpas. Die inflasieteikenmodel is ʼn vooruitskattingsmodel omdat die instrument wat hulle gebruik om inflasie te beheer, naamlik die rentekoers, eers oor 18 tot24 maande die gewenste uitwerking het. Indien inflasie wel vir ʼn periode die teikenband oorskry, sal die Reserwebank weer genoop word om die rentekoerse te verhoog (die terugkoopkoers is nou 4,5% en prima-uitleenkoers 7,75%). Alle verbandlenings en skuldafbetalings sal dus toeneem.

Ons sal almal ons begrotings moet aanpas, dit is veral die arm huisgesinne wat die meeste ly weens inflasie. Jan en alleman sal hul besteding moet inkort en byvoorbeeld nie meer inkopies by duur winkels doen nie, maar eerder ander kettingwinkels besoek en goedkoper kos koop. Daarby sal ons twee maal dink oor vakansiebestemmings, aangesien brandstof nou ʼn beduidende effek op ons begrotings het. Besighede sal ook hul bestedings inperk en investering sal daaronder ly. Dit sal dan tot gevolg hê dat inflasie sal afneem. Alhoewel dit wil voorkom asof ons wel goeie oeste sal kry, word pryse internasionaal bepaal en het hierdie oeste ʼn klein effek op die internasionale voedselprys.

Ongelukkig is dit nie moontlik om eksterne gebeurlikhede, soos die duur van die oorlog en gepaardgaande probleme, te beheer nie. Die ekonomie word nadelig getref en ekonomiese groei bly ook in die weegskaal. Dit beteken dus dat ons met hoër inflasie en laer ekonomiese groei getref word en die gevaar van stagflasie in die gesig staar – aangesien werkloosheid ook nou histories hoog is.

Verlede week is aangekondig dat die werkloosheidkoers nou 35,3% beloop (derde kwartaal 2021). Dit is veral die jeugwerkloosheid wat kommer wek en meer as 66% beloop. Dit is ʼn potensiële tydbom wat sosiale probleme kan veroorsaak. Daarby is daar ook die strukturele probleme in ons ekonomie, soos onvoldoende energievoorsiening en swak omstandighede vir ons besighede, wat ons moet bestuur. Ons hoop en bid dat die geopolitieke probleme spoedig tot ʼn einde sal kom en dat ons in staat sal wees om ons ekonomie vir die toekomstige generasie te bou.

Natuurlik is dit verblydend dat president Cyril Ramaphosa die ramptoestand opgehef het. Hopelik sal ekonomiese aktiwiteite spoedig kan herstel wat positiewe sentiment en besigheidsvertroue sal stimuleer.

Gewigte van die verskillende inflasie-kategorieë volgens Statistiek Suid-Afrika (COICOP-kategorie stedelike indeks van 2019):

  • Sandra Adendorff is ʼn dosent in Ekonomie en Internasionale Handel aan Akademia en kenner op die gebied van ekonomie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nommer 7 ·

Kos is duur agv invoerbelasting. Ek vind dit vreemd dat dr. Adendorff dit nie noem nie. Indien die belasting op kosinvoere afgeskaf word, sal n mandjie kos die helfde kos.

annie ·

Moenie worry nie, gereelde verhogings in die rentekoers sal verbruikers skatryk maak. Wie hierdie konsep uitgedink het, het beslis ‘n vet hoender in die bank.

MT ·

Sandra, die geopolitieke landskap was nog altyd in beroering, ongeveer vanaf Adam & Eva se tyd. Die krisisse wat SA egter die laaste 30 jaar lamgele het, en waarvan ons nou die besmette vrugte pluk, is ‘n onbevoegde regering wat uitsonderlike prestasies op alles wat sleg en negatief is, behaal het.

Ons beleef tans ‘n self-geskepte krisis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.