Ekonomie: Mosie van vertroue vir SA

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

Die Suid-Afrikaanse ekonomie, en veral president Cyril Ramaphosa se pogings om die land se ekonomie reg te ruk, het ʼn mosie van vertroue uit ʼn belangrike buitelandse oord gekry.

Die Internasionale Finansieringskorporasie (IFC) sê beleggers is nou meer optimisties oor die land en sy vooruitsigte teenoor ʼn jaar gelede.

Dié organisasie is ʼn filiaal van die Wêreldbank. Die groot taak van die IFC is om hulp aan ontwikkelende lande te verleen en veral sektore waar gewone burgers tot die ekonomie kan toetree, soos landbou.

Die IFC skryf die verandering in sentiment toe aan die leierskapsrol wat Ramaphosa speel om die land se ekonomie uit die moeras te red. Ontleders wys daarop dat staatskaping, korrupsie en bedrog die staat se ekonomiese vooruitsigte geknou het.

Dit het, onder meer, tot ʼn lae ekonomiese groeikoers en ʼn steeds stygende werkloosheidsyfer gelei.

Die bestuurder van die IFC in Suid-Africa, Saleem Karimjee, sê daar is ʼn groot verskil in stemming teenoor ʼn jaar gelede. Hy voeg by dat beleggers hierdeur beïndruk is.

Volgens hom begin dit dividende betaal deurdat beleggers nou met ʼn meer optimistiese bril na Suid-Afrika kyk.

Sedert Ramaphosa in Februarie vir Jacob Zuma as die land se president vervang het, het markte kwaai wipplank gery. Sake- en verbruikersvertroue het ʼn hupstoot gekry voordat dit teruggesak het.

Faktore wat die Ramaphosa-marklopie in die kiem gesmoor het, sluit, onder meer, die gronddebat en die Mynbouhandves in wat tot onsekerheid oor ekonomiese beleid gelei het.

Eksterne faktore was die Amerikaanse handelsoorlog teen China, die ekonomiese insinking in Turkye en die volgehoue sterkte van die Amerikaanse dollar en ruoliepryse.

Nog ʼn knou vir Ramaphosa was die tegniese resessie wat die land vanjaar betree het. Die mediumtermynbegrotingsraamwerk het ook ʼn donker prentjie geskets wat Moody’s Investor Service as krediet negatief beskryf het.

Ondanks die prentjie, meen die IFC dat Ramaphosa stappe gedoen het om onsekerhede uit die weg te ruim. Die sluit in die hersiening van die Mynbouhandves en vordering met die gronddebat. Die organisasie sê dit het gehelp om onsekerheid onder die loep te neem.

Volgens Karimjee begin beleggers meer gemaklik voel oor die rigting waarin Suid-Afrika beweeg. Hy wys daarop dat beleggers veral onsekerheid verpes en het tot onlangs die vraag gestel hoe die land se toekoms gaan lyk.

Die IFC het ongeveer $450 miljoen in Suid-Afrikaanse maatskappye oor ʼn vyf jaar periode belê. Die IFC se kommentaar kom ʼn paar weke ná Ramaphosa se beleggingskonferensie waar maatskappye R290 miljard se beleggings oor die volgende vyf jaar beloof het.

Hy sê dit sal ʼn beduidende rol speel in Ramaphosa se doelstelling om $100 miljoen oor die volgende vyf jaar te verkry om beleggings ʼn hupstoot te gee.

Sergio Pimenta, die IFC se visepresident vir die Midde-Ooste en Afrika, sê beleggers kyk met ʼn fyn oog oor hoe die langtermynvooruitsig gaan ontwikkel. Hy sê ofskoon die land se ekonomiese vertoning op ʼn kwartaalgrondslag pap was, beleggers meer optimisties is dat die verandering in beleid ʼn betekenisvolle impak op die land se groeikoers sal hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Heinrich ·

DIe IFC se slim woordkeuse spreek boekdele. Dat dit “beter gaan as ‘n jaar gelede” sê beslis nie alles loop nou klop-disselboom nie. Dis maar ‘n verskuiwing van baie sleg na sleg. Hoe kan enige iemand verwag dat ‘n organisasie met ‘n kommunistiese grondslag ‘n bloeiende ekonomie kan vestig.

henk ·

Wonder of die ouens wat so vertroue het weet van al die korrupsie en plaasmoorde? Is hulle ingelig?

Gemaskerde Sopbeen ·

Daar is ‘n verskil tussen “belegging” en “lening” ou Cyril…..jy moet wakker slaap.

Lagwekkend ·

Beide die Wêreldbank en die IFC is deel van die sataniese Geldmag en daarom word geen woord van hulle af as respek waardig geag nie. Inteendeel. Bose mense ondersteun bose planne.

H.A. ·

Lagwekkend, almal wat aan die anc geld leen of deur beleggings is kommuniste ondersteuners van kommunisme ! Lyk vir my almal wil kommunisme lewendig hou. Dalk is kommunsme die nuwe wêreld orde ? Tyd sal leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.