Gewilde Afrikaanse saketoekennings trek nuwe baadjie aan

Tinteltong Toekennings word jaarliks in samehang met Internasionale Moedertaaldag gevier . (Foto: Rozier van Tonder/Hello Deer/Verskaf)

AfriForum Sakenetwerk se Tinteltong Toekennings verruil vanjaar hul jaarlikse spoggerige toekenningsaand vir ʼn padreis na vyf streke oor die hele land om entrepreneurs wat woeker met Afrikaans in hul tuisdorpe te besoek en beloon.

Tinteltong Toekennings word jaarliks in samehang met Internasionale Moedertaaldag gevier om innoverende Afrikaanse entrepreneurs in verskillende kategorieë te bekroon, van handelsname en kos wat Afrikaans praat tot trotse Afrikaanse produkte vir trippeltoontjies.

Entrepreneurs en lede van die publiek het jaarliks die geleentheid om enige onderneming te benoem, waarna ʼn kortlys opgestel word vir mense om voor te stem.

Sedert die ontstaan van AfriForum Sakenetwerk se Tinteltong Toekennings in 2016 is meer as 90 ondernemings, waaronder bekende handelsmerke soos Vannie Kaap, Magies vol Liefde, Klerekas.com, Lapa Uitgewers, Bril, Funky Ouma, Idees Vol Vrees, Koer en vele meer, met ʼn toekenning bekroon.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, sê vanjaar se toekennings vind egter in streke plaas om sodoende die kompetisie se voetspoor uit te brei en by meer ondernemings uit te kom.

“Ons wil ondernemings en entrepreneurs in hul eie gemeenskap bekroon, daar waar hulle die hart van die gemeenskap is – die mense wat die ekonomie op eie bodem aan die gang hou. Mense wat dit doen sonder om erkenning te verwag, wat ʼn hart vir die gemeenskap het en elke dag hul beste gee om ander se lewe ook te verbeter deur die werk wat hulle op mikro-ekonomiese vlak skep,” sê Van der Walt.

Johanitta Eksteen van Funky Ouma en Sanderien van der Walt van AfriForum. (Foto: Rozier van Tonder)

Sy noem verder dat sommige ondernemings as Tinteltong-wenners ook direk sal deurdring na die semi-finaal van AfriForum Sakenetwerk se gesogte Entrepreneur van die Jaar-kompetisie – wat later in die jaar plaasvind en kontantpryse asook mentorskappe op die spel het.

Die AfriForum Sakenetwerk is ʼn unieke gebruikersgids waarop Afrikaanse ondernemings (of Engelse ondernemings wat hul dienste of produkte óók in dié taal kan aanbied) gelys word.

Daar is tans meer as 20 000 sakeondernemings wat deel is van dié gids.

Die datums en streke vir vanjaar se Tinteltong Toekennings-padreis is soos volg:

  • 16 Februarie – Potchefstroom, Noordwes
  • 21 Februarie – Pretoria, Gauteng
  • 22 Februarie – Grootbrak, Suid-Kaap
  • 27 Februarie – Kimberley, Noord-Kaap en Vrystaat
  • 29 Februarie – Blouberg of Durbanville, Wes-Kaap

Vir meer inligting oor vanjaar se Tinteltong Toekennings, besoek AfriForum Sakenetwerk se webblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.