Huurdeposito: Betaal met bitcoin

(Foto: iStock)

In ’n opwindende deurbraak vir Suid-Afrika sal huurders binnekort hul deposito’s in kriptogeldeenhede soos bitcoin of ethereum kan betaal.

Quorum Holdings, ’n groep wat spesialiseer in kommersiële eiendom, bekostigbare wooneenhede asook studentebehuising, is die eerste aanspraakmaker om aan huurders die opsie te bied om hul deposito uit hul digitale beursie te betaal en só munt te slaan uit die potensiële langtermynstyging in waarde wat kriptogeld kan inhou.

Hoewel huurdeposito’s standaard is in Suid-Afrika en gewoonlik een maand se huurgeld is, trek huurders gebruiklik geen voordeel uit dié geld wat dikwels vir jare in die verhuurder se sak lê en ’n potensiële renteopbrengs bied nie.

Volgens Saul Mayers, groepregshoof van Quorum Holdings, sal die aanvaarding van kriptogeld aanvanklik by sy nuutste ontwikkeling in Johannesburg, Forest Views (in Bramley naby Melrose Arch), ingestel word. Na gelang van die aanvraag sal dit na die groep se ander eiendomme in Gauteng en die Wes-Kaap uitgebrei word.

Quorum Holdings besit ’n stewige portefeulje eiendomme wat op medium termyn ongeveer 3 000 wooneenhede in Johannesburg sal bereik, asook 5 000 beddens in studenteverblyf deur sy filiaal Urban Circle.

“Ons is baie opgewonde oor dié innoverende manier van sake doen. Ons huurders is meestal jong professionele mense wat enersyds ’n goeie kennis van die wêreld van digitale geld het en dit andersyds al hoe meer op die proef begin stel,” sê Mayers.

Die kriptodeposito’s word in Quorum Holdings se Luno-beursie gehou. “Luno is die land se grootste kriptoverhandelingsplatform. Dit gee aan huurders die gemoedsrus dat hul deposito veilig in die kuberruim gehou word. Die huurder pluk die vrugte van enige styging in die waarde van die kriptogeldeenheid oor die tydperk van die huurkontrak,” sê Mayers.

Gestel die deposito is R5 000 (wat gelykstaande is aan byvoorbeeld 0,01 bitcoin) en bitcoin se waarde verdubbel oor die huurtydperk, sal die huurder se 0,01 bitcoin dus R10 000 werd wees en sal hy dié bedrag ontvang as sy deposito terugbetaal word.

Brad Bentz, finansiële direkteur van Quorum Holdings, meen dit is juis buigsaamheid, innovering en kreatiwiteit wat in vandag se uitdagende ekonomiese omstandighede nodig is. “Die skep van nuwe norme stel ons in staat om nie net bestaande bates te verbeter nie, maar ook om bates met ’n hoë opbrengs in nismarkgebiede te ontwikkel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Dom idee. Wat van as hy val en jy wil trek – jy moet maar net wens elke keer as jy trek is dit meer en hoe gaan dit beheer word. Hier kom SARS. :)

Reinhardt ·

Maak nie sin nie. As jy trek en die waarde van die BTC is minder, dan hou jy dit tot dit weer groei sekerlik? Meeste mense wat BTC besit verkoop dit nie, hulle hou dit. So dit sou nooit gebruik word in die eerste plek nie. Geskiedenis het al bewys dat BTC altyd groei in die langtermyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.