In gesprek met Converge Solutions – kunsmatige intelligensie en groot data

Deur Charl Oberholzer

Van links is Kobus van der Merwe, Johann Joubert en Jaco Cromhout. (Foto: Okay Deer)

In 2020 is Converge Solutions deur Start-up City as een van Afrika se toptien-kleinbesighede aangewys. Converge gebruik tegnologie soos kunsmatige intelligensie (KI), masjienleer (machine learning) en neurale netwerke om IT-oplossings vir veral die finansiële-, gesondheids- en vervaardigingsindustrieë te skep. Waar prosesse geoutomatiseer of groot data in praktiese inligting verwerk moet word, daar is Converge Solutions.

Converge Solutions se begin

“Om ’n IT-start-up te begin, waar 98% van soortgelyke maatskappye binne vyf jaar vou, is nie maklik nie – veral nie in die huidige wêreldkonteks nie,” sê Johann Joubert, uitvoerende hoof van Converge Solutions. Converge is in 2017 deur Johann, Jaco Cromhout en Kobus van der Merwe begin ná jare lange frustrasie en korporatiewe rompslomp.

“Ons wou ’n direkte impak maak in die industrieë waarin ons werk,” sê Johann.

Themis, Brutus en Lula

Converge Solutions maak gebruik van verskeie produkte om oplossings vir besighede te bied. Themis is ’n platform wat met KI werk om voorspellings te maak oor moontlike bedrog, vermorsing en misbruik van hulpbronne. Dié platform word gebruik om geldwassery, terrorismebefondsing en Ponzi-skemas te bekamp.

“Klassieke bedrogoplossings is te duur, te stadig, te ingewikkeld en hul tegnologie is verouderd en reël-gebaseerd. Themis is ’n ontwrigtende, baanbrekersproduk wat met meer as 500 algoritmes werk en ’n risikogebaseerde benadering volg. Dit is ’n enkele gebruikersvriendelike toepassing wat bedrog in verskeie bedrywe van begin tot einde bestuur, insluitend finansiële instellings, mediese skemas, versekeringsondernemings en bedrywe waar transaksionele data vloei,” sê Johann.

Hoe werk dit?

“Themis identifiseer gedragspatrone en ander tendense deur gebruik te maak van ’n kunsmatige intelligensie-enjin waardeur gestruktureerde en ongestruktureerde data ontleed word. Dit word in ons eie werkvloei-oplossing geplaas met ’n ouditspoor wat enige buitengewone gedrag of tendensverandering, gebaseer op die kliënt se besigheidsprotokolle, identifiseer,” sê Johann.

Hierdie platform kan ook historiese datastelle verwerk en binne sekondes ’n verslag lewer, wat ’n mens andersins maande sou neem om te saam te stel.

“Die menslike element bly natuurlik steeds krities, want die uiteindelike besluit berus by die forensiese ondersoekers om die data te interpreteer en gevolgtrekkings te maak. Oor die laaste paar maande het ons gereeld meegeding teen internasionale organisasies wat al vir dekades lank bedrog in die bankwese bekamp,” sê Johann.

“Ons het Themis verder aangepas en uitgebrei om voorsiening te maak vir die hele forensiese- en bedrogaspek wat mag voorkom wanneer blokketting (blockchain) gebruik word. Dié stelsel noem ons Brutus.

“Ons stelsel Lula werk met kunsmatige intelligensie en bied ongelooflike resultate vir enige vervaardiger in die snelbewegende verbruiksgoederemark. Dié stelsel fokus per produk en per winkel in die kleinhandelarena, waar dit vervaardigers ondersteun met data rakende interaksies met handelaars, voorraadbeheer, verkope asook numeriese verspreiding per produk, area en provinsie – dit is uniek aan Lula.”

Converge Solutions het ook onlangs hospitale bygestaan met ’n stelsel wat verpleegskofte beter kan beplan op grond van pasiënte se kritiese toestand. Verder het hulle ook besighede gehelp om op ’n digitale manier makliker toegang te hê tot hul historiese- en bestuursverslae.

Uitdagings

Van links is Kobus van der Merwe, Johann Joubert en Jaco Cromhout. (Foto: Okay Deer)

“Omdat ons ’n diverse reeks produkte bied, is kontantvloei ’n konstante uitdaging,” sê Johann.

Volgens hom is waagkapitaal nie altyd ’n opsie nie, omdat hulle dikwels meer as 50% van die besigheid teen ’n minimale kapitale inspuiting en streng bepalings wil bekom.

“Ons het doelbewus besluit om alles wat ons besit en alle wins terug in die maatskappy te ploeg sodat ons heeltyd kan innoveer, verbeter en nuwe produkte kan skep.”

Breë-basis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) speel ook altyd ’n rol vir besighede in Suid-Afrika. Volgens Johann probeer hulle juis daarom om nie net op Suid-Afrika te fokus nie, maar ook om besigheid te probeer doen buite die landgrense.

“Wat interne personeelaanstellings betref, is ons aanslag dat ons mense oorweeg op meriete alleen,” sê Johann.

Die Covid-19-pandemie het Converge Solutions ook hard getref en het hulle in 2020 met ’n negatiewe groeikoers van 58% gelaat weens projekte wat uit- of afgestel is. Hulle beraam egter dat hulle 2021 met tussen 20% en 30% sal kan groei.

“Ons fokus nou meer op produkte wat ’n vinniger omset en korter verkoopsiklus het,” sê Johann.

Selfontwikkeling en doelwitte

Johann sê hy gebruik toepassings soos Blinkist en 12min om vinnig deur boeke te kan werk. Die boeke boaan sy lys is:

  • Let’s Get Real or Let’s Not Play deur Mahan Khalsa
  • Never Split the Difference deur Chris Voss met Tahl Raz
  • Talk like TED deur Carmine Gallo
  • The 4-Hour Workweek deur Timothy Ferriss

Doelwitte is ook vir Johann en sy span belangrik: hulle stel en hersien doelwitte weekliks. Hy sê doelwitte moet altyd haalbaar wees, selfs al moet jy soms ook groot dink en groot risiko’s neem om dit te kan behaal.

Raad vir ander entrepreneurs

  • Moet nooit opgee nie. Moeilike tye skep geleenthede vir groei en innovasie, en leer jou nuwe maniere om deur die storm te navigeer;
  • Luister na ander, maar volg jou eie gut; en
  • Moenie net praat nie, doen. Om te begin, is die moeilikste stap in jou reis na sukses.
  • Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.