Kleinhandelaar sukkel in tawwe mark

Mr Price. Foto: Randridge Mall.

Die Suid-Afrikaanse kleinhandelaar Mr Price het bloedneus in Australië gekry en Vrydag aangekondig dit het besluit om sy winkels in die land te sluit na swak opbrengste.

Mr Price het sedert 2015 ʼn klerewinkel en twee meubelwinkels in Australië bedryf as deel van ʼn toetsfase om te kyk of dit na die land sal kan uitbrei.

Mr Price is een van vele Suid-Afrikaanse maatskappye wat in Europa en Australië groener weivelde gaan soek het.

Die besluit om aan Australië te onttrek, het markte onkant betrap juis omdat Mr Price besig was om die groep om te draai.

Mr Price het die aankondiging gedoen tydens die uitreiking van sy finansiële uitslae. Die groep het aanvanklik van sy handelsmerke, onder meer, Mr Price Home en Mr Price die klerewinkel onder een sambreel in dié land gekonsolideer.

Die besluit om die winkels te konsolideer, het nie uitgewerk nie. Mr Price se bestuur het daarna besluit om sy finansiële hulp vir die groep op te skort.

Mr Price het vroeg in April die besluit geneem en sy hulp aan sy Australiese operasies gestop. Die direkteurs van Mr Price Australië het die maatskappy vroeg in Mei onder administrasie geplaas.

Volgens dié aankondiging het die maatskappy reeds sedert April sy handeloperasies daar opgeskort.

Mr Price sê die besluit sal nie ʼn materiële uitwerking op die groep hê nie.

In 2003 het Mr Price ses proefwinkels in Chili gesluit.

Ontleders wys daarop dat Mr Price ʼn baie versigtige uitbreidingsplan gevolg het voor sake in Australië verkeerd geloop het.

Die winkelgroep sê hy is gedwing om die besluit te neem omdat winste in Australië laag was. Boonop was die Australiese mark ’n taai neut om te kraak weens die kwaai mededinging in die kleinhandelsektor daar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Klant ·

Die groot probleem met SA klerewinkels is die hoë wins wat hulle verwag. Ons klere is deesdae plaaslik duurder as bv. in Europa. My dogter, wat in Europa woon, bring gereeld vir my klere saam vanuit hul winkel en dan is dit geprys vanaf 1 Euro tot 20 Euro. Daar is ook gereeld groot uitverkopings op die klere – vandaar 1 Euro! En die kwaliteit is veel beter as die Sjinese klerasie wat skaars die eerste was oorleef.

wielie ·

Ja nee die Chinese klere in Australia is spot goedkoop. My sussie daar se dis goedkoper om n nuwe langbroek te koop as om n zip in te sit. Hulle koop klere teen baie goedkoper pryse as in SA. Nogal n skok vir haar gewees om te sien wat is die prys van klere in SA toe hulle in 2018 kom kuier het!

Wielspore ·

My pa en ma het gedurende die jare 70’s gehelp met die oopmaak van Pep Stores winkels, soos dit daardie tyd bekend gestaan het. Pep Stores was gemik op die mark vir goedkoop klere vir die massas. Ons as kinders het lang ure by die winkels spandeer op Thaba Nchu, Tweespruit, Hobhouse en Ladybrand. Hierdie was ‘n reuse sukses vir die groep en destydse eienaar, Renier van Rooyen. Hulle konsep was eie klere fabriek, eie winkel, beste prys.
As ek vandag baie kapitaal gehad het, sou ek dieselfde konsep begin het, goedkoop klere vir die massas.
Laastens, ek het Desember vir my ‘n broek by die Billabong fabriek in Jeffreysbaai gekoop vir R250, dieselfde broek kos in Nelspruit by ‘n winkel in die Mall R799.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.