Minister moet landbou as bate sien – TLU SA

Enoch Godongwana, minister van finansies. (Foto: Twitter)

TLU SA versoek met die oog op Donderdag se mediumtermynbegroting nou die minister van finansies, Enoch Godongwana, om die landbouprodusent as Suid-Afrika se grootste bate te beskou.

“Dit is belangrik om ’n gunstige omgewing te skep om seker te maak [landbouprodusente] kan aanhou produseer,” sê Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, met verwysing na die “buitensporige” styging van insetkoste wat boere se winsgewendheid onder druk plaas.

“Dit beteken boere moet keuses maak om steeds daardie produkte te lewer wat tot tekorte in sommige kommoditeite kan lei. ’n Groot woord van dank moet teenoor die landbouwaardeketting uitgespreek word wat in die afgelope tyd in ongunstige omstandighede steeds voldoende voedsel produseer om gesonde en bekostigbare voedsel op verbruikers se tafel te plaas.”

Maroela Media het vroeër vandag berig Godongwana sal Donderdag sy eerste mediumtermyn-begrotingsbeleidstelling (MTBPS) lewer. Dié beleidstelling het ten doel om ’n aanduiding te gee van die voorgenome fiskale beleidsrigting vir die medium termyn, oor die volgende drie jaar.

Van Zyl sê Suid-Afrika se ekonomie word tans gekenmerk deur rommelstatus, werkloosheid, lae ekonomiese groei, hoë vlakke van misdaad en wantroue in die regering.

“Die prys van kader-ontplooiing is te hoog weens die gebrek aan kundigheid. Die storting van bykomende finansiële ondersteuning is inderdaad net wat dit sê, naamlik storting, maar ongelukkig in bodemlose putte.”

Van Zyl meen die regering moet beter voorsiening maak vir rampe ten einde die kommersiële boere in produksie te behou.

“Dit is ’n ope vraag of die ideologiese omgewing wat die ANC nastreef hom enigsins kan leen tot die regte dinge wat behoort te gebeur.

“Daar moet ernstig besin word of daar voortgestu kan word met die huidige benadering. Die begroting kan net tot sy reg kom as ’n aantal netelige kwessies aangepak word: roei korrupsie uit, staak kader-ontplooiing en stel kundiges aan, besnoei uitgawes en neem met elke besluit die impak van ekonomiese groei in ag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vexed ·

Ja dit is nou alles goed en wel, maar, die hoed bekommer my…

Andrew ·

Sy hoed en pak is nie a kleur paar nie. En sy veer en das se kleure is ook bietjie af. Wys jou, jy kan nogsteeds twak lyk al dra jy n R10 000 stel klere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.