’n Groot week vir die rand

geld-finansies-rand-note

Argieffoto.

Die rand as geldeenheid gaan hierdie week twee groot struikeblokke moet oorbrug, naamlik die Reserwebank (SARB) se rentekoersbesluit Donderdag en Moody’s Investor Services se kredietgraderingsbesluit Vrydag.

En tussen die twee gebeure en markreaksie is daar kommer oor Eskom se vermoë om krag te voorsien sonder om beurtkrag toe te pas. Ontleders voorspel dat die huidige reeks beurtkrag Suid-Afrika waarskynlik in nóg ’n resessie kan dompel.

Andre Botha, ’n senior valutahandelaar by TreasuryONE, sê dit is juis die twee faktore wat die rand onbestendig sal laat verhandel – Moody’s en rentekoerse.

Boonop is buitelandse faktore, veral die verswakking van die Turkse lira wat die rand se wisselkoers kan ontwrig. Die plaaslike geldeenheid het Vrydag weer ’n pak slae gekry nadat die lira met 5% verswak het weens kommer oor die daling in Turkse valutareserwes.

Botha wys daarop dat die Turkse probleem ontluikende markte gepootjie het en dit het veral die rand geknou.

Oor die SARB se rentekoersbesluit meen Botha dat dit waarskynlik is dat die monetêre beleidskomitee die Amerikaanse Federale Reserweraad se voorbeeld sal volg deur nie nou al met rentekoerse te peuter nie.

Die trae ekonomiese groei wêreldwyd en swakker handelstoestande sal waarskynlik die sentrale bank dwing om nie nou al tot aksie oor te gaan nie, was sy sienswyse.

Ondanks die verskerpte pogings om beurtkrag toe te pas en kommer oor ontluikende markte, waarvan Suid-Afrika een is, meen Botha dat die land net-net die graderingsvalbyl sal vryspring.

Hy meen dat die rand grootliks deur die faktore beïnvloed kan word wat onstuimigheid op valutamarkte kan meebring.

Die terugkoopkoers, dit is die koers waarteen die SARB vir handelsbanke geld leen, beloop 6,75%. Die prima-uitleenkoers is 10,25%.

Intussen sê Elize Kruger, ’n senior ekonoom by NKC Research, dat daar wel probleme in die land is wat beleggers tot versigtigheid sal dwing.

“Ek voorspel dat Moody’s hul vooruitsig vir die land van stabiel na negatief sal verander en waarskynlik die land binne 2 tot 18 maande sal afgradeer,” het sy gesê.

Kruger wys daarop dat met die verkiesing op hande en met konkrete planne om die staatsdiens se loonrekening te verklein en veranderinge by Eskom aan te bring deur dit in drie afsonderlike bedryfsoperasies te verdeel, waarskynlik tyd vir die regering sal koop.

“Moody’s sal waarskynlik ’n wag-en-sien-houding inslaan om te sien hoe die veranderings geïmplementeer word,” het sy gesê.

Maar sy waarsku dat die huidige vlaag beurtkrag en druk wat dit op ekonomiese groei gaan plaas, tot versigtigheid gaan lei.

Kruger sê teen die huidige trant is daar afwaartse druk op die ekonomie wat nie oornag herstel sal kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.