Plaaslike ekonomie kry weer ʼn hou ná inkrimping

mynboubedryf-02

Foto: Wilhei/Pixabay.com

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het weer in die derde kwartaal ʼn hou gekry, toe swak produksie in die mynboubedryf en ʼn kwynende vervaardigingsektor daartoe gelei het dat die plaaslike ekonomie met 0,6% ingekrimp het, het Statistieke Suid-Afrika Dinsdag gesê.

Tydens die tweede kwartaal van die jaar het die Suid-Afrikaanse ekonomie effens meer rooskleurig gelyk, toe die ekonomie met ʼn gewysigde 3,2% gegroei het. Dit het egter weer gegly toe mynbou met 6,1%, vervaardiging met 3,9% en die vervoer-, bergings- en kommunikasiebedryf met 5,4% in die derde kwartaal gedaal het.

Die daling in mynbou was hoofsaaklik weens die daling in die produksie van platinumgroepmetale, steenkool en ystererts. Goud het egter in die derde kwartaal ʼn positiewe beweging gesien, volgens die produksie- en verkopesyfers vir September vanjaar.

Die inkrimping in die vervaardigingsektor was hoofsaaklik toe te skryf aan die afname in die vervaardiging van basiese produkte vir yster, staal en masjinerie, asook produkte wat verband hou met petroleum, chemikalieë en plastiek. Positiewe winste is in die derde kwartaal gemeld in die vervaardiging van voedsel, drank en vervoer.

Die vervoerbedryf se 5,4%-daling is volgens SSA die grootste kwartaal-tot-kwartaal-daling sedert 1993. ʼn Afname in die aktiwiteit wat met vrag- en passasiersvervoer verband hou, het groei in die derde kwartaal gedemp.

Argieffoto (Foto: Matthew Miles/Unsplash.com)

Landbou het sy derde agtereenvolgende kwartaal van inkrimping beleef. Laer produksie is aangeteken vir gewasse soos mielies, koring, sonneblomsaad, tabak en sojabone.

Intussen sê SSA die konstruksiebedryf kon nie daarin slaag om die resessie waarin hy hom bevind te ontduik nie en het dus sy vyfde agtereenvolgende kwartaal van negatiewe groei geregistreer. Aktiwiteite wat verband hou met woon- en nieresidensiële geboue, asook konstruksiewerk het afgeneem.

Die bedryf het steeds R106 miljard tot die algehele toegevoegde waarde in die derde kwartaal van 2019 bygedra, maar dit was tog laer as die hoogtepunt van R110 miljard wat in die vierde kwartaal van 2016 aangeteken is.

Die swak prestasie van die konstruksiebedryf word ook weerspieël in ander gegewens. SSA het onlangs berig dat die openbare sektor in vaste bates soos geboue, voertuie, grond en toerusting tussen 2017 en 2018 met 8,2% gedaal het (huidige pryse), terwyl die besteding aan nuwe konstruksiewerk oor dieselfde periode met 11,3% gedaal het.

Die handel, regering en finansiële sektore het egter positiewe bydraes tot die ekonomie gelewer, met positiewe groei in groothandel, motorhandel en akkommodasie wat die handelsbedryf met 2,6% verhoog het. ʼn Toename in staatsdiensverskaffing in provinsiale regering en instellings vir hoër onderwys het algemene regeringsdienste met 2,4% laat styg.

Besteding is ook op die agtervoet

Die besteding aan reële bruto binnelandse produk (BBP) het in die derde kwartaal van 2019 met 0,3% gedaal.

Huishoudelike verbruiksuitgawes (HVU) het in die derde kwartaal met 0,2% gestyg, wat 0,1 van ʼn persentasiepunt tot die algehele groei bygedra het.

Argieffoto

Die belangrikste positiewe bydraes tot die groei in HVU was uitgawes aan voedsel en nie-alkoholiese drank (1,0% en ʼn bydrae van 0,2 persentasiepunt) en restaurante en hotelle (3,2% en ʼn bydrae van 0,1 persentasiepunt). Uitgawes aan klere, behuising, meubels en ontspanning het egter gedaal.

Finale verbruiksbesteding deur die regering het met 1,3% gestyg. In die derde kwartaal is toenames in werkverskaffing en besteding aan goedere en dienste gemeld.

Bruto vaste kapitaalvorming het met 4,5% gestyg. Die belangrikste bydraes tot die toename was masjinerie en toerusting, ander bates en vervoertoerusting. Die sterk invoer van masjinerie en toerusting het die toename in die bruto vaste kapitaalvorming ondersteun.

Daar was ʼn onttrekking van voorraad van R9,5 miljard in die derde kwartaal van 2019. Groot daling is vir die vervaardigings-, handel- en mynbedrywe gemeld.

Netto uitvoere het wel in die derde kwartaal positief bygedra tot die groei in die uitgawes aan BBP. Die uitvoer van goedere en dienste het met 3,5% gestyg, grootliks beïnvloed deur toenemende handel in groenteprodukte, edelmetale en klippe, asook voertuie en vervoertoerusting.

Die invoer van goedere en dienste het egter ook met 6,8% gedaal, hoofsaaklik gedryf deur ʼn afname in die invoer van minerale produkte.

Die groter prentjie

Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, sê die swak BBP-syfers in die derde kwartaal is kommerwekkend. “Wat egter vir ons uitstaan, is die groeikoers van slegs 0,3% vir 2019 Januarie tot September. Hierdie syfer is ook kommerwekkend laag en beteken dat probleme soos armoede en werkloosheid baie moeilik hokgeslaan sal word.”

Uit die syfers blyk weinige aanduidings dat die pres. Cyril Ramaphosa-administrasie se pogings tot hervorming werklik besig is om die skip om te draai, sê hy. “Die werklikheid is dat drastiese beleidshervorming met ʼn groter toewyding tot sekerheid oor privaat eiendom en markvriendelike beleid nou dringend nodig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Plastiek Toekoms ·

Maar die bevolking groei, werkloosheid groei, misdaad groei, so die regering vaar eintlik goed!

Freddie ·

Toe Cyril by Zuma oorgevat het, het hy plegtig belowe dat hy elke week vir sy kantoor sou vra hoeveel nuwe werksgeleenthede die week geskep is. Dit is nou bogpratery, met ‘n hoë bevolkingsaanwas en super lae ekonomiese groei word basies geen werk geskep nie. En nou is onteiening sonder vergoeding deeglik op die tafel. Dit gaan die ekonomie en werksgeleenthede verder strem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.