Bestuur jou geldsake reg oor die Kerstyd

(Foto: iStock)

Deur Maretha Botes

Die nuwe jaar, met vele finansiële uitdagings, lê voor die deur. Kenners waarsku teen skuld oor die Kerstyd, en sê hoe jy Januarie met ʼn positiewe bankbalans kan ingaan.

Na ʼn dol jaar, is dit die natuurlikste ding om jou skoene uit te skop en asem te skep. Die een ding wat jy egter nié die vakansieseisoen moet rustig vat nie, is jou bereidwilligheid om te begroot. Want voor jy weet is jou beursie leeg, bankbalans op nul en staan jy platsak voor die Nuwejaar.

Melissa (43) en Johan (47) van Straten van Bloemfontein en hul twee tieners het ʼn paar jaar terug besluit hoewel Kerstyd ʼn tyd van gee is, hulle nié Kersgeskenke koop nie. Melissa sê: “Ons het jaarliks gesien hoe ons hardverdiende geld in geskenke gestort word en daar bittermin oorbly om die vakansie te geniet. Kom Januarie moet ons elke sent omdraai, want Desembermaand het die geld opgeslurp in onnodighede. Deesdae doen ons dinge ʼn bietjie anders. Ons kyk watter skoolbenodighede ons aan die begin van Desember reeds kan aankoop, betaal die eerste skoolgeldpaaiemente van die nuwe jaar en indien daar enige skuld is, probeer ons dit delg. Só weet ons ʼn groot deel van Januarie se uitgawes is reeds gedek, en kan ons ʼn bietjie ontspan. Ons begroot altyd vir ʼn vakansiewegbreek en het ook ʼn daaglikse begroting, sodat ons nie oorspandeer of skuld maak nie. Wanneer ek inkopies gaan doen, neem ek altyd my lysie en koop niks meer as dit wat ons nodig het nie. Ek probeer ook om sonder die kinders inkopies te doen, want hulle kan ʼn mens nogal maklik oortuig om allerlei ekstras in die waentjie te sit.”

Shelby le Roux (34) en haar verloofde, Ricky Maree (37) van Vanderbijlpark in Gauteng, sê hulle kyk dwarsdeur die jaar uit vir spesiale aanbiedinge by winkels. Só vul hulle hul “geskenkelaai” aan met oulike geskenke vir oud en jonk. Wanneer Desember kom, is daar genoeg geskenke in die laai en hoef hulle nie hul bonus op geskenke uit te gee nie. “Ons het beide groot families wat daarvan hou om feestyd te kuier en geskenke te gee,” sê Shelby. Sy voeg by dat hulle nooit oordadig en baie groot gee nie. “Ons hou dit klein en spesiaal en in baie gevalle bruikbaar,” sê sy. Aan die einde van die jaar kyk dié paartjie altyd hoeveel skuld hulle het, en probeer soveel as moontlik daarvan uit hul bonusse afbetaal.

Vermy skuld dié Kerstyd

Carla Oberholzer, skuldadviseur van Debtsafe, sê gegewe jy, jou mede-Suid-Afrikaners en die res van die wêreld steeds finansieel-uitputtende uitdagings in die gesig staar, is dit vanselfsprekend dat jy ʼn blaaskans wil neem en die feesseisoen wil geniet sonder om oor enige geldsake te bekommer. “Maar is dit egter die moeite werd om addisionele, Kersfeesverwante slegte skuld (duur geskenke, hope kersversierings, ekstra reis- of kosuitgawes waarvoor jy nie behoorlike begroot het nie) aan te gaan tydens die feesseisoen? En, kan jy werklik wegskram van wat dit jou sal kos, bo en behalwe alles wat jy onlangs moes aanpak? Onthou: enigiets wat jy ekstra op krediet koop, hoop op die ou end op en is ʼn ‘geskenk’ wat sal aanhou om jou van finansiële vryheid te beroof. Die enigste ‘gee’-aspek om ‘slegte’ skuld by jou lys van gewone finansiële verpligtinge te voeg, is om op die ou end, by te dra tot oorverskuldigheid,” sê sy.

Neil van der Walt, bemarkingsbestuurder van Debtsafe, sê: “Vanuit DebtSafe se 2022-navorsingsresultate is dit duidelik dat winkelrekeninge die tipe skuld is waarmee verbruikers hoofsaaklik agterstallig is. Daarom moedig ek jou en die res van die Suid-Afrikaanse gemeenskap aan om nie toe te laat dat die ‘Grinch’, ook bekend as ‘slegte’ skuld, jou toekomstige finansiële pogings bederf nie. Aangesien dit die seisoen van gee is, gee jouself en jou gesin ʼn kans op ʼn veilige, volhoubare finansiële toekoms. En, omdat skuld nog jare by jou kan spook, vermy liewer enige ekstra Kersinkopies gedurende die feesseisoen.”

Wat is ‘slegte’ skuld en hoekom moet jy dit vermy?

‘Slegte’ skuld is krediet wat:

  • Gebruik word vir items wat nie blywende of langtermyn waarde het nie.
  • Weinig doen om jou finansiële posisie te verbeter.
  • Jou rykdom verminder.
  • Geneig is om hoër rentekoerse as ander/ ‘goeie’ skuld te hê (‘goeie’ skuld is die teenoorgestelde van ‘slegte’ skuld en is krediet wat jy gebruik vir sinvolle beleggings wat kan help om jou welvaart op te bou of jou inkomste oor tyd te kan verhoog. Dink aan ʼn studielening, huislening of voertuigfinansiering).

Voorbeelde van ‘slegte’ skuld:

  • Kredietkaarte (wat tydens Kersinkopie-uitstappies gebruik word);
  • Persoonlike lenings (‘skuldherwinning’ – wanneer jy ʼn lening aangaan om ander/ nuwe skuld af te betaal (byvoorbeeld vir nie-beplande Kersgeskenke);
  • Tydelike lenings;
  • Betaaldag-/ kontantlenings; of
  • Kettingwinkel-/ klererekeninge (wat gebruik word tydens ‘koopterapie’-uitstappies).

Gaan eerder voort met ʼn behoorlike, persoonlike skuldbestuursplan hierdie Kersseisoen en hou ook by jou Kersbegroting. Hier is hoe:

  1. Weet wat jou finansiële situasie weerspieël en wat die bedrag van jou totale skuld is – Het jy onlangs deur ʼn paar van jou bankstate geloer, jou skuld-tot-inkomste verhouding bepaal en jou kredietrekord nagegaan? Weet wat aangaan in jou finansies en watter ‘slegte’ skuld om te vermy/ so gou moontlik uit die weg te ruim – dit kan die waarskuwingsteken wees wat jy nodig het om enige feestelike besteding hierdie jaar hok te slaan.
  1. Hou by jou toegekende Kersbegroting – Buiten jou Desembermaandbegroting (inkomste – uitgawes = surplus/ minus totaal), moet jy ook die begrotingsbedrag insluit wat jy beskikbaar het vir enige Kersfeesverwante spandering.

ONTHOU: Dit is die ‘geskenk van herinnering’-seisoen wat nie noodwendig in jou geld omgesit kan word nie (of, terloops, die bank se geld, met ander woorde – skuld).

  • Stel jou inkopie- en voorraadlys op en hou daarby.
  • Moenie (aanlyn of in die winkels) rondsnuffel nie.
  • Hand-/ Tuisgemaakte geskenke is ʼn biljoen dollar werd in sentiment – gebruik wat jy beskikbaar het (of wat jy kan aanbied, vaardigheidsgewys). Maak ʼn heerlike suurlemoenstroop met daardie suurlemoene van jou suurlemoenboom of gee vir jou ouma ʼn geskenkbewys om binnekort haar gratis haarsny te kan kom kry. Idees en kreatiwiteit is eindeloos.
  • Gaan deur die winskopierakke by die winkels en maak seker dat jy die items benodig wat jy aankoop én dat dit wel teen afslag aangebied word.

ʼn Tyd vir herinneringe gee

Carla sê: “Dit is belangrik om voortdurend te werk aan jou persoonlike skuldbestuursplan. Doen altyd ʼn bekostigbaarheidsbepaling voordat jy enige skuld aangaan (selfs Kersfeesskuld), want dit sal jou help om vas te stel of die skuld nie meer nadelig vir jou situasie is nie. Moenie toelaat dat slegte skuld die pretbederwer word wat jou feestyd, of enige toekomstige Kersfees verwoes nie. ʼn Geseënde Kersfees gaan nie oor die hoeveelheid geld wat jy spandeer nie; dit gaan oor die mense met wie jy kwaliteittyd spandeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.