Geen rede om kapitaalwinsbelasting te vrees

Deur Ruan Breed

Ruan Breed

Benjamin Franklin het gesê twee dinge is seker: belasting en die dood.

Die verskil tussen die twee is dat die dood nie erger word elke keer wanneer die regering nuwe regulasies aankondig nie. En terloops, jy betaal nie belasting nie, die regering vat belasting.

Die einde van die belastingjaar bring altyd die werklikheid van belasting na die voorgrond en skielik besef individue en besigheidseienaars dit is tyd om hul belastingbeplanning te bekyk. Dit is belangrik om die belastingimpak en struktuur rakende beleggings te ondersoek en te verstaan, want die belastinggaarder kan en sal na jou portefeuljegroei kyk om vas te stel wat hom toekom.

Belasting het baie tegniese aspekte en daar is verskillende reëls wat op verskillende inkomste verdien van toepassing is. Die een belasting waarvoor beleggers veral versigtig is, is kapitaalwinsbelasting (KWB) op beleggingsportefeuljes.

Belasting en jou beleggingsportefeulje

Baie beleggers is maar omgekrap wanneer hulle belasting moet betaal, veral KWB, omdat hulle waarskynlik beter staatsbesteding of dienslewering vir hulle bepaalde omstandighede verwag.

Gevolglik kies sommige beleggers beleggingsopsies wat laer opbrengste sal lewer en dus ʼn laer KWB‑verpligting sal beteken. Die vraag om te vra is dit: Sal dit beter wees om beleggings te maak in opsies wat uitstekende groei sal lewer en dus ʼn hoër belastingverpligting gaan beteken of sal die belegger meer tevrede wees met ʼn laer belastingverpligting maar ondergemiddelde opbrengste?

Daar is positiewe korrelasie tussen die belastingverpligting op daardie groei wanneer die bate verkoop word. As die belegging werklik fantasties gevaar het, gaan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) beslis aan die deur klop. Maar voor jy die ondergemiddelde opbrengste kies, kyk na hierdie voorbeeld van twee verskillende besluite en die belastingimplikasie.

Die volgende belasting is van toepassing op individue:

  1. Inkomstebelasting: Belasting op ʼn salaris of inkomste uit ander bronne.
  2. Kapitaalwinsbelasting (KWB): Hierdie belasting word gehef op die toename in die waarde van ʼn bate (verkoopprys minus die oorspronklike aankoopkoste). Dit is belangrik om te onthou dat hierdie belasting slegs van toepassing is wanner die bate (byvoorbeeld eiendom, aandele, grond) verkoop word en net wanneer die verkoopwaarde hoër as die aankoopwaarde is.

Kom ons kyk na belegger een en belegger twee, wat elkeen R1 miljoen as ʼn erfporsie ontvang het. Albei het ʼn marginale belastingkoers van 18% en het besluit om in verskillende portefeuljes by twee verskillende welvaartbestuurders te belê. Albei het dieselfde tydhorison van vyf jaar – Januarie 2015 tot Desember 2019. Hierdie is die prestasie van hulle beleggings en die belastingimplikasie:

Belegger een:

  • Belegging in ʼn portefeulje wat grootliks blootstelling het aan Suid-Afrikaanse aandeelfondse en SA‑kontant en ‑effekte.
  • Opbrengs van 7% per jaar vir vyf jaar.
  • Kapitaal na afloop van vyf jaar: R1 402 551 voor KWB.
  • Groei: R402 551
  • KWB op groei: R26 103
  • Netto bedrag beskikbaar na belasting: R1 376 448.

Belegger twee:

  • Belegging in fondse wat grootliks in buitelandse aandele belê.
  • Opbrengs van 15% per jaar vir vyf jaar.
  • Kapitaal na afloop van vyf jaar: R2 000 000
  • Groei: R1 000 000
  • KWB op groei: R119 040
  • Netto bedrag beskikbaar na belasting: R1 880 960.

Belegger twee het meer as vier keer die belastingverpligting van belegger een, maar belegger twee het R500 000 meer as belegger een aan die einde van termyn.

Onthou dit is selde moontlik om jou brood aan albei kante gebotter te kry – gesonde groei én die minimum belasting. Soos genoem, die bedrag KWB wat betaalbaar is korreleer met die groei van ʼn portefeulje. Baie beleggers kla dus oor die belastinglas en hoeveel belasting betaalbaar is wanneer kapitaal onttrek word of skuiwe na ander opsies gedoen word nadat goeie opbrengste verdien is.

Hoewel die bostaande voorbeeld eenvoudig is (daar is baie ander faktore wat oorweeg moet word), onthou ten alle tye: jy moet kies tussen uitstekende groei en dus meer belasting of middelmatige prestasie en laer belasting en uiteindelik minder kapitaal.

Trek voordeel uit regstreekse beleggings in die buiteland teenoor beleggings in bateruil, rand-gedenomineerde fondse.

Daar is twee maniere om in buitelandse bates te belê:

  1. Belegging in bateruilfondse wat in die plaaslike geldeenheid geprys word, hoewel die fondse nooit werklik uit SA is nie. Die belegger behaal presies dieselfde opbrengs op dieselfde bate en wisselkoersskommelinge (bv. rand teenoor dollar) word ook ingeprys.
  2. Regstreekse belegging in die buiteland waar rand vir ʼn buitelandse geldeenheid uitgeruil word. Die belegger ontvang dieselfde opbrengs as in opsie een.

Daar is een klein belastingvoordeel waarvan baie beleggers nie bewus is nie. Wanneer kapitaal in ʼn bateruilfonds belê word (opsie een), sal depresiasie van die rand én die groei in die bate effektief albei belas word.

Wanneer kapitaal regstreeks in dieselfde buitelandse bates belê word, word KWB slegs op die groei van die onderliggende bate wat gekoop word, gehef. Daar is geen belasting betaalbaar op die verswakking van die rand teenoor die dollar (of ander geldeenheid) nie.

Gevolglik: As jy aanspreeklik is vir KWB op ʼn beleggingsportefeulje, beteken dit dat jy die regte keuse gemaak het rakende bates waarin jy belê.

ʼn Boete is ʼn belasting vir iets wat jy verkeerd gedoen het. ʼn Belasting is ʼn boete vir dit wat jy reg gedoen het.

Jy sal aanspreeklik wees vir een daarvan. Besluit self watter een is die beter opsie.

  • Ruan Breed is ʼn beleggingsadviseur by Brenthurst Wealth Stellenbosch. [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fritz ·

Een van Magnus Heystek se manne. Magnus is die enigste adviseur na wie ek ooit luister.

WILLEM ·

KWB kan verminder word deur tot R350,000 p.j. in ‘n UA in te betaal.
Ek hou nie van belasting en fooie nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.