Jou testament, jou koninkryk, jou nalatenskap

Alex Simeonides, uitvoerende hoof van Capital Legacy (Foto verskaf)

Deur Alex Simeonides, hoof- uitvoerende beampte van Capital Legacy

Die wyle koning Goodwill Zwelithini, koning van die Zoeloe-nasie, die grootste monargie in Suid-Afrika, is vroeër vanjaar oorlede ná ʼn heerskappy van meer as 53 jaar. Sy afsterwe het ‘n hele reeks dramatiese gevolge gehad wat nog steeds afspeel in die publieke oog en in die howe.

Eerstens, in sy testament het hy sy vrou, koningin Mantfombi Dlamini-Zulu, benoem as monarg van die bedroefde Zoeloe-nasie. As daar in gedagte gehou word dat die koning in ‘n poligame gebruiklike huwelik betrokke was en dat daar ‘n aantal vroue en kinders is wat eise mag wil instel teen die boedel, is dit te verstane dat daar onderlangs ‘n bietjie gestoot en gestamp gaan word. Nietemin, niemand het verwag dat die nuut-aangewysde monarg slegs ‘n paar weke later sou wegval nie en dat haar testament haar seun as die nuwe koning sou benoem nie.

Hierdie gebeure is gou betwis deur die wyle koning se eerste vrou, koningin Sibongile Dlamini, en haar dogters. Koningin Sibongile Dlamini eis 50% van die boedel omdat sy aanvoer dat sy en die wyle koning sedert 1969 in die burgerlike reg getroud is en daarom binne gemeenskap van goedere. Haar dogters betwis die testament op gronde dat die koning se handtekening vervals is en die testament daarom nie geldig is nie.

President Cyril Ramaphosa het onlangs die wysiging op die Wetsontwerp op gewone huwelike goedgekeur wat uiteensit dat vroue wat volgens gewoontereg getroud is tot ʼn gedeelte van die gesamentlike boedel geregtig sal wees tydens die afsterwe van hul gade of tydens egskeiding, want die huwelik word as binne gemeenskap van goedere geag, indien dit geregistreer word. Dit sluit natuurlik notariële huwelike, wat ʼn huwelikskontrak het, uit. Hierdie onlangse verwikkeling mag nog verdere komplikasies veroorsaak gedurende die bereddering van die wyle koning se boedel.

Nou wonder jy dalk waarom hierdie saak vir ons as Suid-Afrikaners belangrik is. Die werklikheid is dat meer as 75% van Suid-Afrikaners afsterf sonder om ‘n geldige testament in plek te hê. Jy mag dalk nie ‘n Zoeloe-koning wees met miljoene in bates nie, maar jy is beslis koning van jou eie koninkryk en baas van jou eie (en jou gesin se) nalatenskap.

Ongeag van wat jy van die Zoeloe-koning mag dink, het hy ‘n goeie voorbeeld gestel vir alle Suid-Afrikaners, deur tyd te bestee om sy sake in orde te kry en sy testament op te stel. Te veel Suid-Afrikaners stel uit tot dit te laat is, en dit kan hartverskeurende gevolge hê vir hul gesinne en afhanklikes.

Selfs met ‘n testament in plek, kan die bereddering van die boedel ‘n langdradige proses wees met baie kwessies wat mag kop uitsteek. Die grootste knelpunte is dat die testament se geldigheid in gedrang gebring kan word deur ander familielede en dat ‘n kontantvloei probleem kan ontstaan as gevolg van ‘n gebrek aan likiditeit in die boedel.

Met dít in gedagte is dit wys om die volgende eenvoudige riglyne, om jou koninkryk te beveilig, in ag te neem.

  • Moenie uitstel nie

Jy weet jy moet jou testament opstel – so kry dit gedoen. Laat jou foon jou herinner. Voeg dit by op jou lewenslysie. Plak ‘n nota op jou yskas. Wat dit ook al verg – kry dit net gedoen.

  • Gesels met ‘n professionele persoon

Ja, jy kan ‘n selfdoen-testament opstel of ‘n sjabloon aflaai as jy sou wou – maar sou jy dit wou waag met so ‘n belangrike taak? Jy weet nie wat jy nie weet nie, maar ‘n professionele persoon weet om die regte vrae te vra. Jy stel eintlik net jou testament eenkeer in jou lewe op en dateer dit ook net ‘n paar keer op, so hoekom nie seker maak dat dit die eerste keer behoorlik gedoen is nie – die gevolge van ‘n fout maak is ernstig.

  • Handgeskrewe wysigings

Hierdie kan soms onduidelik wees en daarom onafdwingbaar. Of soos in die geval van die wyle koning Zwelithini, ‘n rede vir iemand om sy testament se geldigheid te bevraagteken wat in hierdie unieke geval uiteindelik die troonopvolging affekteer. Stel eerder ‘n nuwe weergawe op as jy veranderinge wil aanbring of dit wil opdateer sodat daar absolute sekerheid is met betrekking tot jou finale wense.

  • Onderteken jou testament

Dit klink dalk belaglik om hierdie punt te beklemtoon, maar die realiteit is dat daar te veel mense is wat die poging aanwend om hulle testament op te stel maar nooit sover kom om dit te onderteken nie. ‘n Testament sonder ‘n handtekening word deur die howe beskou as ‘n ongeldige testament. Dis belangrik dat jy jou testament onderteken in die teenwoordigheid van twee getuies wat deur die hof ontbied mag word indien jou handtekening bevraagteken word, om te getuig dat hulle gesien het hoe jy die testament onderteken het. Die getuies moet ook in staat wees om te getuig dat hulle mekaar die testament sien onderteken het.

  • Jou getuies moet onafhanklike getuies wees

Onafhanklike getuies word beskou as persone wat nie voordeel uit jou testament sal trek nie. Daarom sluit die Wet op Testamente jou begunstigdes, jou gade, jou eksekuteur en trustees, voogde wat jy dalk aangewys het vir jou minderjarige kinders asook die gades van hierdie partye uit.

  • Sorg vir die veilige bewaring van jou testament

Maak seker dat jy nie afsterf en niemand weet waar jou testament bewaar is nie. Dit gebeur elke dag en maak die poging wat jy aangegaan het om te verseker dat jou wense noukeurig neergepen is, tot niet. Bewaar ‘n kopie by jou op ‘n veilige plek en maak seker jou eksekuteur het ook ‘n kopie in sy/haar besit.

Dit gebeur meer dikwels as wat mens besef

Die lot van die erfgename van die Zoeloe-koninkryk berus nou by die howe. Die kans bestaan dat daar ‘n uitgerekte en onaangename stryd sal wees omdat daar so baie in gedrang is. Hierdie verhaal speel hom amper elke dag af met gewone Suid-Afrikaners se boedels wat betwis word en morsige familietwiste – maar uiteraard kry bitter min van hierdie gevalle die media-aandag wat die wyle Zoeloe-koning s’n tans kry.

Hopelik is die een positiewe resultaat wat uit hierdie saak mag voortspruit, dat meer en meer Suid-Afrikaners besef dat hulle nie koninklikes hoef te wees om hulle sake in orde te kry nie.

Die opstel van jou testament mag na ‘n oorweldigende taak lyk, maar as jy enige navrae het of dalk veranderinge aan jou huidige testament wil aanbring, om te verseker dat jy jou nalatenskap aan jou geliefdes nalaat, besoek gerus www.capitallegacy.co.za

Velde met * word verplig.

Kontak Eksekuteurs

Jou naam*
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.