Meer SA vroue as mans besit ’n huis

Argieffoto (Foto: Tierra Mallorca/Unsplash)

Meer vroue as mans besit tans eiendom in Suid-Afrika. Dit is ook al hoe jonger vroue wat deesdae trotse huiseienaars word. Data toon boonop dat vroue minder geneig is om geld te leen as mans.

Data van die maatskappy Lightstone toon dat vroue tans 3,9 miljoen (57%) van Suid-Afrika se byna 7 miljoen formeel geregistreerde residensiële eiendomme besit. Die eiendom is óf op hul eie naam óf word gesamentlik saam met ’n man of ’n ander vrou besit.

Hayley Ivins-Downes van Lightstone Property sê dit wys dat vroue ’n toenemend belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie speel.

Die eiendomme wat tans op Suid-Afrikaanse vroue se naam is, maak tans 53% van die totale waarde van Suid-Afrikaanse eiendomme (R6 787 triljoen) uit. Die waarde van eiendomme wat deur vroue besit word, het egter die afgelope jaar effens gedaal.

Luidens die data is die meeste vrouehuiskopers (38%) tussen 36 en 49 jaar oud. Sowat 33% is egter jonger as 35 jaar oud.

Die meeste Suid-Afrikaanse vroue koop eiendom van tussen R500 000 en R1 miljoen in hul 30’s en 40’s.

Ongeveer 50% van eiendomme wat aan vroue oorgedra word, word teen tussen R500 000 en R1 miljoen gewaardeer. Al meer vrouekopers neem in ooreenstemming met markneigings verbande van tussen R1,5 miljoen en R3 miljoen uit.

Volgens Lightstone is vroue minder geneig om huislenings uit te neem as mans: 77% van aankope deur vroue (alleen of saam met ’n ander party) is gedoen met behulp van ’n verband, vergeleke met 84% deur mans.

Vroue is ook minder geneig om geld te leen as mans: 12% van hierdie mans het ’n tweede verband uitgeneem, vergeleke met 8% van vroue. Die gemiddelde primêre verbandwaarde wat deur vroue uitgeneem is, was ook sowat 20% laer as dié van mans.

Verbande aan vroue het aansienlik toegeneem vergeleke met tien jaar gelede. In 2022 was mans verantwoordelik vir 50 000 van alle verbande wat uitgereik is, terwyl vroue vir 43 000 verantwoordelik was. Dit het nou verander na 63 000 vir mans en 67 000 vir vroue.

Die skoner geslag is ook vinnig besig om mans in te haal wat motorfinansiering betref.

Vroue was verlede jaar verantwoordelik vir 45% van die verkope van gefinansierde nuwe voertuie. Dit vergeleke met 41% in 2019.

Wat gebruikte voertuie betref, was vroue verantwoordelik 33% van gefinansierde verkope. Dit is marginaal hoër as die 32% in 2019.

“Die data wys mans is meer geneig om gebruikte voertuie te koop, wat verantwoordelik is vir meer as twee-derdes van verkope, en nuwe voertuigverkope aan mans het ook oor die vyf jaar gedaal, van 59% tot 55%,” sê Andrew Hibbert, data-ontleder van Lightstone Auto.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

johan ·

Daar moet in gedagte gehou word, blanke mans kwalifiseer glad nie meer so maklik vir enige lenings nie. Banke gee baie maklik lenings aan vrouens en dit geld op motor finansiering ook.

Nommer 7 ·

Johan, dit is nie waar nie. Banke maak geld uit lenings. Hoe meer lenings, hoe meer winste. Ras of geslag maak nie saak nie.

piet ·

Nee dis twak. Die bank sal jou finansier as jy kredietwaardig is andersins nie, ongeag ras of geslag. Hoe meer geld die bank kan uitleen hoe meerverdien hulle rente. So hulle gaan definitief nie iemand uitsluit wat finansieel kwalifiseer nie.

Nommer 7 ·

My observasie is dat jong vroue huise koop en afbetaal, waar jong mans eerder ‘n 4×4 bakkie koop, en afbetaal.

Karoo ·

Hoor Hoor…. Dames is nes bouers, en niks keer haar om dit self te doen nie. Goeie Mans is skaars so hulle maak hulle eie sekuriteit bymekaar.

De Bok ·

Hierdie statistiek is nie heeltemaal eerlik nie, want gesamentlike besit word gemeet as vroue-besit.

Leuens… Verdomde leuens… Statistiek

Karoo ·

Liz Taylor het eentyd gese, I am a good housekeeper, when ever I divorce, I get to keep the House.

Stephen ·

Die grootste rede hiervoor is dat egpare wat buite gemeenskap van goedere getroud is alles op die vrou se naam sit om die mans te verskans wat gewoonlik n besigheid besit. In die hedendaagse tyd is dit dom om die eiendom op die man se naam te sit.
So die stelling dat meer vrouens as mans eiendom besit moet beter verduidelik word.

Karoo ·

Mense, tye het verander. Ons het vir ons dogters gese, julle eerste eindom, al is dit hoe klein, koop jy op JOU naam, as jy trou, hou jy dit eenkant. Dit het ‘n groot las van ons skouers af geneem om te weet sou dinge anders uitdraai, het die dogters darem nog hulle eie plekkie.

piet ·

Vrouens heg meer waarde aan ‘n eie huis dink ek. Ek sal maklik in ‘n tent bly. Getroude ouens met ‘n gesin sal natuurlik probeer om ‘n huis te koop as hulle kan maar dis meer gesinsgeorienteerd as enigiets anders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.