Verbruikersake: Pasop hiervoor as jy ’n kontrak teken

Argieffoto. (Foto: Scott Graham/Unsplash)

Om ʼn kontrak te teken is nie so eenvoudig as om net op die stippellyn te teken nie. Wanneer jy daar teken, kan jy hou hele lewe of finansies wegteken as jy nie eers lees waarvoor jy teken nie. Jy moet die ondertekening van ʼn kontrak met omsigtigheid benader, want as jy ʼn kontrak teken wat nie volledig ingevul is nie of een wat onregverdige voorwaardes bevat, kan jy eindelose probleme vir jouself skep. Ina Opperman verduidelik waarvoor jy moet ligloop.

Jy het regte wanneer jy ʼn kontrak teken, maar onthou voorkoming is beter as genesing. Dit is baie beter om te dink voordat jy teken as om daarna te sukkel om die kontrak gekanselleer te kry. Een van die belangrikste wenke om in gedagte te hou wanneer jy ʼn kontrak teken, is om nooit ʼn kontrak te teken wat nie ten volle en behoorlik ingevul is nie.

As jy ʼn kontrak teken wat net halfpad ingevul is, kan die ander party enigiets in die oop ruimtes invul en jy sal sukkel om te bewys dat dit nie daar was toe jy geteken het nie. Moet nooit toelaat dat verkoopspersone jou druk om te teken met stories soos dat die aanbod binnekort sal verval en jy sal verloor as jy nie nou teken nie. Betaal eerder later meer, maar moenie onder druk teken nie.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 48 van die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm jou teen onbillike, onredelike en onregverdige kontrakvoorwaardes. Hierdie afdeling bepaal dat verskaffers nie ʼn kontrak met jou mag aangaan vir die verskaffing van goedere of dienste op ʼn onbillike, onredelike of onregverdige wyse nie.

Hierdie terme mag nie in die kontrak wees nie

Volgens artikel 48 mag verskaffers nie:

  • van jou vereis om afstand te doen van jou regte, ʼn verpligting te aanvaar of hom te vrywaar van aanspreeklikheid op grond van onredelike of onbillike onderhandelinge nie
  • kontrakte gebruik wat buitensporig eensydig is ten gunste van enigiemand anders as jy, die verbruiker, nie
  • kontrakte gebruik wat valse voorstellings bevat nie
  • kontrakte gebruik wat staatmaak op ʼn valse, misleidende of bedrieglike voorstelling nie
  • kontrakte sluit op grond van onderhandelinge, voorwaardes of kennisgewings wat onbillik, onredelik, onregverdig of gewetenloos is, of feite bevat wat nie behoorlik verduidelik is nie.

Loop lig vir hierdie voorwaardes

Regulasie 44(3) van die wet bepaal dat hierdie bepalings in ʼn kontrak onbillik is, tensy die verskaffer in die omstandighede kan bewys dat dit nie onbillik is nie.

Voorwaardes is onregverdig wanneer dit:

  • die verskaffer se aanspreeklikheid vir die dood of persoonlike besering van die verbruiker uitsluit of beperk, indien dit veroorsaak word deur die verskaffer se optrede of nalatigheid.
  • jou wettige regte om billike vergoeding te eis van die verskaffer of enige ander party wat iets verkeerd doen verwyder of beperk en dit sluit jou reg in om geld te weerhou wat jy moet betaal as jy teen die verskaffer eis.
  • die verskaffer se plig om sy agente se ooreenkomste na te kom, beperk.
  • die verskaffer se gesamentlike aanspreeklikheid (waar een persoon verantwoordelik is vir die optrede van ander) vir sy agente beperk.
  • jou dwing om verantwoordelikheid te aanvaar vir die betaling van die handelaar se aanspreeklikheid teenoor ander partye.
  • jou reg om op die statutêre verweer van verjaring staat te maak uitsluit of beperk.
  • die normale reëls oor die verdeling van risiko tot nadeel van die verbruiker wysig.
  • die verskaffer toelaat om die oorspronklike prys waarop ooreengekom is, te verander sonder om die kontrak te kanselleer.
  • die handelaar toelaat om die bepalings van die kontrak te verander, wat die aard van die goedere of dienste insluit.
  • die handelaar die reg gee om te bepaal of die goedere of dienste ooreenkomstig die kontrak verskaf is.
  • die verskaffer die eksklusiewe reg gee om enige voorwaarde van die ooreenkoms te interpreteer.
  • die verskaffer toelaat om die ooreenkoms eensydig te kanselleer sonder dat jy dit ook kan doen.
  • die verskaffer toelaat om ʼn ooreenkoms sonder billike kennisgewing te kanselleer, behalwe as jy ʼn belangrike deel van die kontrak oortree het, soos om nie te betaal nie.
  • jou verplig om aan al die voorwaardes te voldoen, terwyl die verskaffer dit nie hoef te doen nie.
  • slegs die verskaffer toelaat om die uitvoering van die ooreenkoms te systap of te beperk.
  • slegs die verskaffer toelaat om te besluit of die ooreenkoms hernu moet word of nie.
  • die verskaffer toelaat om onredelik lank te neem om die ooreenkoms na te kom.
  • die verskaffer toelaat om ʼn betaling te hou wat jy gemaak het wanneer jy versuim om die ooreenkoms te sluit of uit te voer, sonder om jou die reg te gee om met dieselfde bedrag vergoed te word indien die verskaffer versuim om die ooreenkoms te sluit of uit te voer.
  • vereis dat jy meer as die handelaar se skadevergoeding moet betaal as jy nie die ooreenkoms nakom nie.
  • die verskaffer toelaat om ʼn baie hoë fooi van jou te eis vir gebruik, reg of prestasie of uitgawe wanneer een van julle die kontrak kanselleer.
  • die verskaffer toelaat om sy pligte aan iemand anders oor te dra sonder jou toestemming of tot jou nadeel.
  • jou reg beperk om die goedere te verkoop deur ʼn beperking te stel op die oordraagbaarheid van enige handelswaarborg.
  • jou dwing om ʼn feit te erken of ʼn stelling te maak wat nie in jou guns is nie, tensy jy genoeg tyd gehad het om die stelling of erkenning te oorweeg en dit is dan ook die verskaffer se plig om jou op die verklaring te wys en die betekenis daarvan aan jou te verduidelik.
  • voorsiening maak daarvoor dat ʼn verklaring van die verskaffer, wat vir jou belangrik is, jou bereik het, tensy dit per geregistreerde pos gestuur is.
  • jou reg om regstappe te neem of enige ander wettige manier om vergoeding te verkry beperk of uitsluit en dit sluit in dat ʼn klagte deur arbitrasie opgelos moet word, wat nie deur die wet of ander wetgewing gedek word nie.
  • die bewyse wat tot jou beskikking is beperk of ʼn bewyslas op jou plaas wat gewoonlik die verantwoordelikheid van die verskaffer is.
  • ʼn verjaringstydperk vasstel wat korter is as die gewone tydperk waarin jy regstappe kan doen.
  • die verskaffer die reg gee om wettige of ander koste te eis wat meer as gewoonlik is as jy nie dieselfde reg het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.