René du Preez: ʼn Finansiële en emosionele raadgewer

René du Preez. (Foto: Verskaf)

René du Preez. (Foto: Verskaf)

René du Preez, motiveringspreker en finansiële adviseur by Attooh!, wat skerts dat sy elke oggend oefening moet doen om haar kop skoon te hou, is nie net ʼn ystervrou in die gimnasium nie, maar ook ʼn ystervrou in die finansiële wêreld wat ʼn passie daarvoor het om veral vroue finansieel en emosioneel te bemagtig.

“My generasie het geleer daar is drie dinge waaroor jy nie praat in die huishouding nie – godsdiens, seks en geld,” vertel sy geesdriftig in ʼn openhartige onderhoud met Maroela Media by haar kantoor in Pretoria-Oos.

“Ek het agtergekom wanneer ek kliënte by hulle huise gaan sien, is dit altyd die vrou wat opstaan om te gaan koffie maak of kyk waarmee die kinders besig is. Vandaar het ek besluit ek wil juis die vrou betrek en vir haar sê: kom sit, kom luister, want as jou man iets oorkom, gaan jy nie weet wat om te doen nie. Dan is jy hulpeloos.”

Haar eie egskeiding 10 jaar gelede het haar laat besef dat veral vroue daar buite geen benul het hoe om die leisels van hul eie finansiële sake te neem nie.

'n Skermgreep uit die video waar René met Mariandra Heunis gesels.

‘n Skermgreep uit die video waar René met Mariandra Heunis gesels.

“My egskeiding was baie moeilik. Finansieel het ek swaargekry omdat ek geen ondersteuning gehad het nie. Ek het twee seuns en sommige dae het ek nie kos in my huis gehad of geweet hoe ek die volgende oggend by die skool gaan kom nie. Die Here se genade was groot en met aalmoese het ons deurgedruk, maar dit was baie ʼn baie moeilike tyd.

“Ook emosioneel het ek swaargekry, want skielik was ek ʼn enkelma wat van dag tot dag moes leef en ek het besef ek het nie ʼn plan vir my lewe nie,” vertel Du Preez.

Dinge het vir haar begin omdraai toe die maatskappy Monsanto haar genader het om vroue vir twee weke tydens ʼn roadshow toe te spreek. “Ek het onmiddellik ja gesê, omdat ek gedink het ek sal die vroue uit ʼn finansiële oogpunt moet toespreek. Hulle het my uit die veld geslaan toe hulle laat weet ek kan nie oor finansies gesels nie, maar dat ek oor vrouwees moet gesels.”

Agter die skerms tydens René se gesprek met die sangeres Cordelia, wat vroeg in 2019 op haar Facebook-blad te sien sal wees. (Foto: Verskaf)

Agter die skerms tydens René se gesprek met die sangeres Cordelia, wat vroeg in 2019 op haar Facebook-blad te sien sal wees. (Foto: Verskaf)

Sy het begin navorsing doen deur met vroue van verskillende ouderdomme en uit verskillende agtergronde te gesels oor hul eie uitdagings rondom vrouwees. “Ek moes myself uitdaag, want dit was ʼn terrein wat ek nog nooit vantevore betree het nie. Van daar het die boekie, ‘Sewe beginsels van vrouwees’ ontstaan.”

Du Preez hou vol dit is die foute wat sy in haar eie lewe gemaak het, wat haar noop om ander te inspireer om nie dieselfde paadjie as sy te loop nie.

“Ek kan vandag terug staan en sê waar ek foute in my huwelik gemaak het, omdat ek deur ʼn proses moes gaan. Omdat ek in soveel huise kom, sien ek soveel goed raak. Vroue en mans kom gesels met my en jy kan naderhand die probleme raaksien. Ek moes self gaan sit en uitwerk wie ek is, wat ek wil hê en waarheen ek op pad is. Ek moes besef ek is emosioneel nie gesond nie en daarvoor moes ek ʼn sielkundige gaan sien. Ek moes ook besef ek is finansieel nie gesond nie en dat ek daadwerklik ʼn plan moes maak om uit die skuld te kom. Ek moes die gaatjie gaan oopkrap om ʼn visie vir my lewe te hê.”

René op die stel van Dis Okay met René. (Foto: Verskaf)

René op die stel van Dis Okay met René. (Foto: Verskaf)

Sy het besluit sy gaan nie werk omdat sy moet nie, maar omdat sy wil. “Ek dink nie dit is onrealisties nie. Ek het ʼn passie vir wat ek doen en dit maak my werk vir my lekker. Ek dink nie mense weet wat hulle ‘hoekom’ is nie. Hoekom is jy op aarde? Ek het self nie geweet nie. Daarom is dit die eerste ding wat ek nou probeer uitwerk saam met die mense wat my nader. Wat is dit wat jy wil agterlaat? As jy jou eie begrafnisbrief moet skryf, wat sal jy daarin skryf en hoe gaan jy daarby uitkom?”

Volgens Du Preez kry sy daagliks met mense te doen wat gaan lê het; wat werklikwaar nie weet hoe om weer op te staan nie. “My missie is om van gewone mense emosionele miljoenêrs te maak. Sodra ek hulle emosioneel miljoenêrs gemaak en gesond gekry het, kan ek hulle op ʼn finansiële pad lei.”

In haar videoreeks, Dis Okay met René, gesels sy in elke episode met iemand wat volgens haar ʼn emosionele miljoenêr is, of wat op pad is om een te wees. Sy het onder andere met Mariandra Heunis, wie se man in 2016 op ʼn kleinhoewe voor haar en haar dogter doodgeskiet is, gesels.

René du Preez voor Willem Botha se kameralens. (Foto: Facebook)

René du Preez voor Willem Botha se kameralens. (Foto: Facebook)

“Nadat ek die boek Sewe beginsels van vrouwees geskryf het en begin praat het oor my eie storie en emosies, het ek besef ek sal al hoe meer op verhoë moet wees, maar dat dit nie altyd moontlik is nie. Wian Smith van The Marketing Zoo het my toe onder hande geneem en ons het saam op die idee van die videoreeks gekom, waar ek in elkeen van die sewe episodes ʼn tema uit die boek aanraak. Die video’s is te sien op Facebook en Instagram op elke eerste Vrydag van die maand.”

As daar net een les is wat sy by vroue kan tuisbring deur haar boeke en videoreeks, is dit dat elke vrou waardig is. “Ongeag van wie jy is, hoe jy lyk, waar jou adres is, jou omstandighede – ongeag van wat jou man vir jou sê … Jy is waardig. Lig jou kop op ten spyte van die feit dat jou man en jou kinders jou dalk in die ribbes geskop het vanoggend, want dit moet ons doen, elke liewe dag as vrou. Die Here het ons sterk geskape. As ek ʼn vrou net kan laat besef hoe groot God haar as vrou geskape het, het ek my deel gedoen.”

Sewe beginsels van vrouwees en The Ordinary Millionaire is op Du Preez se webtuiste beskikbaar.

Kyk hier na die video waar Du Preez met Mariandra Heunis gesels.

Episode 3 – Dis OKAY met Rene

Het jy al ooit daaraan gedink dat jou hele lewe in ñ oogwink kan verander? Maak jy finansiele voorsiening vir ñ krisis? In hierdie episode van #disokaymetrene deel ek ñ hartroerende storie van ñ inspirasie-vrou met julle… Indien julle gebed, inspirasie of finansiele beplanning nodig het – gesels asb met my. Dit is my hart en passie om vrouens te ondersteun. Kyk en deel gerus hierdie storie en laat weet vir my watter lewensles jy hieruit kon leer ♡www.renedupreez.co.zaRosella – Style inspired by elegancePetals & RootsPhotos4evaUnmissable MakeupTrouvaille Boutique Day SpaSpringgrove EstateThe Marketing ZooMariandra Heunis

Posted by Rene du Preez on Friday, December 7, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paul ·

Ek kan verseker van haar gebruik maak, die ANC regering het die ekonomie agteruit laat boer, my finansies is vodde, die grafiek wys die afgelope twee jaar dat die “groei” negatief was, sommer baie, my beleggings het sommer ‘n paar meter van die hek af in die grond geduik en die vooruitsig vir die volgende jaar gaan nie beter wees nie, so het ek ook ‘n groot emosionele knou weg.

HK ·

Wat n ongelooflike onderhoud, die trane loop! Sterkte vir al die weduwees in hierdie wrede land.. Mag hierdie vrou en haar kinders geseen word met liefde, vreugde, nuwe hoop en finansiele welstand!

Anoniem ·

Mens kan sien die Here dra haar. Haar krag en sterkte gaan my verstand te bowe. Haar kinders is geseën met ‘n wonderlike, wyse ma!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.