Verbruikersake: 5 slim planne vir jou finansies oor die feestyd

finansies-platsak-beursie-flickr-com

Foto ter illustrasie. (Argieffoto: Flickr.com)

Dis maar moeilik om deel te neem aan die feestelike luim wat aangeblaas word in die winkels, want ons het ʼn verskriklike jaar beleef op finansiële gebied. Kersmusiek en Kersbome is oral en almal moedig jou aan om te koop, al is jou beursie hoe dun. As jy toegee aan die kooplus, gaan 2023 voel asof dit 100 jaar lank is, maar hoe kom jy en jou beursie deur die feestyd? Ina Opperman verduidelik.

Volgens ʼn opname wat Sanlam verlede jaar gedoen het, is Suid-Afrikaanse verbruikers finansieel in die moeilikheid en hulle is baie bekommerd daaroor, met 54% wat nie hul salarisse kan rek tot die einde van die maand nie. Met die feestyd raak dit net nog erger. Die goeie nuus is egter dat jy slim maniere kan vind om die feestyd ʼn tyd te maak om te onthou, al het jy min geld.

“Al voel baie huishoudings nog die gevolge van die afgelope paar jaar, is daar altyd maniere om die feestyd te geniet wat nie nodig het om jou beursie nog dunner te maak nie. Jy moet dit net op ʼn positiewe manier en met finansiële selfvertroue aanpak,” sê Mariska Oosthuizen, hoof van die handelsmerk by Sanlam.

Sy sê dit beteken dat ons ʼn bietjie meer kreatief moet dink oor die feestyd en gee die volgende wenke:

Ruil speelgoed met ander gesinne

Speelgoed word al hoe duurder, veral net voor Kersfees, maar daar is genadiglik ʼn manier waarop jy steeds jou kinders kan bederf met mooi speelgoed sonder om jou kredietkaart by die speelgoedwinkel vol te maak: reël ʼn speelgoedruiling.

Jy kan dit doen met soveel gesinne as wat jy wil en die speelgoed wat oorbly kan geskenk word aan minderbevoorregte kinders. Dit is ʼn goeie manier om kinders te leer om speelgoed te laat gaan waarvoor hulle lief was en te sien hoeveel plastiek en verpakking jy spaar wat nie die omgewing besoedel nie.

Los die kouse en biltong en gee ʼn belegging as ʼn geskenk

Jy hoef nie alleen te ly as jy eerste aan finansies dink nie. Jy kan die hele gesin betrek, veral as jou kinders al groot is, deur by te dra tot hul spaargeld vir kort- of langtermynplanne. Dis nou nog makliker met beleggings in fraksionele aandele (fractional shares).

Die beste hiervan is dat jy nie eens nodig het om tou te staan daarvoor nie en dit kan doen op digitale platforms soos SatrixNOW. Hierdie beleggingsinstrument maak dit moontlik vir jou en jou kinders om jul geld te laat groei in verskillende beleggings, soos belastingvrye beleggings en uittree-annuïteite.

Jy kan ook beleggingskoeponne gee as geskenke om jou geliefdes te wys dat jy aan hul toekoms dink.

Belê in ʼn waardevolle nuwejaarsvoorneme en help jou geliefdes om finfiks te wees

Almal is besig om fiks te raak voor Kersfees, maar het jy al daaraan gedink om te sorg dat jy en jou geliefdes finfiks is? As jy finansiële groeivertroue wil aanwakker, moet jy eienaarskap neem van jou eie finansiële reis en dit kan geweldig bemagtigend wees om die baas van jou eie finansies te wees.

Daar is baie finansiële kundiges wie se voorbeeld jy maklik kan volg deur hul boeke te lees oor hoe om jou finansies gesond te hou en hierdie boeke is wonderlike geskenke voor die nuwe jaar begin. Jy kan jou geliefdes help om die Suid-Afrikaanse ekonomiese klimaat te hanteer en dit sluit in om nie nou te veel geld aan geskenke te bestee nie en ʼn vaste spaarnessie te bou vir die dae wat kom, of dit nou reën of sonskyn is.

Oppas vir krediet in die feestyd

Volgens Experian se Consumer Default Index (CDI), wat Suid-Afrikaners se gedrag meet aan hoe hulle hul skuld afbetaal, was daar verlede Desember ʼn verhoging in kleinhandellenings van 10,41 tot 10,97. Die indeks skryf hierdie gedrag toe aan ʼn golf van nuwe krediet en ongesekureerde lenings wat verbruikers gedurende die feestyd uitgeneem het en wat hulle nie daarna kon bekostig om af te betaal nie.

Dit is daarom baie belangrik om nou op die uitkyk te wees vir plekke wat jou uitlok om op krediet te koop gedurende die feestyd en seker te maak jy word nie mislei met aanbiedings wat “geen deposito” vereis nie, want dit beteken jy gaan net meer per maand afbetaal.

Bestee jou krediet liewer versigtig en beplan wat jy gaan koop sodat jy niks koop wat jy nie kan bekostig om af te betaal nie. As jy weet wat jou krediettelling is, sal jy ook weet hoe om hierdie feesseisoen jou finansies te bestuur.

“Almal se oë is nou groot en almal is in ʼn goeie bui, maar onthou dat mense nie “goeters” nodig het vir Kersfees nie. Hulle het hul geliefdes en gemeensaamheid nodig. Skop vas teen die kommersialisering van die seisoen en onthou dat die ware vreugde van Kersfees lê in die tyd wat ons saam deurbring en nie geld nie,” sê Oosthuizen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.