Verbruikersake: Sal jou kredietwaardigheid ooit herstel na skuldberading?

skuld-krediet-afbetaling-belasting-sakrekenaar-rekenaar-boekhou

(Foto: FirmBee/Pixabay)

Skuldberading is vir baie verbruikers ʼn skrikwekkende vooruitsig omdat hulle bekommerd is dat dit hul kredietprofiel en toekomstige vermoë om krediet te kry sal beïnvloed.

Baie verbruikers dink aan skuldberading as ʼn uitweg in hierdie moeilike ekonomiese tye, maar wil dit liewer nie doen nie, want hulle is bekommerd oor hoe hulle ooit daardie ‘vlek’ van hul kredietrekords sal afkry en weer vir krediet sal kwalifiseer.

Daar is egter bewyse dat die mite dat skuldberading ʼn langtermyn negatiewe impak op jou kredietrekord het, nie waar is nie. Verbruikers wat oorbelas is met skuld en skuldberading suksesvol voltooi, het gemiddeld ʼn aansienlik hoër krediettelling as diegene wat dit oorweeg, maar nie daarmee voortgaan nie, volgens ʼn DebtBusters-ontleding van verbruikers wat die afgelope vyf jaar om skuldberading aansoek gedoen het.

“Die primêre dryfveer van ʼn hoë krediettelling is die vermoë en bereidwilligheid om terug te betaal wat jy skuld. Dit is waar, ongeag of die persoon in skuldberading is of nie,” sê Benay Sager, hoof van DebtBusters.

“As jy jou skuld terugbetaal, sal jou krediettelling nie oor die langtermyn negatief beïnvloed word nie. Skuldberading bied ʼn doeltreffende manier om dit wat jy geleen het op ʼn gestruktureerde en bekostigbare manier terug te betaal.”

Hy sê die data toon die impak op die krediettelling van oorverskuldigde verbruikers wat aansoek gedoen het vir skuldberading by DebtBusters. Toe hulle by die herstruktureerde betalingsprogram gehou het, het hulle gemiddeld hul skuldberadingsreis in minder as vyf jaar voltooi.

“ʼn Verbruiker se krediettelling sal gedurende die eerste paar maande van die skuldberadingsreis daal. Trouens, vir baie verbruikers is die krediettelling reeds aan die afneem wanneer hulle aansoek doen vir skuldberading, terwyl hulle sukkel om alles te betaal.”

Verwag maar ʼn aanvanklike afname in jou krediettelling

As jy met skuldberading begin, kan die aanvanklike afname verwag word, aangesien kredietverskaffers gedurende hierdie tydperk ʼn beperkte aantal skuldterugbetalings ontvang volgens breër bedryfsooreenkomste. Kredietverskaffers weet hulle sal nie betalings in die eerste paar maande ontvang nie en dit is ingebou in die algehele program, sê Sager.

“Sodra onderhandelinge met kredietverskaffers afgehandel is en die verbruiker voortgaan om die nuwe herstruktureerde, meer bekostigbare terugbetalings te betaal, kan hulle reeds ʼn bestendige toename in hul krediettelling sien. Teen die twaalfde maand van die skuldberadingsreis is die verbruiker se krediettelling weer op dieselfde vlak as wat dit was toe hulle om skuldberading aansoek gedoen het.”

Trouens, verbruikers wat skuldberading voltooi, het ʼn gemiddelde krediettelling wat 112 punte hoër is as hul beginpunt.

“Die data breek onomwonde die mite af dat skuldberading jou krediettelling oor die langtermyn negatief beïnvloed. Oorverskuldigde verbruikers wat navraag doen oor en aanmeld en skuldberading suksesvol voltooi, sal nie net laer maandelikse skuldterugbetalings hê deur hul skuld te laat herstruktureer nie, maar anderkant uitkom met aansienlik hoër krediettellings as hul oorverskuldigde eweknieë wat ook moes aangesluit het, maar dit nie gedoen het nie.”

Hoekom is jou krediettelling so belangrik?

Sager sê jou krediettelling is belangrik omdat dit hierdie drie syfers is wat almal, van banke tot verhuurders, gebruik om te bepaal hoe finansieel betroubaar jy is. Vir die finansiële sektor is die krediettelling inligting wat net so belangrik is as ʼn ID-nommer. ʼn Langtermyndoelwit van skuldberading is om verbruikers te help om hul kredietwaardigheid te verbeter.

“Ons sien dat kliënte wat skuldberading suksesvol voltooi en hul uitklaringsertifikate bekom, gemiddeld daarin slaag om voertuigfinansiering binne twee maande te bekom en binne vyf maande ʼn nuwe huislening. Dit wys dat skuldberading vir toegewyde verbruikers kan help om hul langtermyn finansiële status om te keer.”

Hy sê die uiteinde is dat skuldberading ʼn doeltreffende manier is vir oorverskuldigde verbruikers om hul skuld te herstruktureer en die navorsing toon dat diegene wat die proses voltooi ook voordeel sal trek uit ʼn verbeterde krediettelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietie ·

Nou praat julle nonsens. Ag tog Maroela Media moet julle nie met sulke nonsens bemoei nie. Dit pas nie by julle nie. As finansiele adviseer, sal ek niemand aanraai om dit te doen nie. Gesels eerder met jou krediteure. Vir al na covid word groot afslae aangebied sou jy n reeling maak. Stappe word nie maklike geneem nie. Wat sou hulle nou vat. Die waarde van tweedehandse items is nie veel werd nie. Party mense bevind hulle self in skuld berading vir jare en jare. Skuld berading is nog net n verdere geldmaak foefie. Bly weg!

Danie ·

Die artikel is nie so positief as wat dit mag voorkom nie. So paar belangrike punte:
1. Skuldberadings instansies mag nie hulle dienste adverteer nie. (Hierdie een kry nou gratis advertensie – baie subtiel)
2. Verbruikers word baie gereeld ‘n rat voor die oë gedraai deur skuldberaders om die besigheid te kry.
3. Skuldberaders vat eerste HULLE geld voordat hulle die skuldeisers.
4. Bitter min van die verbruikers wat begin met skuldberading voltooi dit suksesvol.
5. Wanneer iemand onder skulberading nog verder verval, word hulle kredietwaardigheid omtrend die slegste wat dit kan wees!
6. Geen skuldberader is in die besigheid om iemand te help nie – wel om geld te maak!
7. Die skuldeisers SAL meer toegeevlik wees indien jy net met hulle gaan praat omdat hulle krediet risiko deur die dak skiet indien te veel mense onder skuldberading vas gevang word.
8. Dink mooi voor julle dit doen – oorweeg eers ander opsies.

nicolette ·

Ek kan wel getuig dat skuldberading die moeite werd is. Ek het n paar jaar terug motor skuld, etlike kredietkaarte, klere skuld, oortrokke rekeninge, persoonlike lenings gehad. My terugbetaling was amper R8000 per maand. Ek eht op skuldberading gegaan en het R3000 per maand afbetaal. Die eerste 2 maande se “paaiemente” was wel vir kostes, en daar was n maandelikse fooi ook vir kostes (ek kan nie onthou hoeveel dit was nie). Al my rekeninge se rente is gestop of belaglik min gemaak. Dus het ek die skuld vinnigger afbetaal as wat ek self met die krediteure sou onderhandel. 3 maande nadat ek my brief gekry het wat wys dat al my skuld betaal is het ek sonder moeite 2 klere rekeninge geopen. 3 maande later het ek aansoek gedoen vir n huislening, en dit gekry. Dus kan ek getuig dat my kredit score glad nie geraak is deur die feit dat ek op skuldberading was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.