Vroue is goeie beleggers

(Foto: iStock)

Deur Maretha Botes

Dit is ʼn feit soos Augustus Vrouemaand is: die skoner geslag is beter beleggers as hul manlike eweknieë.

Die afgelope dekade het ʼn magdom studies bevind dat vroue hoër opbrengste op hul beleggings behaal as mans.

ʼn Meer onlangse studie, ʼn analise van vyf miljoen Fedility Investments-rekeninge, het bevind Amerikaanse vroue se opbrengste was 0,4% hoër as mans s’n. ʼn Berkeley-studie het bevind vroue se opbrengste is 1% hoër as mans s’n. In ʼn aparte studie deur Hargreaves Lansdown, Brittanje se grootste verbruiker-beleggingsplatform, is bevind dat vroulike beleggers gemiddeld 0,81% meer as mans op beleggings oor ʼn drie-jaar periode verdien. Dit klink dalk nie sóveel nie, maar as die patroon oor 30 jaar voortduur, sal die gemiddelde vroulike belegger uiteindelik 25% meer op haar portefeulje verdien as die gemiddelde man.

Chantal Marx, hoof van beleggingsnavorsing by FNB, sê vroue het ʼn paar karaktereienskappe waaraan hul goeie beleggingsvermoë toegeskryf kan word:

  • Vroue is meer risiko-bewus. ʼn Studie deur BlackRock het bevind dat 72% van vroue aandele, eiendom of verbande wat groter as normaal risiko gedra het, van die hand gewys het, teenoor 59% van manlike beleggers. Dus, ʼn stadiger, gemete aanslag wat minder van ʼn dobbelspel is, bied oor die algemeen hoër opbrengste oor ʼn langtermyn.
  • Vroue los hul beleggings uit. Hoë vlakke van verhandeling is geneig om opbrengste te verminder. Vroue maak ook minder dikwels veranderings aan hul portefeuljes as mans.
  • Vroue laat gaan wanneer hulle moet. Verlies-afkeer is ʼn reuse emosionele vooroordeel wat beleggersukses beperk. Volgens ʼn studie wat in die Journal of Risk and Uncertainty gepubliseer is, het mans ʼn groter verlies-afkeer as vroue. Dit beteken hulle is geneig om vas te klou aan aandele wat as “verloorders” beskou word, in die hoop dat dinge weer sal beter gaan.
  • Vroue is nie altyd so seker van hulself wanneer dit by finansiële besluite kom nie. Dit kan lei na beter en meer in-diepte navorsing voor besluite oor koop (of verkoop!) gemaak word.
  • Daar is bewyse dat vroue ook minder geneig is om beleggingsgiere of -neigings aan te gryp. Vroue het minder FOMO wanneer dit by beleggingsbesluite kom en hou by dit wat bewys is om te werk.

Chantal sê egter vroue is minder geneig om in die aandelemark te belê as mans, maar die redes hiervoor kan presies wees waarom hulle in die eerste plek móét belê: Risiko-afkeer, ʼn vals sin dat hulle nie “welaf” genoeg is om te belê nie, en gebrekkige selfvertroue in hul vermoëns kan in hul guns, eerder as teen hulle tel, om sukses op die aandelemark te behaal.

Hoe ook al, dit kan senutergend wees as jy ʼn groentjie op beleggingsgebied is. Buhle Nxumalo, finansiële beplanner by Alexforbes, gee raad as jy besluit om ʼn eerste belegging te maak.

  • Begin deur ʼn duidelike doel te stel. As jy weet wat jy met jou geld wil vermag, maak dit beplanning makliker.
  • Bly weg van vinnige geldmaakskemas en mense wat beweer jy kan gewaarborgde opbrengste op beleggings maak. As dit te goed klink om waar te wees, is dit te goed om waar te wees.
  • Doen jou navorsing oor die tipes beleggingsprodukte op die mark. Dit help as jy kennis het sodat jy vrae kan vra wanneer jy die geleentheid kry vir ʼn moontlike belegging.
  • Maak ʼn afspraak by ʼn geregistreerde finansiële beplanner wat jou kan help om ʼn plan vir jou unieke omstandighede saam te stel.
  • Laat doen ʼn risikoprofielanalise sodat jy in die regte bateklasse kan belê wat by jou risikoprofiel aansluit. As eerste-keer-belegger moet jy probeer om jou portefeulje soveel moontlik te diversifiseer.
  • Maak seker dat jy ʼn noodfonds het waarvan jy maklik fondse kan onttrek sou jy onvoorsiene omstandighede in die gesig staar. Jy wil dit vermy om voortydig van fondse van jou beleggings te onttrek. Hoe langer jou beleggings kan lê hoe beter is die kans vir groei deur saamgestelde rente.
  • Hersien jou finansiële plan ten minste een keer ʼn jaar om te verseker jou beleggings is steeds in lyn met jou beleggingsdoelwit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.