Aftrede: ʼn Geskikte lewensmaat vir jou latere lewe

bejaarde-liefde-piksoen

Moenie die waarde van ‘n lewensmaat in jou primatyd na aftrede onderskat nie. Foto: Favim.com

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks wat lesers help om hul aftreejare die beste tyd van hul lewe te maak. Die artikel is ʼn uittreksel uit Johannes Jordaan se boek Prima Tyd – Geniet jou lewe ná 50.

Moet nooit onderskat tot watter mate ’n lewensmaat ’n betekenisvolle invloed in jou lewe kan hê ten opsigte van jou geluk en vervulling nie. Soos die spreekwoord lui: “Gedeelde vreugde is dubbele vreugde” en ook: “Gedeelde leed is halwe leed”!

Baie afgetredenes word enkellopers tydens die laaste jare van hul lewe weens ’n egskeiding of ’n lewensmaat wat hulle ontval het. As jy getroud was en alleen word gedurende jou prima jare, kan ’n nuwe lewensmaat vir jou ’n tweede kans gee om geluk te vind. Maar dit vereis dat jy die regte keuses sal maak en ook die regte benadering tot jou tweede huwelik sal hê.

Daar is bevind dat mans én vroue dikwels weer trou hoewel hulle baie ellende tydens ’n vorige huwelik beleef het. ’n Gevoel van eensaamheid kan mense maklik daartoe dryf om verligting te soek in ’n tweede huwelik gedurende die latere jare van hul lewe. Hulle tree dan dikwels oorhaastig op en begeef hulle te gou en te maklik in ’n tweede huwelik.

’n Ander motivering is dikwels dat die een party ’n dringende behoefte aan finansiële versorging, of ander versorging, het en dan naarstiglik iemand soek om in daardie behoefte te voorsien. ’n Tweede huwelik wat hoofsaaklik hierop ingestel is, kan ’n groot risiko inhou.

Die vurige begeerte om nie eensaam te wees nie, veroorsaak dikwels dat rasionele oordeel en denke in die slag bly – hulle volg die drange van hul “hart” en nie ook die “kop” nie. Hoewel mense gewoonlik nie daarvan hou om dit te hoor nie, is dit tog so dat romanse dikwels ’n besonder sterk drang is, amper soos ’n verdowingsmiddel. Soos die spreekwoord lui: “As jou hart aan die brand raak, word jou oë vol rook.”

Wanneer ’n tweede huwelik op ’n relatief laat ouderdom oorhaastig gesluit word met die hoofdoel om ’n vakuum van eensaamheid te vul, of bloot om finansiële versorging te voorsien, is die risiko groot. Dit is veel beter om dit rustig te benader en die verhouding tyd te gee, en om iemand te vind wat jou lewe kan aanvul en vir jou ’n ware metgesel kan wees, eerder as om bloot iemand in jou lewe te hê.

’n Tweede huwelik, en inderdaad enige huwelik, is iets waarin jy nie jouself oorhaastig of impulsief behoort te begewe nie. Dit is een van die heel belangrikste besluite wat jy in jou lewe kan neem, inderdaad, op enige ouderdom. Die implikasies van ’n verkeerde besluit kan katastrofies wees, nie alleen vir jouself nie, maar ook vir jou familielede en selfs vriende.

Dit is ongelukkig ʼn feit dat die statistieke oor tweede huwelike baie negatief is. Volgens ’n artikel wat in Psychology Today verskyn het, eindig tot 60% van tweede huwelike in ʼn egskeiding, in vergelyking met sowat 50% van eerste huwelike. Die tragedie is verder ook dat ongeveer 50% van die mense wat bymekaar bly, in disharmonie en ongelukkigheid saamleef. Minder as 25% van tweede huwelike is dus gelukkig en vervuld. Om dus ’n blywende verhouding van wedersydse geluk en vervulling te vind, gaan dit nie net daaroor om ’n geskikte lewensmaat te vind nie, maar eweseer ook om ’n geskikte lewensmaat te wees!

Indien jy ’n huwelik in ’n laat stadium van jou lewe aangaan, sal dit grootliks tot jou voordeel wees om sover moontlik seker te maak dat die verhouding gelukkig en harmonieus gaan wees. Moet ook nie toelaat dat jy, of jou tweede lewensmaat, die eerste huweliksmaat afkraak nie. Jou tweede lewensmaat hoef nie alles te weet wat in jou eerste huwelik plaasgevind het nie.

Daar is baie redes waarom tweede huwelike faal. Ouer mense is byvoorbeeld dikwels onaanpasbaar en nukkerig in vergelyking met jonger paartjies wat trou. ’n Ander rede is dat kommunikasie nie openlik en eg plaasvind nie.

Nog ’n rede is kinders, dit wil sê, waar enigeen van die twee lewensmaats kinders uit ’n vorige huwelik het. As ’n vrou byvoorbeeld meer aandag aan haar kinders gee as aan haar man (wat nogal dikwels gebeur), kan die man afgeskeep voel en haar voor ’n keuse plaas: “Dit is óf die kinders óf ek, en as dit die kinders is, gaan ek nie met die huwelik voort nie.” Die kinders, aan die ander kant, kan hom as ’n “indringer” beskou en wil hom dan nie aanvaar nie. Dit is ook nie reg nie, aangesien dit druk op die huwelik kan plaas as dit toegelaat word.

Die situasie met kinders moet met groot wysheid, takt en finesse hanteer word.

’n Vrou kan byvoorbeeld die houding teenoor haar man inneem dat sy nie tussen die kinders en haar man kies nie, maar dat sy hulle almal kies. Dit voorveronderstel natuurlik dat almal positief moet saamwerk om die verhouding te laat slaag. Man en vrou moet in elk geval te alle tye uit een mond praat veral wanneer dit oor kommunikasie gaan, en veral met en ten opsigte van die kinders. Die uitgangspunt moet deurgaans “ons” wees en nie “ek” en “jy” nie. Man en vrou moet bogenoemde riglyne bespreek en ideaal gesproke daaroor ooreenkom, al moet dit ook beteken dat sommige van die riglyne verander of aangepas moet word.

Die partye in die tweede huwelik moet ook self verantwoordelikheid neem vir die instelling van die doelstellings. Dit is ’n goeie idee om die doelstellings neer te skryf sodat almal stelselmatig kan beplan.

  • Johannes Jordaan het gedurende die sewentigerjare ʼn meestersgraad by die Universiteit Stellenbosch verwerf en later ook as dosent aan die US klas gegee voordat hy ʼn landwye konsultasiepraktyk in boedel-, finansiële en leefstylbeplanning opgebou het. Hy is tans semi-afgetree en woon in die Strand (Wes-Kaap). Hy spits hom tans toe op die skryf van boeke om sy waardevolle kennis en ervaring met ander te deel. Lesers wat Jordaan se boek wil bestel, kan ʼn e-pos na [email protected] vir besonderhede stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Eish ·

Genade, wat n riller van n artikel!
Al die fyn skrif mooi uiteengesit. Dis soos om science of stupid se waarskuwing te kyk.
Baie duidelik n veld wat besaai is met landmyne en n uitdagende jagproses waar die skaal baie ongelyk gestel is deur onbekende faktore wat onpeilbaar is.
Om op jou oudag aan so n risiko blootgestel te word in die helhool waar jou kragte en kapasiteit dramaties afgeneem het is waaragtig nie die risiko werd nie. Good luck vir die wat wel vrede gevind het, maar dit klink my eerder na n situasie wat jou bloeddruk, suiker, cholesterol en depressie gaan opjaag en jou gaan laat met post traumatiese stress.

Eish! Ek gaan verby dki.

Riller ·

Ek is onlangs uit ‘n baie lang verhouding waarin ek ook my tweede kans op geluk probeer het. Ongelukkig het die man sy tienerdogter bo my verkies (ek het nie eens ‘n ultimatim gestel nie) en my ook verseker dat hy NIE sal verander nie, want hy is te oud om te verander, dus ek moes aanvaar hy sal NIE werk aan die verhouding nie, dis OF reg of weg! Nouja, wat se vooruitsigte het ek op my middeljarige ouderdom as middeljarige mans so optree…dit was my eerste ervaring as kinderlose vrou met ‘n man met ‘n kind uit ‘n vorige huwelik. Noodeloos om te se, ek is afgesit van geskeide mans met kinders. Ongelukkig kan ek ook nie vir jonger gaan nie, want ek kort ‘n VOLWASSE man om by my temperament en lewenservaring en seerkry te pas.

Weduwee ·

Mens is so kwesbaar direk na jou man se afsterwe en dan stel jy nie belang in ander mans nie. Na byna 50 jaar se gelukkige huwelik stel ek nie in ‘n volgende belang nie – glo ek is nou te gewoond aan my eie ding doen – maar ai net so af en toe ‘n lekker gesels en kuiertjie is sekerlik nie te versmaai nie. Dit sal net iets wees om die eensaamheid makliker te maak. Maar permanent soos ‘n huwelik? Ek glo nie. Klink dit selfsugtig? Dan is dit maar so….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.