Beroertes: Ken die tekens en simptome

dokter

Argieffoto

Beroertes is die een van die hoofoorsake van sterftes en gestremdheid in Suid-Afrika, en die oorsaak van sowat ses miljoen sterftes wêreldwyd.

Vanaf 28 Oktober tot 3 November is dit Nasionale Beroerteweek, en Netcare beywer hulle om mense bewus te maak van die tekens en simptome van ʼn beroerte.

Dr. Biancha Mentoor, hoof van kliniese vordering by Netcare, sê baie Suid-Afrikaners weet nie dat beroertes dikwels suksesvol behandel kan word nie.

“Studies het getoon dat mense wat behandeling ondergaan by ʼn hospitaal of ander fasiliteit wat die gepaste opleiding het, en toepaslik toegerus is om beroertes te hanteer, die dodetal en langtermyngestremdhede aansienlik kan verminder,” sê Mentoor.

“As dít kan gebeur, sal die skade aan die brein ná ʼn beroerte verminder word en lewens gered kan word. Suid-Afrikaners moet daarvan bewus wees dat gesonder leefstylkeuses ook kan help om jou kans op beroertes te verminder.”

Dr. Patty Francis, een van die neuroloë wat pasiënte ná beroertes by Netcare uMhlanga behandel, het gesê ’n beroerte moet as ’n mediese noodgeval gesien word.

Francis het gesê mense kan op die uitkyk wees vir die volgende simptome en tekens van ʼn beroerte:

  • Gevoelloosheid of swakheid in die gesig, arm of been, veral aan die een kant van die lyf.
  • Verwarring en sukkel om te praat en te verstaan.
  • Sukkel om met albei oë te sien.
  • Sukkel om te stap, duiseligheid of die verlies van balans of koördinering.
  • Ernstige hoofpyn vir geen rede.

Francis het gesê dat ’n beroerte plaasvind wanneer ʼn klont of verbreking in die bloedvat die bloedtoevoer na ʼn sekere deel van die brein ontwrig. Die aangetaste gedeelte van die brein word weerhou van bloed en suurstof, wat daartoe lei dat die breinselle doodgaan.

“ʼn Beroerte kan skade aan die funksionering van die brein aanrig, wat kan lei tot gestremdheid of selfs dood. Baie mense is ná ʼn beroerte tot so ʼn mate gestremd dat hulle nie meer na hulself kan omsien nie, en baie verg ook langtermynrehabilitasie.”

Mense, veral mans, wat ouer as 55 is, het ʼn groter kans om ’n beroerte te kry. Ander risikofaktore sluit in hoë bloeddruk, diabetes, familiegeskiedenis, hoë cholesterol, rook en ʼn ongesonde leefstyl.

Jong mense kan ook in gevaar wees, veral vroue op voorbehoedmiddels en diegene wat sekere ontspanningsdwelmmiddels gebruik.

“Deur al hierdie gevaartekens in ag te neem, kan enigeen proaktiewe stappe doen om hul kanse op ʼn beroerte te verminder,” het Francis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Tuisversorger ·

Beroerte is n seekat-siekte. Dit het baie “arms” wat jou spraak, toiletgewoontes, ledemate, kognitiewe brein ens aanval. Die grootste aanval is op die pasient en versorger se gemoed: drie tree vorentoe, twee tree terug. Hoop en gebed is jou beste metgesel op hierdie pad. Sien dit as n twee lewe wat begin. Dalk met baie uitdagings, maar ook met baie genade en seen. Sterkte aan almal wat die pad stap

lolla ·

baie skade word aangerig deur mediese personeel wat nie vinnig genoeg die nodige kenners by die pasient kry nie…. gaan kyk in groot staatshospitale waar dit regtig vir ons voel of hulle baie belangrik voel en met afrika tyd werk… in die vroeer jare was die ‘golden hour’ baie belangrik en het drs die pasiente baie vinniger begin behandel…nou le pasiente daar tot dat ‘iemand’ besluit hulle is nou belangrik genoeg om aandag te kry….en toe was die skade al baie meer… maar ja ons beste mediese personeel gaan werk eerder oorsee want nie almal wil met onbevoegde/onbetrokke personeel saam werk nie….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.