Bolandse aardbewing lei tot SA se grootste restourasiesukses

Tulbagh se hoofstraat met die Winterhoek-berge in die agtergrond Foto: Andres de Wet, Wikimedia Commons

In Tulbagh in die Boland staan die oudste kerk in die land wat nog in sy oorspronklike vorm bestaan. Daar kry jy ook die oudste pastorie wat vandag nog deur die predikantsgesin bewoon word, saam met ʼn rits ander pragtig gerestoureerde Kaaps-Hollandse en Victoriaanse huise.

Dié erfenisjuweel is afgestof en blinkgepoets danksy die grootste restourasiepoging in ons land se geskiedenis, ná die aardbewing van 6,3 op die Richterskaal wat dié dorp in die Noord-Boland in September 1969 in puin gelê het.

Maandag 29 September was ʼn pragtige sonskyndag. Anneline Fredericks, toe 16, het die oggend nog die werf gevee toe sy ʼn geluid soos donderweer gehoor het. Dit was snaaks, want daar was nie ʼn wolk in die lug nie.

“Ek onthou toe dat hulle aan die nuwe pas werk en dinamiet daar skiet, dis seker wat die knal veroorsaak het,” vertel sy.

Daardie aand was sy en haar sussie ná ʼn netbalvergadering op pad huis toe, toe die aarde begin rammel en die grondpad onder hulle begin beweeg. Toe hulle weer kyk, kom die pad in golwe na hulle aangerol.

“Ons was so geskok en vreesbevange dat ons mekaar vasgegryp het en sommer aan die gil gegaan het. Bome het skuins gehang en elektriese kabels het styf gespan en gebreek dat die vonke so spat. Ons het gedink dis die einde van die wêreld, die Oordeelsdag, veral toe die berge ook nog begin brand. Ons het sommer hardop begin bid. Ek het nog nooit so baie mense so hard hoor bid nie!”

Op die wynplaas Twee Jonge Gezellen was Rosie Moolman en haar mense al in die bed toe die aarde met ʼn diep kreun onder hulle begin beweeg en skud. Die Moolmans het opgevlie toe ʼn harde slag opklink en moes net koes vir portrette en pleister wat op hulle neerreën. Sy onthou die groot geraas en kinders wat snik.

Vir dertig sekondes het dit voortgeduur. Dertig sekondes wat soos ʼn leeftyd gevoel het, voordat stilte weer neergedaal het. Al wat ʼn mens en dier was, was met skok en verbystering vervul, verward en benoud.

“Ons het met die kinders uitgehardloop en sommer in die hoenderhok gaan skuil, waar geen mure op ons kon val nie. Toe ons tot ons sinne kom, het ons saam met die bure na die skoolterrein toe gegaan vir veiligheid, iets vir die keel en die staanvuur se warmte. Die volgende dag het die weermag vir ons ʼn tent kom opslaan, waarin ons vir ʼn jaar en ʼn half gewoon het, tot ons weer huise gekry het,” onthou Rosie.

By die plaaslike dokter Cornie Marais se spreekkamer het ʼn chaotiese, maar kleurryke toneel die dag ná die aardbewing op hulle gewag. In die apteek is pille en medisyne destyds meestal in glashouers gehou, volgens soort op rakke gerangskik. Baie van dié rakke het ingetuimel, sodat pille en strope oor die vloer besaai gelê het. Die dokter se sestienjarige seun, David, moes vir die res van die skoolvakansie pille sorteer, tel en in sakkies pak.

Rosette Jordaan vertel dat Tulbagh ná die skokgebeure van 29 September 1969 met welwillendheid oorstroom is.

“ ʼn Gees van gemoedelikheid en hulpvaardigheid, van omgee vir jou medemens, het geheers,” onthou sy. Jordaan het pas haar eie herinneringe saam met die insette van medeskrywers in die boek Tulbagh Onthou: ʼn Herdenking van die aardbewing van vyftig jaar gelede gepubliseer. Die boek bevat kosbare verhale uit die distrik, ontledings van die gebeure op Tulbagh en die buurdorpe en die nagevolge van die aardbewing. Dit is deur die Oude Kerk Volksmuseum uitgegee.

Jordaan sê die hulp van die Kommandement Westelike Provinsie, onder bevel van brig. Jannie Fourie, was van onskatbare waarde.

“Die eerste taakmag het reeds in die loop van die nag met kos, komberse, tente en mediese hulp opgedaag. Die volgende dag was 400 tente reeds op Tulbagh opgeslaan. Uiteindelik was daar sowat 3 000 tente in die rampgebied, talle daarvan in tentkolonies.”

Aanvanklik is geglo dat die aardbewing historiese huise só erg beskadig het dat die meeste van hulle gesloop sou moes word. Maar die aardbewing het ʼn unieke geleentheid geskep om Kerkstraat met sy 28 Kaaps-Hollandse en Victoriaanse huise langs die Oude Kerk in sy geheel te restoureer.

Die restourasiewiele het baie vinnig ná die aardbewing begin rol. Net die volgende dag, 30 September, het bewaringsbewuste instansies die dorp besoek om onoordeelkundige sloping te voorkom en die beskadigde geboue te probeer red. Slegs ʼn week ná die skudding, op 6 Oktober, is ʼn persverklaring uitgereik wat aankondig dat Kerkstraat gerestoureer gaan word. Nog ʼn week later het die projek se argitek, Gawie Fagan, die regering oorreed om die gerestoureerde huise as nasionale monumente te verklaar en op 11 November vind die restourasiekomitee se stigtingsbyeenkoms plaas.

ʼn Spoedvergadering is in Tulbagh belê om die samewerking van huiseienaars in Kerkstraat te verkry. ʼn Aantal het ingewillig, maar die komitee was verplig om 16 huise te koop van eienaars wat besluit het om die gebied te verlaat, of nie kans gesien het dat hul huise noukeurig gerestoureer word nie. Dit het tot ʼn uitgebreide geldinsameling gelei, met bydraes van R150 000 wat deur die vier provinsiale administrasies ingesamel is.

In 1972 het die eerste twee gerestoureerde geboue, De Oude Kerk en De Oude Drostdy, heropen. Teen 1974 is Kerkstraat ten volle gerestoureer, teen ʼn koste van R630 000, en op 14 Maart deur die destydse eerste minister John Vorster ingewy.

Vandag is die historiese eiendomme in die straat na raming sowat R50 miljoen werd.

Jayson Clark, voorsitter van Tulbagh se erfenisvereniging, glo dat verskeie gebeure in die dekade voor die aardbewing die regte klimaat geskep het vir Tulbagh se groot restourasieprojek. Plekke soos die Kasteel en Tuinhuys is gerestoureer en die Stigting Simon van der Stel is op die been gebring. Die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede het ook kort voor die aardbewing die Historiese Monumentekommissie vervang.

“Interessant genoeg is De Oude Drostdy op Tulbagh die eerste nasionale monument wat deur die nuwe raad verklaar is – net twee dae voordat die aardbewing die gebou in puin gelê het! Op dié dag, Saterdag 27 September 1969, het die Stigting Simon van der Stel 200 toeriste na Tulbagh geneem om die pragtige historiese dorpie te besigtig. Dié twee gebeure het waarskynlik in ʼn groot mate bygedra tot die besluit om Tulbagh se Kerkstraat ten volle te restoureer,” vertel hy.

Tulbagh se restourasie was ʼn eerste in Suid-Afrika en die bloudruk daarvan is ook op Stellenbosch, Swellendam en Graaff-Reinet toegepas. Danksy die betrokkenes se toewyding destyds aan die Suid-Afrikaanse argitektuur en erfenis, is Tulbagh vandag ʼn skitterende juweel in Suid-Afrika se erfenisskatkis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Huh

Baie dankie vir jou navraag. Ons het die tikfout nou reggestel en die berig behoort nou reg te vertoon.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Henk Brand ·

Ek onthou die aardbewing baie goed. Amper van my bed afgeval (van skrik), en dit was net buite Bellville.

OWO ·

Destydse eerste minister was John Vorster gewees en nie Ben Vorster nie.

Saartjie ·

Ek sit nou net en dink … miskien het die geskiedenis heeltemal anders verloop as die Eerste Minister se naam wel Ben Vorster was?

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Saartjie & OWO

Dankie vir julle kommentaar. Ons het die artikel nou reggestel en dit behoort binnekort reg te vertoon.

Groentis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Rika ·

Sal ek dan ooit daardie aand vergeet, toe n dogtertjie van ag jaar oud!!!Die gerammel van n trein wat al hoe nader kom…die badkamerdeur wat skud dat ek skaars die deurknop kon raakvat…verward en vreesbevange was ons as huisgesin sekondes later buite , en verskrik toegekyk hoe die berge brand!!! Ek onthou die aardige reuk van gasse wat in die lug gehang het….wolseley, Ceres en Tulbagh was as rampgebied verklaar….Tog was daar ook komiese staaltjies….my Musiekonderwyser het in sy Adamsgewaad uitgehardloop….

Nettie ·

Dit was voor my geboorte, maar ek onthou wat my Ma vertel het. Hulle het teenaan Du Toitskloof (paarl) gebly en hul hond, Simba, het daardie middag “snaaks” begin reageer – begin huil-tjank op die eienaardigste manier; later die aand het hulle trillings ervaar – en toe oor die radio van die aardbewing in Tulbagh verneem.

koos ·

En vandag se regering het 25 jaar nodig om HOP huise te bou waarvan 80% in mekaar tuimel sonder enige aarbewings!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.