Bybel van 1933 op uitstalling te sien

ʼn Afrikaanse 1933-vertaling van die Bybel maak nou deel uit van die Erfenisstigting se Bybeluitstalling. (Foto: Verskaf)

ʼn Afrikaanse 1933-vertaling van die Bybel maak nou deel uit van die Erfenisstigting se Bybeluitstalling by die Voortrekkermonument in Pretoria.

Dié Bybel is deur George Bester, direksievoorsitter van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO), aangekoop waarna dit aan die Erfenisstigting geskenk is.

Diakens van die NG Gemeente Bloemfontein het dié Bybel op 26 Augustus 1933 aan die leraar, dr. JHJ Greyvenstein, as geskenk gegee.

Handtekeninge van JD Kestell, JD du Toit (Totius), HCM Fourie, EE van Rooyen en BB Keet – die vertalers wat aan die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans gewerk het – pryk voorin.

“Ter aandenking aan die aandeel wat u gehad het in die vertaling van die Bybel in ons eie taal,” lui ʼn inskrywing voor in die Bybel.

Die BCVO, wat graag saam met die Erfenisstigting en die Voortrekkermonument werk tot die bewaring en uitbouing van Afrikanererfenis, het besluit om die Bybel in die Erfenisstigting se bestaande Afrikaanse Bybeluitstalling te plaas.

Die Bybeluitstalling, genaamd “Die Afrikaner se geloofsbelewenis”, maak deel uit van die “Afrikaners in die 20ste eeu”-uitstalling.

“As die BCVO wil ons help bou aan ons kultuurerfenis, en watter beter manier as om prakties betrokke te raak? Deur items soos dié maak ons geskiedenis lewend,” sê Bester.

“Die geskiedenis van die Afrikaner is geskryf deur voorouers wie se geloof rotsvas was en sal ook op dieselfde wyse uitgebou word.”

“Dit is ʼn Bybel wat geléés is,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Psyggie ·

Hierdie eiendom is so, so kosbaar. Dankie aan diegene vir wie dit belangrik genoeg is om ons kultuur en alles wat volkseie en kosbaar is, te bewaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.