Die DNS van saameet: Wat gebeur eintlik in die agtergrond as ons saam eet

Foto: Rawpixel/Pexels.com

Deur David Muller

In deel 1 (klik hier om dit te lees) van hierdie rubriek het ek afgesluit deur te noem dat dit wat op die stoele is, baie meer waardevol is as dit wat op die tafel is. Dit laat mens egter met die vraag: “Hoekom is dit so?”. In hierdie deel van die rubriek verken ek juis dit.

Wat gebeur agter die skerms wanneer ons eet?

  1. Ons onderwerp onsself aan ’n biologiese wet vir lewensonderhouding.

Hierdie stelling mag dalk vanselfsprekend wees, maar enige lewende wese benodig voedsel om, onder meer, aan die lewe te bly. Dit is hoe God lewe ontwerp het. Ons neem daagliks deel aan ’n biologiese ritme – ’n ritme wat deur ons Skepper begin is. Dit is ’n ritme waarin ons liggame hard werk om hom-/haarself aan die lewe te hou. ’n Ritme wat energie verbrand en brandstof nodig het om dit vol te hou.

Kos is brandstof vir die liggaam. Wanneer ons brandstofliggies begin flikker, ervaar ons ’n sensasie wat ons “hongerte” noem. Terloops, hongerpyne is nie werklik die liggaam se manier om ons in te lig dat hy voedsel nodig het nie. Hongerpyne word veroorsaak deur die maag se wande wat teen mekaar skuur en sodoende ’n irritasie veroorsaak. Wanneer ons eet, druk die voedsel hierdie wande weer van mekaar af weg, en beleef ons dat ons honger gestil is. Medici beskou hierdie nie as werklike honger nie. Dit word geklassifiseer as 1 uit amper 10 “vals hongerte”-verskynsels. Werklike honger word meer met ’n aangename lus vir sekere voedselsoorte geassosieer. Hierdie lus is ’n fisiologiese hulpkreet na belangrike nutriënte.

Ongeag of ek reageer op ’n vals hongerte of op ’n werklike fisiologiese hulpkreet in die vorm van ’n lus, gee ek erkenning aan my liggaam se behoeftes deur iets te eet. Hierdeur neem ek doelbewus deel aan die ritme waarna ek vroeër verwys het. Wanneer ek deelneem aan hierdie ritme, neem ek deel aan iets wat God alleen aan die gang gesit het.

Dit maak dus nie saak hoe ons daarna kyk nie – wanneer ons onsself aan ons liggame se honger-kreet onderwerp, gehoorsaam ons onsself, direk of indirek, aan ons Skepper.

  1. Ons vier ons verbondenheid met die natuur.

Alhoewel ons maklik sê “die natuur is vir die mens gemaak, nie die mens vir die natuur nie”, moet ons tog onthou dat ons volledig deel is van die natuur net soos enige ander skepsel. Ons staan nie op een of ander wyse verwyderd van die natuur nie. Ons beleef tans ’n erge droogte. Die oomblik wanneer daar letterlik geen water vir boere beskikbaar is nie, en vee een ná die ander begin sterf, besef mens gou tot watter mate jy werklik deel van die natuur is.

Wanneer ons kos eet, geniet ons dit as ’n geskenk uit die natuur. Die natuur het oor die algemeen ’n besonder vredeliewende en versorgende charisma aan haar. Dit is waarom ons oor die natuur in vroulike terme praat. Sy is ’n moeder wat onderhou en versorg. Sy voorsien in ons behoeftes en vir verskeie smake (Dit is net ’n jammerte dat sy so suinig is met dinge soos saffraan, nè?)

Om te eet wat die natuur ons bied, is om ’n geskenk te ontvang terwyl ons daaroor feesvier.

  1. Ons versorg ons liggame.

Ek onthou baie goed hoe dit gevoel het toe ek in my matriekjaar my eerste motor gekry het. Dit was ’n Mazda Sting. Vir my was dit die beste karretjie onder die son – en dit was boonop myne. Ek sou maklik my vuil skoene uittrek en agterlaat, eerder as om daarmee in my motor te klim. Ek het hom seker twee keer per week gewas en gestofsuig. Ek onthou my pa se opmerking: “Pasop, jy gaan die verf afwas”. Ek het selfs ’n klein verfkwassie gehad waarmee ek die luggate skoon gevee het. Ek het al hierdie moeite gedoen omdat ek met my hele wese vir hierdie motortjie lief was. Hierdie liefde vir my motortjie was die dryfkrag agter my versorging daarvan.

Eers in my laat twintigs het ek werklik besef hoe noodsaaklik selfs die onbenulligste stukkie versorging ten opsigte van my eie liggaam is. Ek was altyd onder die indruk dat dit baie verwaarlosing sou vra om werklik my liggaam skade te berokken. Ek was verkeerd. Ek beskou myself as ’n relatiewe gesonde mens, dus het ek my pogings om my liggaam te koester, verslap. Te veel koffie, te min oefening en weinig bewustheid van my postuur, het nou tot ’n paar uitdagings gelei. Om eerlik te wees, wanneer ek hieroor dink, is ek geïrriteerd met myself. Dit het my aan die dink gesit: Sien ek myself nog as ’n meesterstuk; besef ek werklik hoe maklik hierdie meesterstuk beskadig kan word; is ek bereid om baie meer moeite en energie te spandeer om my liggaam op te pas?

Die menslike liggaam is vir God baie belangrik. Dit is waarom Hy nie net Jesus se gees opgewek het nie, maar ook Sy liggaam. En net soos met Jesus, word gelowiges ook liggaamlik opgewek. Wanneer ons eet, en veral gesond eet, versorg ons die meesterstuk wat aan ons toevertrou is.

Liefde is versorging en versorging is liefde.

  1. Ons demonstreer solidariteit met ander mense.

Ek het ’n professor in praktiese teologie gehad wat gesê het: “Soms is ons soos niemand anders nie, soms is ons soos sommige ander mense, en soms is ons soos alle ander mense.”

Wanneer dit by ons behoeftes ten opsigte van voedsel kom, is ons vir seker soos alle ander mense – ons het voedsel nodig. Hierdie behoefte is ’n noodsaaklikheid wat hom nie steur aan die kleur van jou vel, die geld in jou rekening of die prys van jou eetkamerstel nie. Wanneer ons saam met ander mense eet, is ons eintlik besig om te demonstreer dat daar ’n gemene deler tussen ons is, al verskil ons uiteenlopend van mekaar. Ons demonstreer dus dat ons in daardie saameetoomblik soos alle ander mense is. Hierdie demonstrasie het op vreemde wyses ’n samebindende uitwerking. Om dít saam met vreemdes te doen, is nog meer kragtig. Dit herinner my aan twee ervarings wat ek al gehad het.

Ek het reeds na die eerste herinnering verwys – die vrou in Mosambiek saam met wie ek geëet het. Ek en sy kon weens die taalverskil glad nie met mekaar kommunikeer nie, maar tog het dit gevoel asof ons iets vir mekaar sê – nie met woorde uit ons monde nie, maar met die kou van ons kos. Die saam sluk. Die saam versadig raak.

Die tweede herinnering speel in Florence, Italië af. Ek en Nadia het in 2013 in Italië gaan vakansie hou. Die ontvangsdame by die hotel waar ons gewoon het, het aanbeveel dat ons by ’n spesifieke restaurant in die hartjie van die stad moet gaan eet om werklik die plaaslike kultuur te ervaar.

Ons het vir middagete by die restaurant aangekom en is deur een van die kelnerinne na die heel agterste tafel in die restaurant gelei. Kort nadat ons ons bestelling geplaas het, kom sy daar aan met ’n wildvreemde vrou met hare wat in alle rigtings staan. Dié was ’n volbloed-Italianer, en sy word aan ons tafel sitgemaak. Ons kon haar darem in Italiaans groet en verduidelik dat ons van Suid-Afrika is deur vir haar een van ons geldnote met Mandela daarop te wys. Verder het ons nie veel gekommunikeer nie – ten minste nie verbaal nie. Maar dieselfde ervaring wat ek saam met die Mosambieker gehad het, het ek hier gehad. Nadat ons klaar geëet het, het ons die vrou aan ons tafel gegroet asof ons haar gaan mis.

Ek, Nadia, die Mosambieker en die Italianer met die hare. Ons het ʼn solidariteit met mekaar bewys deur saam te eet – wat ’n onbeskryflike voorreg!

  1. Ons stel doelbewus ons wese oop vir die genade en sorg van God.

Alhoewel ons reeds vir mekaar gesê het dat die natuur ons versorg en voed, is daar tog Iemand groter as die natuur. God – die Skepper van alles wat bestaan.

God het die natuur geskep en gevestig met ’n baie spesifieke taakomskrywing. Behalwe vir take soos om lof aan God te gee deur elke bloeisel, is die natuur ook daarmee getaak om elke lewende wese te voed. Dit is dus in gehoorsaamheid aan God dat die natuur van nature versorgend van aard is (woordspeling bedoel). Wanneer ons ons monde vir kos oopmaak, maak ons in as’t ware ons wese oop en ontvanklik vir God se genade deurdat ons Hom dit gun om ons te versorg.

Die proses van eet is anders as die asemhalingsproses. Asemhaling is ’n proses wat outomaties gebeur, sonder dat ek daarop moet konsentreer (in meeste gevalle). Dit is nie die gevolg van ’n keuse wat ek uitoefen net voordat ek, weens suurstoftekort, begin rondswaai nie. Dit gebeur net. Om te eet, aan die ander kant, is nie so nie. Ek besluit wanneer om my mond oop te maak, hoe ʼn groot hap ek gaan vat en hoeveel keer ek gaan kou. Ek besluit ook wanneer ek nie weer my mond gaan oopmaak vir nog kos nie. Persoonlik sukkel ek met hierdie keuses, maar hierdie rubriek handel nie oor belydenisse nie.

Wanneer ons die keuse uitoefen om ons monde oop te maak, aanvaar ons doelbewus die gawe van kos wat die Here aan ons skenk.

  1. Ons demonstreer ’n credo van hoop.

’n Filosofieprofessor het eendag die opmerking gemaak dat ons dagboeke die grootste leuenaars is, aangesien dit praat van ’n môre wat nog nie bestaan nie. Alhoewel ek meen dat hierdie stelling baie radikaal en effens morbied klink, steek daar tog ’n stukkie waarheid daarin. Al praat my dagboek van ’n môre wat nog nie bestaan nie, gaan ek vir seker nie die bladsye daaruit skeur en my dagboek as ’n leuenaar uitmaak en weggooi nie. Ek hou juis die bladsye oor môre en oormôre daarin omdat ek glo dat wel gaan bestaan.

Ons noem dit hoop.

Kom ons spring gou weer op die Eurorail na Italië… Ek en Nadia het in hotelle en gastehuis oornag wat ontbyt bedien het. Gedurende die dag sou ons iewers sommer ’n stuk pizza of ’n lekker broodjie koop. Aangesien die wisselkoers tussen die rand en euro daardie tyd nie in ons guns getel het nie, kon ons nie werklik weglê aan al die smullekker kosse wat Italië het om te bied nie. Ons was egter baie slim (lees: skelm). Ons het tydens ontbyt, waarvan die kostes reeds by die oornagkoste ingesluit was, ons mae volgestop sodat ons nie sommer weer sal honger word voor aandete nie. Dit het gemaak dat ons meer as tevrede was met ’n enkele sny pizza om te deel vir middagete. Wat ons vir ontbyt geëet het, het ’n integrale deel gevorm van die res van ons dag. Ten spyte van die feit dat ons die ontbyt vreeslik geniet het, was daar in ons onderbewuste tog ’n ernstige besef dat hierdie ontbyt ’n reuse-invloed het op begroting vir die res van die dag.

Terug met die trein, tot waar ons nou-nou was aan die einde van die dagboekparagraaf…

Wanneer ons iets eet, berei ons onsself voor vir dit wat nog moet gebeur. Ons voed ons liggame sodat dit energie kan opbou vir dit wat nog volg in die volgende paar ure. Dit is waarom ons liggame doodgaan wanneer ons dit nie voed nie. Kom ons veronderstel dat ons geweet het dat ons nie môreoggend sou wakkerword nie… sou ons werklik dan moeite gedoen het met vanaand se kos? Ek dink nie so nie. Ons kan daarom sê dat ons, wanneer ons ons liggame voed, glo dat ons liggame hierdie voeding nodig gaan hê iewers in die nabye toekoms. Om te glo dat daar ’n toekoms is, is om te hoop. Gebaseer op hierdie argument kan ons sê dat eet ’n demonstrasie van ’n credo van hoop is. Ons bely daarin dat ons glo dat môre (of later vandag) wel sal bestaan, en dat ons liggame daarvoor gevoed moet word.

  1. Ons beoefen ’n integrale deel van kerkwees.

Die gebruik om kos met ander te deel, is ’n gebruik wat so oud soos die berge is. Handelinge 2 vertel die verhaal van die eerste Christene en skilder vir ons ’n prentjie van wat hulle verstaan het van wat dit beteken om kerk te wees.

“Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.”

43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”

Die eerste Christene het, onder andere, hulself daartoe verbind om saam brood te breek. Om saam te eet, was nie vir hulle iets wat sommer net gebeur het nie. Hulle het dit láát gebeur. Dit was ’n doelbewuste handeling met ’n baie diep betekenis. Hierdie gelowiges het van huis tot huis gegaan, ’n gemeenskaplike maaltyd geëet, die skrifte bestudeer, vir mekaar gebid en vir mekaar vertel wat hulle van Jesus onthou. Dit het alles in ’n atmosfeer van blydskap en opregtheid geskied.

Lukas is hier besig om aan ons ’n prentjie te skets van hoe die vroeë kerk te werk gegaan het. Is dit nie noemenswaardig om te merk dat hy ook pertinent iets oor hul eetgewoontes skryf nie? Hy kon sekerlik menigte ander elemente van die vroeë kerk uitgelig het. Hoe het hulle oor leierskap binne die kerk gedink? Hoe is die skrifte bestudeer?

Maar hy maak eerder melding van hoe hulle saam geëet het. Ek reken dat hierdie feit genoeg bewys en motivering is vir die noodsaaklikheid van saameet. Wanneer ons dus saam eet, beoefen ons ’n onlosmaaklike deel van wat dit beteken om die kerk van Christus te wees.

Mag ons saameetgeleenthede meer wees as gewoonte. Mag dit die ruimte wees waar ons mekaar leer ken, bemoedig en versterk. Mag ons in elke saameetoomblik ook die saamwees met ons Skepper koester as ’n gawe.

  • David Muller is ’n teoloog, sanger, skrywer en fotograaf. Baie het hom leer ken as die “singende dominee”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.