Die impak van Covid-19 op SA se welsynsorganisasies

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Tim Marshall/Unsplash)

Suid-Afrikaanse welsynsorganisasies gaan met die uitbreking van die koronavirus (Covid-19) en die voorsorgmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding daarvan te bekamp, onder buitengewone finansiële druk gebuk.

Tekkie Tax

Só sê Germa Hattingh, nasionale veldtogbestuurder van Tekkie Tax, ʼn nasionale insamelingsveldtog wat finansiële steun aan sowat 250 ander niewinsgewende organisasies in Suid-Afrika bied. Dié organisasies sluit onder meer ouetehuise, kinderhuise, skuilings vir haweloses en diereskuilings in.

Maar, voeg sy by, Tekkie Tax-dag op 29 Mei gaan steeds voort. “Ons neem ʼn berekende risiko, want ons ontvang elke dag e-posse van 250 organisasies wat hulle tot ons wend vir hulp.”

Met markdae en geldinsamelingsgeleenthede wat op ʼn streep gekanselleer word, is dié organisasie se inkomste nou direk keelaf gesny.

“Ons het die lesers se hulp dringend nodig. Ek weet almal is bekommerd oor hul eie onmiddellike omstandighede, dit is normaal, maar ons doen ʼn beroep op die publiek om aan die weerloses te dink,” pleit Hattingh.

Talle welsynsorganisasies kry dikwels geen finansiële steun van die regering nie en maak staat op skenkings deur die publiek en geldinsamelingsprojekte. Sy verduidelik dat al sou sekere instansies finansiële hulp van die regering ontvang, die fondse vir spesifieke en vaste uitgawes geallokeer is wat beteken dat dié geld nie vir ander uitgawes aangewend kan word nie.

“Organisasies kan byvoorbeeld nie kos met geld wat vir brandstof geoormerk is aankoop nie. Tekkie Tax is egter nie voorskriftelik oor waarop organisasies die geld wat ons aan hulle gee bestee nie en hulle gebruik dus ons fondse om ander, meer noodsaaklike gate toe te stop.”

Volgens Hattingh is sommige organisasies so klein dat hulle vir ongeveer 90% van hul inkomste van Tekkie Tax afhanklik is.

Die uitbreking van die virus het ook vele uitdagings voor Tekkie Tax se deur kom lê. Nie net moes 50% van die besending van die skoenveters, wat ʼn hoofbron van inkomste vir die veldtog is, gekanselleer word nie, maar moes die materiaalbestelling vir die T-hemde ook gekanselleer word.

“Skole, wat een van die grootste ondersteuners is van die deelnemende niewinsgewende organisasies, is nou gesluit vir ʼn lang tydperk en winkels is versigtig om die Tekkie Tax-plakkers beskikbaar te stel, omdat hulle onseker is oor die onmiddellike toekomsplanne,” voeg sy by.

Besoek Tekkie Tax se webwerf vir meer inligting oor skenkings.

Solidariteit Helpende Hand

Dr. Elsja Hermann, maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand, sê die organisasie is verlig dat maatskaplike werkers deel is van die groep essensiële werkers wat steeds kan werk tydens die afsonderingstydperk wat Donderdagaand in Suid-Afrika in werking getree het.

Tog word maatskaplike werkers nou deur talle uitdagings in die gesig gestaar: Tuisbesoeke kan nie deur maatskaplike werkers gedoen word nie tensy ʼn kind se lewe bedreig word; alle pleegsorgbesoeke is gekanselleer en hofbesoeke geskied slegs vir absolute dringende gevalle. Noodsaaklike kantoorbesoeke is uiters beperk en geen kontakbesoeke tussen ouers en kinders in alternatiewe sorg word tans toegelaat nie.

Verskeie van die organisasie se liefdadigheidsprojekte, soos Help Hetta, Help Jag, Bemagtig ʼn kind en die Studiefonds, het ook talle struikelblokke om te oorkom weens die Covid-19-krisis.

“Ons het sover moontlik kospakkies aan Ons Plekke en ander individuele persone vir die totale tyd van 21 dae voorsien. Indien daar ʼn ernstige noodsituasie is, sal ons met die nodige toestemming kospakkies kan voorsien. Ons sal in hierdie tyd die nodige voorsorgmaatreëls tref om die verspreiding van die virus te bekamp,” het Hermann gesê.

“Ons voorsien egter dat die nood baie groter gaan wees ná hierdie tydperk, aangesien baie mense geen inkomste gaan verdien nie en sommiges selfs hul werk gaan verloor. Hiervoor het ons die publiek se hulp dringend nodig om nie-bederfbare produkte aan ons Josef se silo’s te voorsien.”

Maroela Media berig dat nie-bederfbare produkte soos mieliemeel, pasta, rys, soja (bees), soja (hoender), geblikte sardyne (pilchards), geblikte Weense worsies, blikkies tamatie-en-uie-smoor, geblikte groente, soppoeier, olie, sout, grondboontjiebotter en konfyt is van die noodsaaklikste kositems wat met dié projek ingesamel word.

Daar is ook ʼn groot behoefte aan toiletware soos handewasseep, toiletpapier, sanitêre ware en seeppoeier.

“Ons voorsien dat ons behoefte aan ondersteuning met betrekking tot studiehulp gaan verhoog. Ouers gaan onder groter ekonomiese druk verkeer en kinders gaan dan nie die geleentheid hê om te gaan studeer nie,” verduidelik Hermann.

Besoek Helpende Hand se webwerf vir meer inligting oor skenkings.

Cans with Purpose

Kospakkies deur Cans with Purpose gereed om versend te word. (Foto: Verskaf)

Met skole wat weens die Covid-19-isolasiemaatreëls vir weke aaneen gesluit is, is daar nou miljoene Suid-Afrikaanse leerders wat nie meer daagliks ʼn ete by die skool ontvang nie. Dit het die Stern-broers, Brad en Jared, genoop om die Cans with Purpose-inisiatief te vestig om minderbevoorregte kinders te voed.

Alle insamelings deur Cans with Purpose word geskenk aan Afrika Tikkun, wat geblikte kos en ander noodsaaklikhede aan sowat 9 000 kinders en gesinne in Mfuleni, Kaapstad, Orange Farm en Braamfontein in Johannesburg bied.

Dié inisiatief het sowat R45 000 ingesamel binne die eerste 48 uur nadat die projek van stapel gestuur is en het tot op datum R100 000 ingesamel.

“Ons het reageer op pres. Cyril Ramaphosa se uitdaging om, indien jy kan, mense wat minder bevoorreg is by te staan. Ons het die uitdaging aanvaar. Ons wil ʼn beweging begin. Individue kan Suid-Afrikaanse sake-instansies uitdaag om die saak te ondersteun deur hul uitdagings op sosiale media te plaas met #yeswecan as hutsmerk,” het Brad Stern gesê.

“Sluit aan by die rits bekendes wat reeds hul name en harte aan dié inisiatief gekoppel het,” het hy bygevoeg. Die inisiatief word ondersteun deur vooraanstaande Suid-Afrikaanse bekendes soos Lee-Ann Liebenberg, Rachel Kolisi, Gareth Cliff en Claudia Henkel.

Cans with Purpose nooi ook die publiek en sakeondernemings uit om te skenk tydens die afsonderingstydperk van 21 dae in Suid-Afrika. Die inisiatief poog om R1 miljoen vir behoeftiges in te samel.

Om te skenk aan Cans with Purpose, besoek www.superiate.com.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.