Die reise van Olof Bergh

Olof Bergh. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Sy naam duik kort-kort in ’n historiese dokument of geskiedenisboek op. As jy van hardehout hou, sal die naam Olof Bergh vir jou sonder twyfel iets beteken.

Olof Bergh is op 16 April 1643 in Swede gebore. Hy was in diens van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, eers in die Ooste, maar in 1676 land hy aan die Kaap.

Die seereis na die Kaap alleen was in baie opsigte ’n nagmerrie en groot getalle matrose het weens ontberinge omgekom. Veral skeurbuik het onder die seelui gemaai.

Die reis het dikwels maande geduur. Die latere Voortrekker-leraar Erasmus Smit se skip, die Zeenymph, byvoorbeeld, is weens erge teenwinde en seestrome tot by die kus van Brasilië gevoer, wat hulle op 8 Desember 1802 bereik het[1].

Die Kaapse owerhede wou veral meer te wete kom van die legendariese land Monomotapa en ’n groot rivier wat slegs as Vigita Magna bekendgestaan het. Later verneem hulle ook van die Cooper Bergen – die Koperberge.

In 1681 word Bergh met 18 manskappe afgevaardig vir ’n veeruilekspedisie met die Hessequas in die omgewing van De Cuijlen. Die Mauritiaanse tabak wat hy saamneem, vind groot byval onder die inboorlinge en hulle verklaar onomwonde dat hulle dit bo die vorige tipe van Brasilië verkies!

Vervolgens trek hy na Riebeeck-Kasteel waar hy 108 beeste en 24 skape ruil. ’n Leeu val egter die wit mense se kamp aan en al hul vee en twee perde neem die wyk. Hulle spoor die beeste en skape op, maar die perde is skoonveld.

Die ontdekking van koper in die teenswoordige Namakwaland is ten nouste verweef met Bergh se lewensverhaal. In Desember 1681 daag ’n groep Namakwas met koper uit hul landstreek by die kasteel op. Goewerneur Van der Stel se belangstelling is onmiddellik geprikkel en hy stuur die erts na Holland vir ontleding. Die Here XVII bevind dat dit inderdaad die ware Jakob is en beveel Van der Stel om die oorsprong van die koperneerslag in die noorde te bepaal. Daar kon net een man vir so ’n ekspedisie wees, en dis Olof Bergh, dikwels beskryf as die Kompanjie se beste amptenaar.

In Augustus die volgende jaar (1683) stuur Van der Stel vaandrig Bergh wéér na “Namaquasland”.

Die Joanna was die eerste aangetekende skip van die Engelse Oos-Indiese Kompanjie wat aan die Suid-Afrikaanse kus vergaan het – op 8 Junie 1682 by Quionpunt, ’n halfdag se stap hier van my op die suidpunt van Afrika af. Daar is sterk sprake dat die Joanna ’n waardevolle skat aan boord sou gehad het. Olof Bergh word in groot geheimhouding na die wrak gestuur, wat hy en sy span op 30 Junie bereik.

Bergh “red” dadelik 80 bottels brandewyn. Is dit hoekom ons vandag Olof Bergh-brandewyn kry? Behalwe vir hierdie stooksel, red hy ook twee kuipe skeepsbier, ’n kuip wyn en twee pype mombier. Ongeag die drank, kon Bergh se werkgewers tevrede gevoel het met wat hy met die hulp van ’n pêrelduikerslaaf, Pay Mina, geberg het, want hy stuiwer die Kompanjie se koffers aan met “7 400 Meksikaanse real, 2 000 perilese real, en 34 real ter waarde van 102 gulden”.

Maar ’n ander skeepsramp laat beland Olof Bergh as gevangene op Robbeneiland. Op 16 April 1686 – dieselfde jaar toe hy tot lid van die Politieke Raad benoem is – strand die Portugese skip  Nostra Signora de los Milagnos, naby die huidige Struisbaai.

Aan boord is drie Siamese afgesante met geskenke soos goud en diamante van koning Phra Narai van Siam vir die Franse Sonkoning Louis (Lodewyk) die Veertiende en Charles (Karel) die Tweede van Engeland.

Die oorlewendes bereik die Kaap ná ’n moordende trek en op 9 Julie reël die goewerneur dat luitenant Olof Bergh (let op sy rang teen hierdie tyd) die skeepsvrag moet berg, aangesien hy (goewerneur Van der Stel) nou reeds weet van skatte en kosbaarhede op die skip. Hierdie poging moes in die grootste geheimhouding van stapel gestuur word sodat die Siamese nie hul eiendom kan terugeis nie.

Maar ondertussen het Bergh en sy vrou Anna de Koningh (van Bengaalse afkoms[2]) met die Siamese (ook Mandaryne genoem) bevriend geraak wat toe onthul dat die Portugese hulle erg in die steek gelaat het op hul reis van die wrak na die Kaap.

Teenstrydig met die goewerneur se standpunt dat die skeepsbuit nou aan die Kompanjie behoort, besluit Bergh uit simpatie met die Siamese om persoonlike besittings, “in veilige bewaring” te neem. Met sy terugkeer gee Olof aan sy vrou ’n paar goue koppies en ’n silwer skinkbord wat sy vir die Siamese moet hou. ’n Kissie met die gewei van die skaars Kasturis-muskushert wat glo helende krag besit, word in die tuin begrawe. Die bergingspan rapporteer egter dat die wrak reeds oopgebreek was en hulle nie veel kon red nie, behalwe, onder meer, ’n paar skeepskanonne en ankers.

Die goewerneur is briesend, veral toe hy verneem dat lede van die bergingspan goud en juwele in die Kaap verkwansel. Bergh word gearresteer en in die Kasteel aangehou. Ná ’n maand in aanhouding daar, erken hy op 5 Mei 1687 sy skuld en die gesteelde goed van die wrak word in sy tuin opgegrawe en hy (saam met ’n aantal medepligtiges) word summier na Robbeneiland verban.

In September 1690 word hy vrygestel en vertrek daarna saam met sy vrou na Ceylon, waar hulle vyf jaar woon. Hulle vertoef vir vyf jaar daar voordat hulle weer na die Kaap terugkeer

Hierdie avonturier en baanbreker word uiteindelik welverdiend tot die rang van kaptein bevorder en word weer benoem tot lid van die politieke raad. Later word hy vereer met ʼn sitting op die raad van justisie. Hy is op 19 Julie 1725 in Kaapstad ná ’n vol en kleurryke lewe oorlede.

Olof Bergh se naam kan inderdaad in groot letters in ons land se geskiedenis geskryf word en dis nie net omdat dit ’n goeie brandewyn is nie!

Bronne:

Böeseken, A.J., Onder Suidersterre, 1981

De Jongh, P.S., Die Lewe van Erasmus Smit, 1977

Grobbelaar, Jeanette, Skeepsrampe aan die Agulhas-kus, 2012

Liebenberg, Helena, Stories and Tales in VOC Journals, 2017

Elektronies:

https://af.wikipedia.org/wiki/Olof_Bergh

www.grootconstantia.co.za

Voetnota:

[1] Dit het Erasmus Smith twee jaar en 26 dae geduur om die Kaap van Nederland te bereik. Behalwe, onder meer, storms en skeurbuik wat die opvarendes moes trotseer, is hul skip ook deur ’n Engelse kaper gekelder.

[2] Anna de Koningh was die dogter van ’n slavin, Angela van Bengale (wat in Indië gebore is), en kaptein David de Koninick (spelling-variant) van die Drommedaris. Angela was die eerste bevryde swart persoon wat grond aan die Kaap besit het en ook die eerste vrou om die wynplaas Groot Constantia te besit. Anna en Bergh het elf kinders gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Inge Bergh Ferreira ·

Dankie vir die stukkie geskiedenis.
My pa se naam was Olof Bergh en was radio-omroeper by die SAUK in die veertigs/vroeë vyftigs. Daar is ‘n boek “Anna van Bengale” geskryf deur Theresa Benade.

Honey Bee ·

Beter brandewyn sal jy nie kry nie. Proe soos neckter op die tong. Nou bietjie dors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.