Die reuk van vars ink

skryf 2

Argieffoto.

So kruis my pad onverwags met ʼn vroutjie van 85, wat brei en blokkiesraaisels invul en daagliks 4 km stap.

Ongelooflik. Dat ʼn mens jou kop so jeugdig kan hou op so ʼn ryp ouderdom. Sy beduie dit is genade dat sy, hoewel nie altyd gesond nie, gewoonlik besig kan bly en sodoende nie tyd het om oor die ouderdom en skete te tob nie. En dit wat sy brei verkoop sy nie, maar gee vir vriendinne en minderbevoorregtes. Terwyl ek haar so liggies pols of sy haarself met nog iets besig hou, glimlag sy. Sy het penvriende. 103 van hulle dwarsoor Suid-Afrika. Met hierdie een sin het sy my volle aandag.

Penvriende …?

Dit voel asof dit uit ʼn wêreld baie ver van die moderne mens se bestaan is. Iets wat uit jare gelede se dae kom. Om ʼn skryfblok en pen uit die laai te haal en by ʼn tafel te gaan sit en ʼn brief te skryf. Om die reuk van vars ink op papier te ruik en die gekreukel van die papier onder jou vingers te voel. Om na die posbus op die hoek te stap en die brief te gaan pos. Om na jou eie posbus toe te stap en iets anders as rekeninge te verwag. Wat ʼn wonderlike gedagte!

Terwyl sy gesels oor hoe hulle rekord hou van wie wanneer ʼn brief ontvang en gepos het, wonder ek hoeveel mense nog penvriende het. Waar jy die epos opsy skuif en gaan sit en ʼn lekker kuierbrief skryf. Waar jy die nuutste nuus op geduldige bladsye uitblaker en hier en daar ʼn geheim mag uitlap.

Ja, die risiko dat jy nie ʼn brief gaan kry nie, bestaan wel, verduidelik die bejaarde vroutjie met ʼn vonkel in haar oë. Maar omdat almal rekord hou van wie wanneer laas geskryf het, kry jy oproepe van mense wat na jou welstand verneem – juis omdat hulle in ʼn geruime tyd nie ʼn brief ontvang het nie. En so hou almal ʼn oog oor mekaar, sonder dat hulle waarskynlik ooit ʼn oog op mekaar sal lê.

Met 103 penvriende wat sy oor die afgelope 20 jaar versamel het, skryf sy gemiddeld een brief op ʼn dag. Ek wonder heimlik hoe ek gaan weet wat ek wanneer vir wie geskryf het, maar blykbaar kry sy dit steeds op so ʼn hoë ouderdom reg. Dit is ook nie net bejaarde mense wat haar penvriende is nie, sommige mense is jonk met skoolkinders. Dit is wel ʼn uitdaging om skryfblokke in die hande te kry en die posdiens laat veel te wense oor. Dit bring haar egter nie van stryk nie – net soos die res van haar penvriende dwarsoor die land.

Meer oor die skrywer: Karin Muller

Karin Muller is getroud en het twee tieners. Sy skryf ʼn weeklikse rubriek en artikels vir die Noordkaap, en nou en dan rubrieke vir Volksblad en Bloemnuus. Die hoogtepunt van haar skryfloopbaan was toe haar pad in 2012 met dié van Koos Kombuis in ʼn gedigtekompetisie gekruis het.

Deel van: Gesondheid, Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Wat-ek-lees ·

So ook die hou van ‘n dagboek is vandag uitsonderlik. Ek het ‘n tannie gehad wat tot in haar negentigs getrou dit gedoen het. Dit was dus maklik om na te slaan wie (en wanneer) vir haar kom kuier het.
Dan is daar ook die “Autograph”-boek waar vriende en kennisse iets vir/oor jou kon skryf. Die afrikaanse woord ‘handtekening’ pas nie mooi hier.
Ek het ‘n Autograph van Lana/Lenie Bosman (1896-1933) van ongeveer ‘n eeu gelede. Dit dateer uit ‘n tyd toe sy ‘n student was aan die Heidelbergse Onderwyskollege.
Daar moet tog ‘n plek wees vir die veilige bewaring van sulke items, weg uit die pote van die wat net wil vernietig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.