Duitse oorlogweeskind kyk terug op ryk lewe

Marion du Toit as klein dogtertjie. (Foto: Verskaf)

As tweejarige dogtertjie het Marion du Toit (gebore Maasch) in 1948 saam met nog 88 ander Duitse weeskinders in Suid-Afrika aangekom.

Dit was kort ná die Tweede Wêreldoorlog: Duitsland was in armoede en ellende gedompel; alles daar was vernietig en daar was geen kos in die huise nie.

Om ʼn uitkoms aan hawelose kinders te bied, is ʼn Duitse kinderfonds in Suid-Afrika gestig. Ná vele onderhandelings is 89 Duitse kinders na Suid-Afrika gebring.

“Ons is weggeneem van ons ouers en is bang en vol vrees per trein na Engeland gestuur. Vandaar is ons per see met die Union Castle die onbekende in en op 8 September 1948 het ons in Kaapstad aangekom,” onthou die 75-jarige Marion.

Sy is op 14 September 1948 deur Gert en Lena Strauss, haar Afrikaanse aanneemouers, in Pretoria ontvang. Sy was maar twee jaar en drie maande oud.

“My ouers het, net soos die ander, aansoek gedoen en die keuringsproses geslaag. Op daardie stadium was hulle kinderloos. Hulle het op die plaas Klipfontein in die Leeudoringstad-distrik geboer. Drie jaar later was my wêreld volmaak met die geboorte van ʼn boetie, Gert,” vertel sy.

Marion du Toit. (Foto: Verskaf)

Volgens Marion kon sy en haar broer nie vir beter ouers gevra het nie. “Ek onthou hulle as ware staatmakers in die gemeenskap en diep Christene wat ons as kinders gekoester het en ʼn goeie opvoeding wou gee.”

Sy onthou ook hoe sy skool-skool met haar ma se mooi tuinblomme gespeel het. “Ek het die arme blomkoppe afgeslaan wanneer hulle nie ‘geluister’ het na wat die juffrou vir hulle vra nie. Ek vermoed ʼn onderwysloopbaan het nog altyd vir my gewink.”

As kind het sy oral saam met pa Gert rondgery. Sy het ook graag geneurie en gesing wanneer sy op die plaas rondgeloop het en hy het altyd trots gesê sy moet musieklesse neem wanneer sy skool toe gaan.

Toe sy ses jaar oud was, en haar boetie maar 18 maande, is haar pa in ʼn fratsongeluk met ʼn bul dood.

“My liewe ma het ons verder alleen grootgemaak, sonder dat sy ooit gewerk het. Ek is só dankbaar vir haar en ook vir die geleentheid wat sy my gegee het om musiek te kon gaan studeer aan die onderwyskollege op Potchefstroom.

“My pa se musiekdroom vir my het my lewe koers gegee. Aan die einde van gr. 1 het Mamma vir ons ʼn klavier gekoop, en daar speel ek!”

Marion du Toit as klein dogtertjie saam met haar aanneemouers, Gert en Lena. Bababoetie Gert is ook op die foto. (Foto: Verskaf)

Marion speel klavier, blokfluit en orrel, maar is veral mal oor sing. Haar loopbaan as musiekonderwyseres het in 1969 by Laerskool Wolmaransstad afgeskop.

Daarna het sy ʼn pos by die Hoër Tegniese Skool aanvaar en in 1989 het sy die vakhoof van musiek by Hoërskool Wolmaransstad se musieksentrum geword.

In 2014 het sy ná 45 jaar afgetree as alombekende musiekonderwyseres op dié plattelandse dorp, en die volgende jaar ʼn trotse inwoner geword van Ons Tuis: Andries Marie Oosthuizen op Parys.

Dit is hier waar sy vir Pieter du Toit ontmoet het en hulle is in 2017 getroud.

Marion was voorheen twee keer getroud en is geseën met twee kinders.

Haar dogter Heléne is op 8 September 1972 gebore — presies 24 jaar ná Marion se aankoms in Suid-Afrika. Sy het twee kleinseuns en twee agterkleinkinders.

“Dit wat met my as ʼn tweejarige gebeur het, is nie iets wat ek agter my wil sit nie. Jou verlede vorm wie jy is, maar maak nie wie jy word nie.”

Marion du Toit en haar man, Pieter. Hulle is in 2017 getroud. (Foto: Verskaf)

Marion het steeds kontak met van die ander kinders wat destyds saam met haar op die skip na ʼn nuwe lewe gestuur is, maar het geen kontak met haar Duitse familie nie.

“Pa Gert het gesê my Duitse van, Maasch, moet my tweede naam word. Hy het gevoel dat ek iets van my verlede altyd met my moet saamdra.”

Marion se motto in die lewe is om alle kinders met liefde te omring en dit wat sy aanpak deeglik, akkuraat en perfek uit te voer.

Haar raad aan ander weeskinders is om altyd jou aanneemouers te eer, te respekteer en te waardeer. “Dank die Vader elke dag dat daar mense is wat hulle liefde aan jou wil gee en jou altyd wil koester. Wees bly dat jy nie op straat beland het nie.”

Marion wens en glo dat die Vader haar daarin sal help om eendag 100 jaar oud te word. “Dan sal die ouetehuis my sekerlik bederf met ʼn heerlike koek en tee,” sê sy laggend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Niklaas ·

Dis nou so ‘n lekker lees verhaal van baie seëninge en geluk wat hierdie kind destyds getref het

ABDP ·

Pragtige lewens verhaal. Daar was in die verlede baie slegte en moeilike tye, net soos vandag. As hierdie wonderlike dame dit kon deurmaak, sal ons ook mos kan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.