11-jarige wen gesogte prys vir robotgrafika

Jan Louwrens, ʼn gr. 5-leerder aan Curro Online, het die prys vir die beste spesiale projek in die Covid-19-kategorie by African Digital Media se toekenningsgeleentheid gewen (Foto: Verskaf)

Dit is nie aldag dat jy as 11-jarige reeds met ’n gesogte digitale toekenning vir jou innoverende robotgrafika kan spog nie.

Maar vir Jan Louwrens, ʼn gr. 5-leerder aan Curro Online, het dié eer onlangs te beurt geval toe hy die prys vir die beste spesiale projek in die Covid-19-kategorie by African Digital Media se toekenningsgeleentheid gewen het.

Die kompetisie is in samewerking met die digitale landbounuuswebwerf Food For Mzansi aangebied.

Louwrens het saam met ander leerders aan die projek gewerk. Dit bestaan uit verskeie komponente wat ʼn podsending, gereelde nuuswenke en ’n tekenprentreeks genaamd Battle of Covid-19 insluit. Louwrens was vir die tekenwerk verantwoordelik. Dié Paarliet se strokiesprent is in al elf landstale vertaal, en in ʼn Duitse televisieprogram verwerk.

Oor die prestasie van hulle span tydens die African Digital Media-toekennings sê Louwrens: “Toe hulle die wenners aankondig, het ek eers gedink dat dit iemand anders was wat gewen het, maar toe hoor ek die gejuig en besef dat dit ons is.”

Hy sê die skepping van Kaptein Bly-Veilig was ’n bietjie ingewikkeld.

“Ek moes ’n unieke robotkarakter uitdink wat by ’n Covid-19-tema pas, maar toe ek eers die idee geskets het, was die res maklik,” vertel hy.

Dit is nie die eerste keer dat Louwrens se robotontwerpe help om die Covid-19-pandemie te bestry nie. Een van sy ander onlangse skeppings is op die etiket van ViroGOLDSchool se handreinigingsreeks gebruik. Dit word landswyd in skole gebruik om oppervlakke te ontsmet en leerders teen die virus te beskerm.

‘n Voorsmakie van Jan Louwrens se tekenprentreeks genaamd ‘Battle of Covid-19’ (Grafika: foodformzansi.co.za)

Louwrens is dus reeds ʼn kranige ontwerper. Sy robotte en hul unieke stories het ook gelei tot die totstandkoming van sy eie aanlyn onderneming Baggo Stonetrip. Afdrukke van Louwrens se robotontwerpe word op T-hemde en kappietops gedruk. Dit word dan in kinder- en volwassegroottes vervaardig en aanlyn verkoop.

Louwrens en sy span dring deur na die finale rondte van die World Digital Media-toekennings waar hulle teen die wenners van ander lande sal meeding.

Curro Online is trots op Louwrens se prestasie en wens hom alle sterkte toe vir die res van die kompetisie.

“Louwrens en sy innoverende skeppings wys hoe kreatiwiteit en passie tot ongelooflike dinge kan lei. Ons glo dat die sukses van sy span by die African Digital Media-toekennings ’n inspirasie vir al ons leerders sal wees, en ons wens hulle sterkte toe vir die komende World Digital Media-toekennings,” sê Jay Paul, sakebestuurder van Curro Online.

Klik hier om Louwrens se bekroonde strokiesprent Battle of Covid-19 aanlyn te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.