97-jarige ystervrou pak glykabel ʼn tweede keer aan

Marie Fick het die Mosselbaai-glykabel ‘n tweede keer aangedurf. (Foto: verskaf)

Daar is drie dinge wat die 97-jarige Marie Fick as haar behoud beskryf: oefening, om gesond te lewe en die genade van die Here.

Dié inwoner van die Lofdal-aftreeoord in Bloemfontein het vroeër vandeesmaand die alombekende Mosselbaaise glykabel aangedurf en sommer in die proses haar eie rekord vir die oudste persoon wat al dié aktiwiteit aangepak het, gebreek.

Die Mosselbaaise glykabel van sowat een kilometer lank strek oor die Indiese Oseaan en is die langste van sy soort ter wêreld.

“Dit sal baie lekker wees, ek het dit darem vreeslik geniet die eerste keer,” het ʼn lewenslustige Marie aan haar dogter, Mariaan Joubert, gesê toe die voorstel om die glykabel ʼn tweede keer aan te durf op die tafel beland het.

Marie het dié senutergende aktiwiteit ʼn paar jaar gelede vir die eerste keer op die ouderdom van 94 aangedurf. Die organisasie aan’t stuur van die glykabel gebruik nou nog Marie se foto as bemarking, en dit het Mariaan laat wonder of hulle nie bereid sou wees om haar ma vir ʼn tweede rit te borg nie.

“Sy het beslis nie ʼn bang haar op haar kop nie,” vertel Mariaan aan Maroela Media.

“Dit was lekker om haar 97ste verjaardag só te kon vier. My ma is ʼn baie nederige en diep gelowige mens. Sy het hierdie rit aangepak as ʼn dankbetuiging aan die Here vir haar gesondheid.

Die wolke het dig bo hulle koppe gesit die dag waarop hulle die glykabel vir die tweede keer moes aanpak, vertel Mariaan.

“Ek het nog gewonder of ons nie dalk eerder moet omdraai nie. My ma het egter die Bybel oopgeslaan, ʼn versie gelees en bloot gesê: ‘Nee wat, die Here het aan my bevestig ons kan maar gaan.’ Daar aangekom, was daar nie een enkele wolkie bo ons nie.”

Maria, haar dogter Mariaan en ‘n instrukteur by die Mosselbaai-glykabel. (Foto: verskaf)

Dit mag dalk ʼn senutergende aktiwiteit wees, maar vir Marie was dit nie ʼn druppel in die emmer teenoor die vreesaanjaende water van die Oranjerivier wat sy as klein dogtertjie moes oorsteek nie.

Marie het in die omgewing van Prieska en Griekwastad grootgeword en moes as laerskooldogtertjie die rivier, wat dikwels onstuimig was, op ʼn pont oorsteek. Sy onthou dit vandag nog as iets wat haar die bangste nóg gemaak het.

Mariaan vertel haar ma was haar lewe lank nog aktief – trouens, daar was nie ʼn dag in haar lewe wat sy nié geoefen het nie. Sy het tot diep in haar sewentigs nog gereeld gedraf en doen vandag steeds water- en ander oefeninge om aktief te bly.

Marie spog vandag met sewe kinders, waarvan vyf nog lewe, 11 kleinkinders en 6 agterkleinkinders.

Sy en haar oorlede man, Uys Fick, het jare lank sendingwerk in onder meer Zambië en Zimbabwe gedoen. Lateraan, toe Uys sy vyftigerjare tref, het hy besluit om nie net meer aktief te wees nie, maar om die Comrades-marathon aan te pak.

“Mense het hom altyd die drawwende predikant genoem,” onthou Mariaan haar pa, wat in 2012 in die ouderdom van 88 oorlede is.

“Hy was baie bekend in die gemeenskap terwyl hy nog geleef het.”

Marie het pas haar lisensie laat hernu. (Foto: verskaf)

Mariaan is veral trots daarop om te sê haar ma het vroeër vandeesmaand haar bestuurslisensie hernu.

“Die lisensie sal geldig wees totdat sy ʼn 102 word – wie kry dit op hierdie ouderdom nog reg?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jeanette ·

My genade die ou Tante lyk nog goed, Tannie mag jy sommer 197 jaar oud word hoor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.